DNS-toetse hét waarde vir stoettelers
Hoekom is DNS-ouerskaptoetse nodig en is dit betroubaar? DR. MICHEL LABUSCHAGNE van die Bloemfonteinse toets laboratorium Clinomics werp lig op dié toetse en wat dit vir boere kan beteken.
DNS-gebaseerde ouerskapanalise help ’n stoetteler om sy teelprogram te bevestig sodat hy sy teeldoelwitte kan behaal en finansiële vooruitgang kan bewerkstellig. Sonder vertroue in die resultate van DNS-ouerskapstoetse is daar egter geen waarde vir die boer nie en sit hy met ’n klomp syfers wat bloot deur sy stoet telersvereniging vereis word.
Die bedryf skep meer vertroue deur duidelik te stel wat ’n DNS-gesteunde ouerskapanalise werklik beteken.
Wanneer die teler besef die resultaat dui slegs die kwalifiserende ouer of ouerpare aan en dat dit nie noodwendig beteken die kwalifiserende ouer of ouerpaar is wel die ouers nie, moet wetenskaplikes regstaan met antwoorde.
Baie stoettelers “glo” nie in hierdie ouerskapanalises nie weens ’n gebrek aan inligting. Ek wil almal egter verseker dat DNS-gesteunde ouerskapanalise akkuraat en geloofwaardig is.
Stoettelers ervaar heelwat frustrasies rakende DNS-gesteunde ouerskapanalises. Hier volg ’n paar algemene vrae en moontlike oplossings.
Veelvuldige ouerskappe – hoe is dit moontlik?
DNS-gesteunde ouerskapanalise gebruik die dier se DNS-profiel. Hierdie profiel is soos ’n genetiese vingerafdruk – hoe meer besonderhede in die profiel is, hoe beter kan die individu geidentifiseer word en hoe meer uniek is die identifikasie profiel. Om die DNS-gesteunde ouerskapanalise akkurater te maak, kan die aantal merkers wat in die samestelling van die DNS-profiel gebruik word, verhoog word.
Verkeerde ouer(s) is bevestig – hoe gebeur dit?
DNS-gesteunde ouerskapanalises is gegrond op die uitsluiting van potensiële ouers. Die teler benoem gewoonlik diere as ouers. Dié benoemings, tesame met ’n ondergeskikte merkerpaneel, kan daartoe lei dat die verkeerde ouer(s) as kwalifiserende ouer(s) aangedui word. Indien die monster wat die laboratorium ontvang het, nie die regte monster was nie, is alles vergeefs.
Profiele na en van ander laboratoriums – kan almal dit gebruik?
Die merkerpanele van beeste, skape, bokke, perde en honde is gestandaardiseer volgens die International Society of Animal Genetics (ISAG) se waardes en is uitruilbaar tussen alle ISAGgestandaardiseerde laboratoriums. ’n Proses is aan die gang om standaardisering te bewerkstelling tussen die laboratoriums wat die meeste wild se DNS-genotipering in Suid-Afrika doen, maar dit is ’n tydsame proses.
HOE KAN JY HELP?
Let op die gehalte van monsters (bloed, hare en ’n stukkie vel). Monsters van ’n swak gehalte lei gewoonlik tot DNS van swak gehalte, wat weer kan lei tot ’n onvolledige DNS-profiel. ’n Onvolledige DNS-profiel lei tot gebrekkige akkuraatheid en spesifiekheid tydens die ontleding.
Terugvoering van die telers af en volledige inligting oor diere is ook belangrik. Verskaf onder meer ’n lys van potensiële ouer(s) sodat ons by die laboratorium dit kan aanvra as dit nie op ons databasis is nie. Die ouderdomme van die diere (veral in die wildbedryf) word gebruik om die toekenning van ouerskappe na te gaan.