Daar ís lewe vir SA, Brittanje ná Brexit
DIE hoop wat mnr. Malusi Gigaba ( foto), Minister van Finansies, op die grondplafon-wetgewing plaas om landbou transformasie te versnel en Suid-Afrika se ekonomiese verknorsing te verlig, is heeltemal misplaas en stel boonop heeltemal onrealistiese tydraamwerke, meen kenners.
Gigaba se 14-punt-aksieplan is veronderstel is om ’n blitsige ommekeer in die Suid-Afrikaanse ekonomie te bewerkstellig, maar is wyd gekritiseer omdat dit geen daadwerklike oplossing bied vir die enorme stremming wat staatsbeheerde maatskappye op die ekonomie plaas nie.
Mnr. Wandile Sihlobo, hoof van ekonomiese en landbou-inligting by die landbousakekamer Agbiz, sê Gigaba se klem op die wetsontwerp op die regulering van grondbesit bring onsekerheid mee, want dit geniet voorrang bo bemagtigingsregulering, soos die uitreiking van die finale sektorkodes vir AgriSEB. Die Regering wil deur dié wetgewing die grootte van eiendomme beperk en grondbesit deur buitelanders reguleer.
Mnr. Theo Boshoff, bestuurder van regsinligting by Agbiz, sê ook die regulering van grondbesit is skynbaar Gigaba se antwoord om die herverdeling van grond te bespoedig. Agbiz meen egter die wetgewing sal Suid-Afrika laat terugbeweeg na ’n voorsieningsgegronde grondhervormingsprogram pleks van een wat op vraag gegrond is.
INGRYPINGS
Boshoff sê die Nasionale Ontwikkelingsplan se visie vir grondhervorming verwys na ’n program waar die begunstigde eerste daar moet wees. Dan eers moet grond gesoek word wat die begunstigde se behoeftes pas.
’n Grondplafonwet sal só ’n werkswyse ondermyn omdat die departement dan begunstigdes sal moet vind vir die lappies grond wat hy moes afsny waar die plaasgrootte bo die grondplafon was. Boonop word die behoefte van die begunstigde nie bepaal nie.
“Dit sal Suid-Afrika in ’n situasie plaas waar ’n passiewe stelsel tot ’n aantal verspreide lappies grond lei en ons gedwing sal word om die beskikbare begunstigdiges op daardie grond te plaas, of dit nou in hul behoeftes voorsien of nie,” sê Boshoff.
Begunstigdes word ook verhinder om voordeel te trek uit skaalekonomie.
BERAAD VOORGESTEL
’n Ander ingryping wat Gigaba voorstel, is dat daar teen Desember ’n beraad vir die finansiële sektor gehou moet word om transformasieteikens vir lae-inkomstebehuising en die landbou te bespreek.
In reaksie op dié voorstel sê mnr. Cas Coovadia, besturende direkteur van die Bankvereniging van Suid-Afrika, in ’n artikel op Moneyweb dat so ’n beraad vir April aanstaande jaar in die vooruitsig gestel word, in afwagting op navorsing wat eers voltooi moet word.
Gigaba wil ook hê die grondplafon-wetgewing moet reeds in Oktober by die Parlement ingedien word. Dié doelwit word allerweë as onhaalbaar beskou. Die wetsontwerp is reeds in voorstelvorm, maar ’n maatskaplik-ekonomiese impakevaluering is nog nie gepubliseer nie. Dié studie moet die impak van die wetsontwerp omskryf. Dit sluit ’n kosteberaming in, wat onontbeerlik is om ingeligte kommentaar op die wetsontwerp te kan lewer.
WETSVERTRAGINGS
Wat Gigaba se tydraamwerk vir die indien van die wetsontwerp verder oorambisieus laat lyk, is dat dit nog deur die arbeidsforum Nedlac hersien moet word. Hierdie proses alleen kan tot drie maande duur.
Daarna moet die Kabinet, waar dit etlike maande kan talm, dit nog goedkeur voor dit na die Parlement geneem kan word.
Sihlobo sê in die algemeen doen die aksieplan nie genoeg om beleggersvertroue te wen nie, siende dat ekonomiese bekommernisse, soos regeringsbestuur en die finansiering van staatsinstellings, nie aandag kry nie.
‘Die regulering van grondbesit is skynbaar Gigaba se antwoord om die herverdeling van grond te bespoedig.’