Hersiene JSE-kontrak kan vleisbeesbedryf help
Die JSE se vleisbeeskarkas- en beoogde speenkalfkontrakte behoort groot belangstelling onder spekulante en belanghebbendes te ontlok.
Die JSE se vleisbeeskarkaskontrak is op 14 Desember 2015 bekend gestel. Die besluit was destyds om verkoopspryse te gebruik om die kontrak mee af te sluit wanneer dit verstryk. Dit is die pryse waarteen abattoirs vleis aan die groothandel en vleisverwerkers verkoop, en het die vyfde kwart uitgesluit.
Die JSE wou abattoirs se verkoopspryse gebruik om groter deelname van handelaars te verkry. Die JSE wou ook instrumente waarmee prysrisiko’s bestuur kan word, aan die handel bekend stel. Kleinhandelaars gebruik egter nie dié instrumente nie, om die volgende redes: Vleisverwerkers koop nie heel beeskarkasse nie. Abattoirs bemark ál meer voor- en agterkwarte, asook vleissnitte omdat kliënte nie meer heel karkasse bestel nie. Sagtewarestelsels optimaliseer deesdae ’n abattoir se winsgewendheid. Die pryse van individuele vleissnitte pleks van heel karkasse word dus gegee. Verbruikers kry prysverhogings regstreeks van vleisverwerkers. Hulle benodig dus nie ’n stelsel om prysrisiko’s mee te bestuur nie. Vleis word ook nie lank vooruit gekoop nie.
AANKOOPPRYSE
Die JSE stel voor die beesvleiskontrak word ná die verstryking daarvan afgesluit deur aankooppryse pleks van verkooppryse te gebruik. Die klem verskuif dus vanaf die groot- en kleinhandelaar na voerkrale en abattoirs.
Die aankoopprys is in dié geval dus die prys waarteen die voerkraal afgeronde beeste teen lewende gewig (vyfde kwart ingesluit) verkoop en waarteen abattoirs dus die dier lewend vir slagdoeleindes aankoop.
Die JSE meen die voorgestelde verandering sal saam met die moontlike toepassing van die speenkalfkontrak nuwe verskansingsgeleenthede vir markdeelnemers ontsluit. Dit kan ’n voerkraalkompleks tot stand bring. ’n Geelmieliekontrak en speenkalfkontrak kan as insette dien en die beesvleiskontrak as uitset. Spekulante, afslaers en aankopers van speenkalwers behoort veral belang te stel.
Die arbitrage-geleenthede tussen geelmielie-, speenkalf- en beesvleispryse kan interessante geleenthede bied om die prys- en voermarges te verskans en tot groot deelname deur spekulante lei wat arbitrage-wins uit die prysverskille sal wil maak.
’n Vergelyking van die weeklikse prysindeks vir speenkalwers, beesvleiskarkasse en geel mielies (sien GRAFIEK ) toon pryswisselvalligheid op ’n weeklikse basis is groot genoeg om kontrakte vir speenkalwers en beeskarkasse te regverdig. Die stippellyn dui die tydperk in die tweede week van November verlede jaar aan.
’n Voerkraaleienaar sou in die eerste week van November die winsgewendheid van sy voerkraal teen ’n verhoging in speenkalfpryse wou verskans. Dink net hoeveel wins hy vandag sou kon maak as hy sy speenkalfpryse kon verskans teen pryse soos dit aan die begin van verlede November was. Speenkalfpryse het met meer as 80% toegeneem van R20,83/kg in November tot R37,72/kg in Julie vanjaar.
Die voerkraaleienaar vind baat by die skerp daling in die kontantmarkpryse vir geel mieles in strooptyd as hy sy geelmielie-aankope teen die huidige pryse teen ’n moontlike prysstyging wil verskans. Die prys van geel mielies het van begin November met 38% van R3 137/ton tot R1 943/ton gedaal.
Terselfdertyd sou handelaars hul aankope van beeskarkasse teen ’n verhoging in karkaspryse wou verskans. Beeskarkaspryse het oor dieselfde tydperk met 21% van R39,58/kg tot R47,68/kg toegeneem.
Indien geel mielies se prys styg en speenkalwers se prys daal, kan die relatiewe prysgaping tussen speenkalf- en geelmieliepryse weer toemaak en goeie wins aan spekulante teruggee. Laer geelmieliepryse lei gewoonlik tot ’n styging in speenkalfpryse. Die droogte het dit vanjaar vererger. Sodra kuddes herbou is en speenkalfgetalle herstel, behoort speenkalfpryse te daal.
GEVOLGTREKKING
Die instrumente bied groter deursigtigheid in die prysvorming van speenkalwers en beesvleis en bied die geleentheid om ’n voerkraal se insetkoste en die verkoopspryse van vleisbeeskarkasse te help bestuur.
Met die hernieude ondersoek van die Mededingingskommissie om te bepaal of prysvasstelling en markverdeling in die beesvleisbedryf van toepassing is, behoort die JSE se instrumente ook tot ’n groter belangstelling onder belanghebbendes in die vleisbeesbedryf te lei.