Johan Willemse: Pak waardetoevoeging só aan
Die vraag na kos bly ’n basiese behoefte en die mark daarvoor bly groei. ’n Nuwe dryfkrag is onder boere aan die posvat om waarde tot hul produkte toe te voeg en nader aan die verbruiker te kom. Bestaande kleinhandelsgroepe implementeer egter baie beperki
Die siening begin weer posvat dat boere groot wins kan maak deur plaasprodukte wat hulle verbou, self op die plaas te verwerk tot voedselprodukte en dit regstreeks aan verbruikers te lewer. Dit is veral terwyl lae graan-, oliesaad-, aartappelen ander groentepryse heers, soos nou.
Te midde van lae mieliepryse (soos tans) is die gewilde plan vir graanboere om ’n eie voerkraal te begin en hul mielies deur middel van hul vee te bemark.
Landbou-organisasies moedig hul lede ook aan om waarde tot hul plaasprodukte toe te voeg en dit aan verbruikers te bemark. Dit vind plaas te midde van die persepsie dat boere groot wins in die verskaffingsketting kan maak.
Die gewilde vergelyking is gewoonlik die prys wat die boer kry in vergelyking met die prys wat die verbruiker vir die eindproduk betaal. TABEL 1 gee enkele aspekte waarop boere moet let as hulle so iets oorweeg.
SAMEWERKING
Boere begin ook weer in groepsverband optree en ou koöperatiewe beginsels hervestig. Sodoende voeg hulle saam waarde toe tot produkte en laat hulle kapitaal saam werk. Hulle behou ook eienaarskap van die besigheid en staan nie beheer af aan ander aandeelhouers nie.
Daar word gepraat oor besighede in Suid-Afrika waarvan talle suksesvol deur boere beheer word. Teoreties gesproke is daar sprake van nuwe koöperasies wat gevorm word en wat baie soos ’n maatskappy funksioneer. Die doel is egter om saam te werk, betrokke te wees en baie buigsamer te wees.
Daar is talle vereistes vir ’n groep boere om suksesvol saam te werk. Sake waaraan aandag geskenk moet word, word in TABEL 2 1 aangetoon. Hierdie riglyne spruit uit navorsing wat daaroor gedoen is.
MONOPOLIEWINS
Daar word bespiegel dat die grootste deel van die verskil tussen die prys wat die boer op die plaas kry en die prys van die eindproduk in “monopoliewinste” opgesluit is; die boer moet self toetree tot die proses en die monopoliewins in sy eie sak steek.
Die werklikheid is egter dat die winsmarges in die voedselverwerkingsbedrywe onderling redelik verskil. Die bekende Tiger Brands publiseer ’n finansiële resultaat met ’n opbrengs van sowat 21% op eie kapitaal vir die jongste boekjaar en Pioneer Foods slegs sowat 11,6%. Ek vermoed dié twee maatskappye oorheers sekerlik meer as 50% van die verwerkingsmark en hulle is boere se regstreekse mededingers.
Weens die laer winsmarges is omset van groot belang. As jy op ’n winkelrak wil gaan meeding met die bestaande verwerkers, sal jy jou huiswerk baie deeglik moet doen.
MARKOORHEERSING
Dan is daar die probleem om jou produk hoegenaamd op die winkelrak te kry. Dit is te midde van ramings dat die vier groot supermarkgroepe in Suid-Afrika sowat 90% van die kleinhandel-voedselmark beset. Jy moet letterlik vir rakspasie betaal.
Daar is ook baie voorwaardes en koste wat van só ’n aard is dat kleiner voedselverwerkers en dié wat die mark vir die eerste keer wil betree, hul produk net met groot moeite suksesvol op die rak kan kry.
Baie mense kla oor die groot supermarkgroepe wat die kleiner spazawinkels in die townships uit die mark druk, terwyl dit juis die spazawinkels is wat baie boere as afsetpunte gebruik. Die mededingingsowerhede is tans besig met openbare verhore wat kyk na supermarkte en hul handelspraktyke.
‘MEGABOERE’
Dikwels word die sogenoemde megaboere as voorbeeld voorgehou van boere wat daarin geslaag het om hul eie handelsmerke te vestig en hul produkte regstreeks te bemark deur terugwaarts en vorentoe te integreer.
Baie aspekte moet egter in ag geneem word, maar meestal vergeet mense dat so ’n besigheid oor baie jare tot stand gekom het. Dit vind meestal eers in die tweede of derde geslag sy voete.
Dit is dus ’n langtermynbenadering wat met verloop van tyd opgebou word en wat gewoonlik baie meer kapitaalintensief is as wat die meeste mense verwag .
Dieselfde beginsel geld baie ander voedselprodukte, waar jy teen gevestigde handelsmerke met ’n hoë volume moet meeding wat reeds ’n kliëntebasis het. Moet tog nie verwag dat hulle jou nie uit die mark gaan probeer druk nie.
Die ideaal is natuurlik om ’n nismark te vind waar jy ’n unieke produk aan ’n spesifieke teikenmark kan lewer en nie met die bestaande voorsieners meeding nie. Dit kos egter tyd om te ontwikkel, dit verg harde werk en is nie ’n kitssukses nie.
Die ander feit is natuurlik dat voedselprodukte toenemend verwerk word om in verbruikers se behoeftes aan kitsprodukte te voorsien. Die persentasie landbouprodukte wat onverwerk op tafels beland as voedsel is besig om vinnig kleiner te word.
In Amerika het die plaasaandeel in voedselpryse oor die laaste aantal jare na raming tot onder 20% gedaal. Die rede daarvoor is dat die vraag toenemend na verwerkte
produkte skuif. Ander koste, soos vervoer, verpakking, hantering, elektrisiteit en arbeid, maak die grootste deel van koste uit – nie die koste van die onverwerkte produk nie.
In sommige Amerikaanse state gaan soveel as 50% van die voedsel na raming deur wegneemeetplekke en -restaurante. Dit word nie by die huis voorberei nie.
Die Suid-Afrikaanse koringboer se aandeel in die broodprys is net onder 20%; die res is ander koste (en natuurlik ook ’n opbrengs op kapitaal).
Die aandeel wat die boer in die prys van die eindproduk het, is geen aanduiding van die winsgewendheid op plaasvlak nie. Baie boere maak dié basiese fout.
BESTUURSBEPERKING
In die praktyk meen die meeste boere dat tensy jy ekstra bestuursvermoë bykry vir die uitbreiding van ’n basiese boerdery tot die toevoeg van waarde, loop jy ’n reuserisiko.
Eerstens neem die nuwe besigheid baie van jou tyd (en kapitaal) in beslag en jy verwaarloos in die proses jou kernbesigheid – die boerdery wat die kontantvloei voorsien. Dit lei tot ’n afwaartse spiraal, want die nuwe besigheid benodig gewoonlik kontant én aandag. As jou boerdery begin sukkel, is dit meestal ’n nekslag vir die boerdery.
Almal is dit eens dat jy kundiges moet betrek. Dit help nie om so ’n nuwe besigheid, wat kapitaal- en kontant-intensief is, op ’n langer termyn te begin as jy nie kundiges kan betrek om jou te help nie. Dit kos natuurlik ook weer geld.
Suksesvolle voedselmaatskappye bestee jaarliks ’n aardige bedrag aan verbruikersnavorsing en produkontwikkeling om voorkeure en smake wat voortdurend verander, betyds te identifiseer en hul navorsing en produksie daarby aan te pas.
Nuwe produkte verskyn gedurig op die mark. Dit is meestal kitsprodukte, juis omdat die mark voortdurend verander.