‘Swart boere is
Danksy touleier by Die Kooperasie, se ons-kan-dit-self-doen-benadering het dié landboubesigheid (voorheen bekend as Die Humansdorpse Koöperasie) dit reggekry om sy wins in die afgelope twee boekjare met onderskeidelik 60% en 26% te laat groei.
Waarop skoei julle jul sukses?
Ons besigheid is gebou op vier pilare. Dit is uitnemende klantediens, volhoubare winsgewendheid, groei en ontwikkeling, en gemeenskapsbetrokkenheid. Ons probeer die besigheid op al die gebiede bou, en ek glo veral wat gemeenskapsbetrokkenheid betref, het ons dit reggekry. Deur ons bemagtigingsaksie, waar ons by boerderye betrokke geraak het, het ons baie nuwe besigheid gekry. Dié geleenthede het gekom deur vertroue.
Verlede jaar het jul omset met 7,4% gestyg en in die jongste boekjaar met nog 15%. Netto wins het met onderskeidelik 60% en 26% geklim. Dis die tipe groei waarvan ander maatskappye net kan droom en dis nou al die vierde jaar in ’n ry dat Die Kooperasie dit regkry. Watter eienskappe vuur hierdie groei aan?
Ja, dit is goeie resultate en ons is baie tevrede. Die grootste enkele ding is die goeie mense wat vir ons werk. Ons het oral in die besigheid goeie mense.
Ons volg nie ’n top down-benadering nie, maar die mense wat die onderskeie vertakkings van die besigheid bestuur, is bemagtig om moeilike besluite self te kan neem.
Die ander ding is kostebeheer. In ’n landboubesigheid moet jy seker maak dat jy koste goed beheer. Jy moet ook vertroue van jou lede hê. Jy moenie in jou optrede dinge doen wat daardie vertroue skaad en onder druk plaas nie.
Lyk die huidige boekjaar ook so rooskleurig?
Ons het onlangs drie nuwe besighede bygekry. Ons netto wins behoort met dieselfde persentasie, indien nie meer nie, te groei.
Kan jy meer oor die nuwe besighede verklap?
Ons het aandele gekoop in Umtiza Farmers Corp, met sowat 15 takke in die ou Transkei en Ciskei. Ons het dit gekoop sodat ons kan leer hoe om in Afrika sake te doen. Dit help nie jy pak dit aan met ons tipies kommersiële aanslag nie, want dan gaan jy nie oorleef nie. Umtiza is dieselfde as ons, maar ook heeltemal anders.
Elke tak sit byvoorbeeld naby ’n taxistaanplek. Daar is 2 800 swart aandeelhouers wat elkeen een aandeel hou, ons bemarkingsdirekteur het ’n belang van 25% en ons het die res van die aandele gekoop by die uitvoerende hoof en die finansiële direkteur.
Ons het ’n swart besturende direkteur daar aangestel. Daar is tans beperkte produklyne, wat ons baie opgewonde maak oor die uitbreidings geleenthede, byvoorbeeld vir boumateriale. Ons het sowat R30 miljoen nodig om ’n handelstak te laat werk, maar daar is R1 miljoen tot R2 miljoen voldoende.
Ons het ook PS P Beleggings ,’ n veevoer onderneming op Kokstad, verkry. Daarmee saam het ons ’n nuwe veevoerbesigheid oopgemaak op Kookhuis. Ons beoog om ’n volwaardige handelstak op Kokstad te vestig. Die nuwe besighede help ons met volumes wat veevoer betref.
Die derde onderneming is die brandstofpunt wat ons buite Touwsrivier gekoop het, Komkyk-motors. Brandstof is ’n belangrike deel van die besighede waarby ons betrokke is. Die punt verskaf sowat 600 000 liter per maand, wat ’n paar miljoen liter per jaar is. Jul belange strek oor ’n wye geografiese gebied. Hoe help dit die onderneming? Ons visie is om die leidende landboubesigheid in Afrika te wees. Ons doen nie dieselfde ding net op ’n ander dorp nie, maar ons gaan kyk eerder waar ons kan waarde toevoeg en werklik ’n verskil maak.
Met Umtiza is julle gretig om te leer hoe om suksesvol elders in Afrika te wees. Oorweeg julle sakegeleenthede in buurlande?
Ons kyk na geleenthede, ja. Ons was al in Zambië en selfs Zimbabwe om na interessante projekte te kyk waar ons betrokke kan raak. Ons oorweeg ook Botswana. Hoekom doen ons dit? Nie net wil ons die leidende landboubesigheid in Afrika wees nie, maar ek glo jy het ’n beter oorlewingsvermoë as jou spoor groter raak. Ander landboubesighede spits hulle toe op oornames en konsolidasies, en as jy dus nie jou spoor vinnig genoeg vergroot nie, raak jy dalk hul volgende teiken.
Watter doelwitte wil julle oor die volgende vyf jaar behaal?
Die spoed waarteen ons groei, is ’n funksie van ons balansstaat. As dit nie sterk genoeg is nie, kan ons nie uitbrei nie. Ons werk voortdurend aan ons balansstaat, maar ons is ook in die wonderlike posisie dat ons mense en tegnologie moet ontwikkel. Ons sien byvoorbeeld die energietekort as’ n ontwikkelings been en wil met’ n alternatiewe-energie besigheid begin.
Julle het uitstekende verhoudings met jul lede. Hoe belangrik is dit vir Die Kooperasie?
Toe ons Die Kooperasie as handelsmerk geregistreer het, het die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit navorsing onder ’n lukrake deel van ons lede gedoen. Selfs die moeilike ouens is geraadpleeg! Altesame 95% van boere het aangedui hulle het vertroue in die bestuur; die navorsers het vooraf aan ons gesê ons moet tevrede wees as dit meer as 50% is. Altesame 90% het ook vertroue in die direksie. Ons kan dus nie verbeter nie, net opneuk! Dis twee dinge wat ’n groot rol speel om ons besigheid te dryf.
As ons in ’n nuwe gebied wil uitbrei, sal ons lede ’n goeie getuigskrif vir ons gee vir die inwoners in die nuwe gebied. Waardes wat net daar op papier staan en waardes wat uitgeleef word, is twee verskillende dinge. Dit speel ’n groot rol, maar afhanklikheid van die Skepper, ons heel eerste waarde, is die belangrikste. Die res volg.
Julle kyk ook nou met nuwe oë na finansiering. Hoe het boere se behoeftes verander en watter vernuwende opsies bied julle?
Ons het ’n beperking gesien in die manier waarop banke boere-finansiering met produkte benader. Ons glo dit werk nie so nie; elke boerdery het unieke behoeftes en dit gaan uiteindelik oor sy kontantvloei.
As daar byvoorbeeld ’n droogte was, kan jy die boer nie net ’n groter oortrokke gerief gee nie, jy moet sy sake herstrukureer en aanpassings maak.
Ons wil ook help om alternatiewe energie moontlik te maak vir boere wat nie die kapitaaluitgawes kan bekostig nie. Ons sal byvoorbeeld die toerusting installeer, en hy betaal die krag. Dit is moeilik om beleggers te kry om betrokke te raak, maar ons is al ver gevorder met die proses.
Ek lees julle het al saam met Land Bank sowat 64 projekte met opkomende boere staangemaak. Dit raak meer as 6 900 begunstigdes en meer as 45 000 word regstreeks of onregstreeks daardeur bevoordeel. Vertel van jul welslae daarmee.
Ons projekte is meesal plase wat die Regering gekoop het en waarop die inisiatiewe misluk het. Ons probeer dit dan omdraai en het al heelwat sukses daarmee gehad. Een van die projekte is byvoorbeeld die Entabeni-sitrusplaas by Patensie in die Gamtoosvallei wat ’n mislukking was, maar vanjaar ’n wins van meer as R8 miljoen gaan maak.
Wat het vir die deurbraak gesorg?
Eerstens gaan dit oor blootstelling aan die boerdery-omgewing en ons kommersiële boere help ons daarmee. ’n Mens kan dit seker mentorskappe noem, maar ons het komitees wat die nuwe boerderye bystaan met praktiese raad en opleiding.
Die groot ding in die landbou is ondervinding. As jy tien jaar ondervinding het, is jy nog net tien siklusse deur. Ons stel daarom ’n nuwe bestuurder aan om die besigheid te bestuur. Dis alles dinge wat ons vooraf met die begunstigdes of opkomende boere ooreenkom en ons raak net betrokke as hulle instem om die proses te volg. Ons gebruik ’n onafhanklike personeelagent om dié bestuurder te werf en op ’n professionele vlak na sy vaardighede te kyk. Hy word ook aan psigometriese toetse onderwerp.
Dié mens hoef nie ondervinding van boerdery te hê nie, maar hy moet mense kan bestuur. Dit maak die groot verskil, want ons grootste projek het 450 begunstigdes.
Tweedens moet jy die nuwe boer so gou as moontlik deel maak van besluitneming.
‘Die heel belangrikste uitdaging in die landbou is steeds om die bedryf te transformeer. Dit help nie ons sê die staat of hierdie een of daardie een moet iets doen nie, ons moet dit laat gebeur.’
Dis wanneer jy die grootste sukses sien. Ons suksesse word grootliks aangevuur deur die opkomende boer(e) deel te maak van die droom. Ons besluit saam watter gewas hy gaan plant en ons landbou-ekonome ondersteun hom dan deur alternatiewe uit te wys en te wys wat sy inkomste gaan wees met elke alternatief. Hulle trek ook verskillende begrotings op.
Daar is dus deelnemende besluitneming, want die boer het ’n sê in waarmee hy gaan boer en besluit oor sy begroting.
Ons vind ’n ondernemingsvorm wat die nuwe boer verstaan – die meeste van ons projekte word as maatskappye bedryf – en verskaf dan die nodige opleiding.
Ons bestuur ook nie self die administrasie en finansies van die projekte nie, maar gebruik die dienste van ’n ouditeursfirma wat maandeliks die syfers kom voorlê en vir wie ons dan die vrae kan vra.
Waar wag die groeigeleenthede vir die landbou oor die volgende paar jaar?
Daar is groot geleenthede, waarvan een is om seker te maak swart boere word suksesvol gevestig. As ons dit nie gaan regkry nie, het ons nie ’n toekoms nie. Dis hoekom ek so hard werk en Die Kooperasie so baie daarin belê.
Ek glo ook daar moet weggedoen word met alle ongunstige wetgewing rondom swart bemagtiging, transformasie en gelykheid van indiensneming. Dit gaan nie werk om mense deur wetgewing te dwing om dinge te doen nie, want mense gaan kyk hoe hulle dit kan omseil. Daar behoort eerder aansporings maatreëls, soos belastingverligting vir mense wat voldoen aan die vereistes, ingestel te word. Die Regering moet vernuwend wees en dit aan die entrepreneur oorlaat om dinge te laat gebeur. Dán gaan ons volhoubaar wees.
Dit klink of julle transformasie onder die knie het of bly dit ’n uitdaging?
Dit klink dalk na geykte woorde, maar die heel belangrikste uitdaging in die landbou is steeds om die bedryf te transformeer. Dit help nie ons sê die staat of hierdie een of daardie een moet iets doen nie, ons moet dit laat gebeur. Mense verwag nog iets van die Regering . . . dit gaan nie gebeur nie.
Dit gaan nie net oor die oordrag van wit na swart nie, maar dit gaan oor ontwikkeling. Transformasie moet gebeur deur nuwe geleenthede saam aan te pak. Daar is baie grond en staatsprojekte wat net lê, dis geleenthede om ontwikkeling te laat geskied, hetsy mens- of landbou-ontwikkeling. Daar is byvoordeeld 6 500 ha besproeiingsgrond by Qamata en nog 4 000 ha by Ncora in die ou Transkei – dis waar die werklike ontwikkeling gaan plaasvind.
Waarom behoort betrokkenheid by sy gemeenskappe ’n voorrangsaak vir maatskappye te wees?
Ons moet die gemeenskappe waarbinne ons funksioneer, saam met ons neem. As ons nie op daardie vlak met mense gaan skakel nie, gaan ons nie slaag nie, want hoe meer sukses jy behaal, hoe meer gaan die gemeenskap jou probeer aftrek. Jy moet meer as net jou onderneming laat presteer. De Doorns het dit vir my gewys (met verwysing na die plaasonluste wat in 2012 op die dorp uitgebreek het).
Ons is tans besig met ’n projek waar ons die beste opleiding na klaskamers wil neem deur televisie skerms en internet verbindings in die kleinste plaasskooltjies regdeur die ou Transkei, Ciskei en al die plattelandse plekke waar ons sake doen. Die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit se sakeskool help ons daarmee. Dis betreklik goedkoop tegnologie, maar ons sukkel nog om die regte “onderwysers” op te spoor en prosesse vaartbelyn te maak.
Watter unieke struikelblokke is daar in die streke waar julle sake doen? Hoe oorbrug julle dit?
In die Oos-Kaap sukkel ons veral op provinsiale regeringsvlak, maar ek glo ons het darem nou ’n deurbraak gemaak. Die strewe was om ’n bemagtigende omgewing te vind, maar ons verwag dit nie meer nie en dit is dus nou nie meer ’n probleem nie.
Die infrastruktuur in ons bedieningsgebied ontbreek ook dikwels. Daar is nie gewone dienste, soos koeriers, in die gebiede wat ons bedien nie. Ons moet soms taxi’s gebruik om produkte byvoorbeeld by die tak op Ngcobo te kry, want die klant wat daar ’n sak mielies wil plant, wil die produksiemiddele ook betyds hê.
Het jy al foute in jou loopbaan gemaak? Wat is die belangrikste les wat jy deur die jare geleer het?
Baie en grotes! Die grootste les is om met jouself eerlik te wees, die fout te erken en te verstaan waar jy die fout begaan het. Dan gaan dit oor hoe jy die fout regmaak. Uiteindelik kan mense dit as goeie diens ervaar.
Watter eienskappe onderskei ’n goeie leier van ’n ander?
Dis nie noodwendig ’n eienskap wat ek het nie, maar dis sy vermoë om te kan luister en sy vermoë om waar te neem en op ’n strategiese vlak te sien. Ook hoe jy ander mense help om hul foute reg te maak en hoe om alle mense se sterk punte te gebruik – almal hou van presteer en as jy mense se sterk punte kan benut, het jy ’n suksesvolle besigheid. Ons meet nie net mense se prestasies nie, maar ons meet ook hoe goed hy die ou langs hom laat lyk.
‘Die Regering moet vernuwend wees en dit aan die entrepreneur oorlaat om dinge te laat gebeur. Dán gaan ons volhoubaar wees.’