Omskep kleiner plase in jagbestemmings
Oor die prysklimaat in die wildbedryf is daar ewe veel menings as wildtelers. Almal stem egter saam Suid-Afrika se jagmark moet verder ontwikkel word as dié bedryf volhoubaar wil voortbestaan.
Vir verskeie wildtelers wat nou ’n jagmark moet ontwikkel op plase wat dalk net te klein vir geweerjag is, is boogjag moontlik die antwoord.
Mnr. Dries Visser van Dries Visser Pure Bred Game naby Thabazimbi het met die aanvang van vanjaar se jagtyd al gewaarsku Suid-Afrika sal sy sokkies moet optrek wat die jagmark betref.
Dries Visser Safari’s is wêreldbekend as ’n jagbestemming met verskeie spesies en is veral gewild onder Amerikaanse boogjagters. Sy plaas was egter nie altyd ’n boogjagbestemming nie. Dit het in 1995 verander toe ’n kliënt van Michigan in Amerika verskeie bokspesies suksesvol met sy boog gejag het. Dries jr., wat die Amerikaanse kliënt bygestaan het, is deur die gogga gebyt en het toe sy pa oortuig hulle moet op boogjag begin klem lê.
Plaaslike jagters het terselfdertyd ook ’n liefde vir boogjag ontwikkel. Administratiewe probleme met die toepassing van die Wet op die Beheer van Vuurwapens (Wet 60 van 2000) het talle voornemende jagters eerder na boogjag as geweerjag laat kyk.
Hoewel ’n tipiese kragboog byna soveel soos ’n vuurwapen kos, kan jy dit oor die toonbank en sonder ’n lisensie koop. Dit is betreklik groot en moeilik om weg te steek. Gevolglik is dit nie geskik vir selfverdediging of misdadige aktiwiteite nie. Dit verg baie krag om ’n boog te span en dit kan nie “gelaai” rondgedra word soos ’n vuurwapen nie. Die risiko van ’n noodlottige ongeluk of ’n kind wat daarmee speel en seerkry, is dus skraal.
MINDER GROND
Wanneer boogjagters uit skuilings jag, het hulle maar ’n reikafstand van 40 m rondom die skuiling. Meer jagters kan dus gelyktydig op ’n kleiner stuk grond in die veld wees. Plase wat te klein vir geweerjag is, is ’n werklikheid waarmee baie wildboere worstel.
Mnr. JC Botha, een van Suid-Afrika se pioniers in boogjag, is onlangs in ’n motorfietsongeluk oorlede. Hy het ’n tyd gelede met Landbouweekblad gepraat en die volgende raad aan boere gegee wat hul plase vir boogjag wil inrig:
“Begin deur die bewegingspatrone van diere op jou grond te leer ken en stel jou skuilings dan só op dat jy die jagter soveel moontlik geleenthede bied om ’n bok onder skoot te kry. Bou altyd die skuilings windaf van waar die wild beweeg.
“Dink dan oor die soort skuiling wat jy wil oprig, naamlik ’n boom-, grond- of putskuiling. Daar is talle voorbeelde van skuilings en sulke strukture kan betreklik goedkoop opgerig word. Skuilings uit veselglas wat soos groot miershope lyk, is baie gewild en maklik om te bou.”
BESTUUR JAGTERS
JC het gesê dit is raadsaam om ook aan die jagters self aandag te gee. Boere moet jagters se skietvernuf vooraf behoorlik evalueer en die jagter in die skuiling met ’n sekuriteitskamera monitor.
“Begin deur te weet hoeveel pyle die jagters saam met hulle in die skuiling inneem en gee duidelike instruksies dat hulle die skuiling in geen omstandighede mag verlaat nie. Vee die terrein rondom die skuiling nadat jagters posisie ingeneem het, want dan kan jy sien as iemand die skuiling verlaat het. Jagters moet per radio of selfoon laat weet as hulle iets geskiet het.”
Gidse of ’n beroepsjagter hoef dus nie die biltongjagters te vergesel nie. Deur bloot pyle te tel en voetspore te monitor sal ’n boer weet of die jagter ’n pyl afgeskiet het. Gebruik die kamera om te monitor waarna die jagter geskiet het en of die skoot raak of mis was.
Verder is dit belangrik dat daar nie diere by die skuiling is wanneer jagters op- of afgelaai word nie. Diere moet mense nooit met gevaar verbind nie. Sodoende kan ekotoerisme en aktiwiteite, soos wildfotografie, ook op jagplase bedryf word.