EWIGE RUS
Dit was warm in Suidwes se diep suide daardie winter toe ek die ou ram onder die plat berg geskiet het. Suidwes? Ja, dis soos die plek in my geheue aangeteken staan en so sal dit bly, al noem ander dié land nou Namibië.
Ek is ’n Suidwester gebore, in Otjiwarongo se Katolieke hospitaal, en sal in my hart as ’n Suidwester my laaste asem uitblaas. Emigreer ek eendag, sal dit soontoe wees en as ek uiteindelik vir ewig lê gemaak word, wil ek onder ’n kameeldoring loop rus. ’n Lekker grote soos wat daar by Adam se pos op Mickberg wagstaan oor ’n droë, rooi sandloop.
Die nag se laaste lekseltjies koelte het die vroeë sonstrale nog speels geterg toe ek my skuins voor ’n groot klip sit maak en my verkyker uithaal. Onder my het die vlakte tussen die droë Guribrivier en die berg in fokus gespring. Deur die verkyker het ’n troppie gemsbokke en verskeie volstruise lewe gekry. Ver links, waar die rivierloop tussen die kameeldorings verdwyn, het ’n jong koedoebul die laaste afvalpeule staan en optel.
EENKANT-BOOM UITGESOEK
Ek het seker goed ’n halfuur met die verkyk-oë oor die vlakte gekuier, soekend tussen die driedorings, die sukkelgras en ’n paar witgatbome wat skamerig die blou lug in beur.
’n Ou springbokram het skielik, asof uit die niet, in die verkyker se beeld verskyn en lank doodstil in die oggendson bly staan. Toe het hy stadig koers gekies na ’n enkele kameeldoring wat los van die ander en weg van die rivier gestaan het. Ek het hom dopgehou totdat hy moeisaam onder die boom gaan lê het.
Ná ’n paar oomblikke het ek opgestaan, die Mauser se slot toegedruk en skuins teen die plat berg af aangeskuifel. Eens op die vlakte kon ek die dyhoogte driedorings en die paar witgatbome gebruik om ongesiens nader te kruip.
Gelukkig was die sand dik genoeg sodat ek redelik gemaklik op hande en knieë kon kruip om buite sig te bly. My vordering was stadig, want ek het kort-kort vasgesteek om eers deur die verkyker na die ram te loer. Hy het egter geen aanstaltes gemaak om te beweeg nie.
Die driedorings het seker goed 120 treë van die kameeldoring af opgehou en ek het op my maag om die laaste bos geseil om die springbok in die oog te kry. Daar was baie littekens aan sy gesig en sy lyf was duidelik uitgeteer.
Ek het toe reeds vermoed wat ek later sou uitvind . . . die ou ram se tande was heeltemal weggeslyt. Dit was nog net ’n rukkie voor Vader Tyd hom sou kom haal.
GENADE VIR ’N VETERAAN
Hy het half skuins na my toe gelê en hoewel sy kop duidelik sigbaar was, het ’n lae driedoring sy nek verskuil. Hy was naby genoeg dat ek hom in die kop kon skiet, maar dít kon ek nie oor my hart kry nie. Ek wou dié ou veteraan nie met ’n verbryselde kop en uitpeuloë onthou nie.
’n Skerp fluit het hom moeisaam laat opstaan, maar hy kon die geluid nie plaas nie en sy oë het skuins regs van my gesoek. Die kruishaar het teen sy nek vasgesteek . . .
Nadat die eggo’s van die skoot weggesterf het, het ek opgestaan en by hom gaan kniel. Waar die 7mm-koeël sy nek getref het, was ’n klein gaatjie en daaronder het ’n enkele strepie bloed donker in die oggendlig geblink.
Ek sou graag wou glo dat diere ook ’n siel het en dat dié ou ram s’n oor die vlaktes onder die plat berg swerf . . . daar waar dit hoort. En dat hy dikwels onder die kameeldoring kom rus waar die wind daagliks met behulp van grasspriete sy grafskrif in die rooi sand skryf. Dáár sou ek ook eerder dié pitkos wou kry pleks van op ’n mensgemaakte plek waar boodskappe, uit graniet gebeitel, stil en vroom oor jou waak.
Koos Barnard is redakteur van SA Jagter.
‘Ek sou graag wou glo dat diere ook ’n siel het en dat dié ou ram s’n oor die vlaktes onder die plat berg swerf . . . daar waar dit hoort.’