Hart tot hart
Toe ek vra hoe dit gaan, antwoord hy sonder huiwering: “Soos jy kan sien – kwesbaar en bouvallig.” Hy was reeds bejaard en liggaamlik sigbaar afgetakel. Kwesbaar was dalk nie ’n slegte beskrywing nie. Ons gesprek het geëindig met die opmerking dat die ouderdom nie vir sissies is nie.
Ek kon dit nie uit my gedagtes kry nie. In ’n oomblik van bepeinsing het ek myself afgevra: “Wanneer is ’n mens kwesbaar en wanneer is jy op jou kwesbaarste? Is bejaardheid sinoniem met kwesbaarheid? Is almal buite dié kategorie, wat deur die kalender bepaal word, gevrywaar teen kwesbaarheid?”
Die antwoord was nie so moeilik nie. Wat van ’n babatjie wat so afhanklik is vir al sy behoeftes? En wat van ’n jong mens wat in die fleur van sy of haar lewe gekwes word deur ’n ongeluk? Jong mense dink dalk nie oor kwesbaarheid nie,
Ek staan alleen vir sover as wat God my staande hou.
maar glo my, die jeug het nie ’n lisensie vir ’n onaantasbare bestaan nie.
Nee wat, kom ons aanvaar maar liewer dat kwesbaarheid in alle kategorieë van menslike bestaan vlak onder die oppervlakte lê. Daar is net té veel bewyse wat dit bevestig. Ons bestaan is ’n bestaan in afhanklikheid. Ek staan alleen vir sover as wat God my staande hou; ek leef so lank God sy gawe van die lewe skenk. Dis juis die besef van my kwesbaarheid wat my laat besef hoe afhanklik ek van my Hemelse Vader is. As jy dit ontdek het, dan ontvang jy ’n innerlike vrede en ’n geluk wat andersins nie moontlik is nie.
Christus het self hierdie waarheid in sy bekende Bergpredikasie verwoord toe hy gesê het: “Geseënd (salig) is dié wat weet hoe afhanklik hulle van die Here is” (Matt. 5:3). Hierdie afhanklikheid vra nie net erkenning nie, maar ook diepe dankbaarheid dat ons ons bestaan mag vind in verbondenheid van Christus.
Per slot van sake is ons enigste betroubare verskansing teen kwesbaarheid ’n lewe van afhanklikheid binne die grense van God se teenwoordigheid.