Landbouweekblad

Só lyk ’n goeie beleggings­plan

’n Finansiële plan is die belangriks­te deel van enige belegging. Volg hierdie sewe stappe om seker te maak jy het ’n uitvoerbar­e plan wat jou finansiële doelwitte sal laat realiseer.

- Adv. Ronald King is hoof van strategies­e navorsing by PSG.

Beleggings gaan nie net oor die kies van ’n regte fonds nie. Trouens, dít is amptelik die maklikste gedeelte. Die belangriks­te is om ’n spesifieke plan saam te stel en die tweede stap is om die regte produkte te kies om binne daardie plan in te pas. Eers dán word die regte beleggings­fonds gekies.

Ek kyk vandeeswee­k na die vereistes vir ’n goeie beleggings­plan. In volgende rubrieke sal ek kyk na die verskillen­de produkte wat oorweeg kan word en hoe om die regte beleggings­fonds te kies.

Wanneer dit by beleggings kom, is daar nie een regte antwoord nie. Dit hang alles af van waarheen jy op pad is en wat jy met die belegging wil bereik. Ongelukkig wil ’n mens graag meer doen as wat jy kan bekostig om te doen. Gevolglik is ’n finansiële plan die belangriks­te deel van enige belegging.

Stap 1. Skryf alles neer wat jy graag finansieel wil bereik.

Ek bedoel dat jy regtig alles moet neerskryf. As jy dit nie nou neerskryf nie, is die kanse bitter klein dat dit gaan realiseer. Dit is dinge, soos trou, of om ’n huis, motor, nuwe plaas of nuwe stroper te koop. Dit kan ook jou kinders se tersiêre onderrig of ’n oorsese vakansie insluit, en natuurlik ook jou aftrede eendag.

Stap 2. Dateer jou wense en behoeftes.

Skryf jou wense chronologi­es neer, met be- paalde datums vir wanneer jy dit wil bereik. So weet jy hoeveel tyd jy beskikbaar het om daardie drome te bewaarheid.

Stap 3. Koppel syfers aan jou wense en behoeftes.

Jou finansiële beplanner kan jou help om te bepaal hoeveel jy gaan nodig hê vir jou kinders se studies of vir jou aftreeplan. Dit moet so akkuraat moontlik wees, want daar is bitter min wat jy kan doen as jy by aftrede kom en besef jy het nie reg voorsienin­g gemaak nie. Bereken ook hoeveel jy per maand sal moet wegsit om elkeen van dié drome te verwesenli­k.

Stap 4. Prioritise­er jou behoeftes.

As jy alles kan bekostig wat jy beplan het, is dit natuurlik nie nodig om jou behoeftes en wense te prioritise­er nie. Ongelukkig is die werklikhei­d ver verwyderd hiervan.

Dit is beter om R1 000 weg te sit ten opsigte van een projek pleks van om R100 tot 10 projekte by te dra. Dit is beter om een behoefte te hê waarvoor jy genoeg voorsien het, pleks van 10 drome waarvoor jy net genoeg geld het om ’n poskaart mee te koop.

Stap 5. Voer jou plan uit.

Dit help nie om te beplan en dan weens al wat ’n verskoning is nooit die plan in werking te stel nie.

Net verlede week het ’n boer my gebel omdat hy nou ’n plan in werking wil stel wat ek al in 2002 vir hom uitgewerk het. Nie alleen is dit nou te laat om baie van sy drome te verwesenli­k nie, maar die wêreld het só baie verander dat die plan ook nie meer van toepassing is nie.

Stap 6. Hersien jou plan gereeld.

Omdat die toekoms onseker is, is dit nodig om jou plan jaarliks te hersien. Sekere behoeftes val weg, terwyl ander mettertyd groter word. Prioriteit­e verander ook van jaar tot jaar.

Stap 7. Hou by jou plan.

Een van my kliënte het sowat twee weke gelede by my opgedaag en wou ál sy beleggings afkoop, want hy glo Suid-Afrika gaan binnekort in duie stort. Ek het hom toe herinner aan ons gesprek toe hy by my aangesluit het. Die rede waarom hy my ’n jaarlikse tarief betaal, is omdat hy eendag alles gaan wou verkoop en ek hom op daardie dag gaan keer om dit te doen. En dit was toe daardie dag.

Die belangriks­te faktor wat bepaal wie finansieel suksesvol is en wie nie, is wie volgehou het toe alles daarop gedui het dit is tyd om op te hou. Dit maak nie saak hoe moeilik dit gaan nie, glo dat jou plan korrek is en bly daarby. Wanneer die son opkom, sal jy bly wees om te sien hoe ver voor die res jy op die pad van sukses is.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa