Werk saam om dié krisis op te los
Die Wet op die Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg (Wet 62 van 1997, ook bekend as Esta), het die situasie vir álmal in landelike gebiede slegter gemaak, skryf die wynboer PETER DE WET.
Esta-wetgewing het boere van heelwat regte ontneem wat betref wie in ’n huis mag woon. Dit verhinder boere om mense uit te sit wat geen reg het om in plaaswerkershuise te woon nie. Die regsproses duur meer as vier jaar, waartydens oorbewoning elders in die gemeenskap toeneem.
Al word boere wetlik verplig om oorbewoning te voorkom, het hulle geen magte om bewoners uit te sit nie omdat die regsproses onredelik lank en dikwels onbekostigbaar is. In die algemeen reageer boere op dié situasie deur nie meer nuwe huise te bou nie en om leë huise plat te stoot. Dit het die behuisingstekort drasties vererger.
Vanuit werkers se oogpunt het die wet nie aan hulle volwaardige regte toegeken nie omdat hulle nie die eiendom besit nie en hul lot steeds in die boer se hande is. Die gehalte van die behuising word ook nie deur hulle bepaal nie, en dit versterk die paternalistiese stelsel op plase. Hul volwasse kinders het geen opsie om die huis te verlaat nie, want daar is geen alternatiewe nie. Uiteindelik woon veelvuldige generasies onder een dak.
Ek het ’n baie oop verhouding met my personeel en hulle sal graag wil hê dat hul volwasse kinders die huis verlaat wanneer hulle hul eie gesinne begin. Hulle wil egter ook nie hul kinders wegstuur om in onsekere omstandighede in ’n plakkershut op die dorp te gaan woon nie.
BEHUISINGSNOOD
Esta plaas die finale onus om maatskaplike behuising te verskaf op die munisipaliteit. Heelwat hofsake het dié verpligting bevestig, soos die Grondwethof-uitspraak van 7 Julie (sien berig op bl. 14).
Munisipaliteite maak steeds onvoldoende voorsiening vir die groeiende behuisingsnood. Daarmee saam het die Regering gesê hy gaan meer klem lê op sogenoemde oorbruggingsbehuising (gap housing) vir mense wat R3 500 tot R15 000 per maand verdien en dat jonger mense nie gratis behuising kan verwag nie.
Waar laat dit ’n 25-jarige plaaswerker vandag? Hy kan nie in sy eie formele huis woon nie, tensy hy aanhou om by sy ouers te woon.
Daar ís gevalle waar ’n wettige uitsetting geregverdig is. Die media konsentreer egter toenemend op ’n enkele uitsetting op ’n plaas waar daar in alle waarskynlikheid 20 tot 200 mense woon. In sommige gevalle is die verhale werklik hartseer en onwettige uitsettings vind wel plaas. Daar is egter selde massa-optrede deur die gemeenskappe ter ondersteuning van dié wat uitgesit is – waarskynlik omdat daar gewoonlik ’n geldige rede vir die uitsetting is.
MOEILIKE BESLUITE
Neem byvoorbeeld die geval van die Gova-susters wat op my familieplaas naby Robertson in die Langeberg-munisipaliteit woon. Albei hul ouers het vir ons gewerk. Hul pa, Ernest, is sowat 30 jaar gelede oorlede, en ons het sy vrou, Emily, toegelaat om op die plaas aan te bly – lank voor Esta. Ons het geglo dit is die etiese ding om te doen, en ons volg steeds dié beginsel vir alle afgetredenes.
Emily is in Mei oorlede. Haar dogters het by haar gewoon, maar het nooit verblyfreg gehad nie. Ek het hulle sowat twee jaar gelede ingelig dat hulle na ander blyplek moet begin soek, aangesien hulle nie verblyfreg het ná hul ma se afsterwe nie. Hulle was dus bewus van die situasie.
Ek kon ook voorsien hoe die situasie gaan ontvou. Hulle het my gesê dat hulle nie van plan is om ’n alternatief te soek nie, wat my met weinig opsies laat. Ek is ook ten volle bewus daarvan dat daar inderwaarheid geen alternatiewe is nie omdat die munisipaliteite nie, soos van hulle verwag word, genoeg behuising voorsien nie.
Albei susters is jonger as 60, dus is Esta nie op hulle van toepassing nie. Ek moet hulle 12 maande kennis gee, en ek sal dit doen. Maar die uitkoms sal dieselfde wees as wanneer ’n hof ’n uitsetting toestaan. Twee middeljarige vroue sal geen heenkome hê nie, wat aaklig is.
Net so aaklig is dat een van my werknemers wat ’n gesin van sy eie begin het, tans op die vloer van sy ma se huis moet slaap omdat ons nie aan hom verblyf kan voorsien nie. As hy op die munisipale behuisingslys moet gaan, sal hy 72 jaar wag. Daarom het hy nie eens moeite gedoen om aansoek te doen nie. Dit het my gedwing om kant te kies, en ek moet my werknemer se kant kies.
‘As hy op die munisipale behuisingslys moet gaan, sal hy 72 jaar wag. Daarom het hy nie eens moeite gedoen om aansoek te doen nie.’
SAMEWERKING
Dié soort probleme word veroorsaak deur ’n gebrek aan beskikbare behuising. Almal van ons–boere, munisipaliteite, nie regeringsorganisasies, vakbonde en die sakegemeenskap – moet saam ’n oplossing soek, anders gaan ons in ’n eindelose siklus van konflik met mekaar verval.
Daar is ’n tekort van nagenoeg 10 000 huise in die Langeberg-munisipaliteit. Dit kos sowat R150 000 per huis van 50 m2 (dit is groter as die huidige HOP-huise). Dit sal dus nagenoeg R1,5 miljard kos om voldoende behuising in die gebied te voorsien.
Die munisipaliteit het nie naastenby genoeg geld daarvoor nie, maar as ons hulpbronne kan begin saamgooi en geld van buite kry, kan ons êrens kom.
As alle ondernemings met ’n omset van meer as R10 miljoen 1% van hul wins ná belasting aan’ n maatskaplike belasting afstaan en 2% aan ondernemings ontwikkeling vir S EB-doeleindes–wat in ons gebied baie wyn-en vrugte verpakkings ondernemings sal insluit–kan dié geld gebruik word om huise te begin bou met plaaslike boukontrakteurs. Ondernemings kan hul SEB-punte kry en ons kan begin om die behuisingskrisis op te los.
BOERE SKENK GROND
Die munisipaliteit beweer een van die grootste struikelblokke wat keer dat hy behuising uitbrei, is die gebrek aan genoeg geskikte grond. Boere het reeds probeer om ’n groot stuk grond aan die munisipaliteit te skenk. In ruil daarvoor sou hulle behuising – met titelaktes – vir hul werknemers kry en die munisipaliteit sou ekstra grond hê vir tot 1 000 huise. Daar het dadels van gekom. Ek weet egter van boere wat steeds bereid is om dié pad te volg.
Bogenoemde is net rowwe voorstelle, maar a son smeer behuising kan voorsien, sal die uitsettings kwessies verdwyn. My werkers sal dan hul eie huise weg van die plaas af kan kry as hulle wil. In so ’n situasie sal ek nie in ’n posisie wees waar ek moet kies vir wie ek verblyf gee nie. Ons kan ook begin om die paternalistiese stelsel wat op plase bestaan, af te breek. Werknemers sal kan kies om elders te woon.
Mnr. Peter de Wet boer op die plaas Excelsior buite Robertson. Hy het dié artikel vir die webwerf
GroundUp.org geskryf in reaksie op ’n artikel oor die Gova-susters se uitsetting.
‘Twee middeljarige vroue sal geen heenkome hê nie.’