Landbouweekblad

Angus gesels

- ANGUS GESELS ANGUS BUCHAN

Voor ek preek, begin ek altyd met ’n aanhaling uit Ps. 19:15: “Mag wat ek sê en wat ek dink tog vir U aanneemlik wees, Here, my Rots en my Verlosser.” Ek wil hê die Here moet waak oor wat ek sê en ook wat ek nié sê nie.

Daar is tans baie afbrekende praatjies in ons geliefde Suid-Afrika en dit is onprodukti­ef. Dit help nie jong mense wat begin boer om op koers te bly en die wedloop vir hulself en hul kinders te hardloop nie.

Spr. 4:24-27 sê: “Weerhou jou van leuens, moenie mense mislei nie. Hou jou oë op die pad vorentoe, kyk reg voor jou uit. Baken jou koers af, dan sal jy seker wees van elke tree. Moenie links of regs wegdraai nie, weerhou jou van die verkeerde koers.”

Bly weg van misnoegde mense en bestee jou tyd eerder saam met mense wat ’n Goddelike beskouing oor die toekoms van hierdie land het.

Afbrekende praatjies is aansteekli­k; so ook opbouende gesprekke.

Die Bybel sê yster slyp yster. Ons moet in die geloof wandel (2 Kor. 5:7) as ons die mandaat gaan uitvoer wat God vir hierdie Christenna­sie in Suid-Afrika gegee het.

Onthou, die enigste ding wat die duiwel kan doen, is om leuens te vertel. As jy na sy leuens luister, sal hy jou vermink en uiteindeli­k met sy misleiding doodmaak.

As jy ’n groot droogte ondervind, soos die afgelope tyd, vertel die duiwel jou jy gaan bankrot speel. Dit gaan nie noodwendig gebeur nie. Terwyl ek dié rubriek skryf, loop die Vaaldam oor, maar as iemand dit ses maande gelede vir ons vertel het, sou ons gesê het dit is onmoontlik. Jy sien, die Here is die God van onmoontlik­hede.

Onthou, jou houding bepaal jou sukses. As ons optree soos die Here van ons vra, sal ons slaag. Dit staan nêrens in die Bybel dat ons nié beproewing­e sal hê of dat ons nié getoets sal word nie. Paulus sê in Rom. 5:3-4: “Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop.”

As jy glo God wil hê jy moet in dié mooi land aanbly, moet jy jou produksie verhoog, jou drome bewaarheid en jou deur niks laat terughou nie.

Lekker boer.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa