SKUIFNETTE HAAL ANGEL UIT SONBRAND
Nette wat kan oop- en toeskuif, het die potensiaal om sonbrandskade by Granny Smith- en Golden Delicious-appels te keer, terwyl dit ook die nette se leeftyd spaar.
Op Hortgro Science se velddag in die Warm-Bokkeveld naby Ceres het mnr. Kobus Koegelenberg, plaasbestuurder op Loxtonia, deel van die Oats-plase, sy nuwe netstrukture aan ander boere gewys.
“Ons het die nette opgerig teen sonbrand, maar as ons hael kry, sal die nette ook goed werk. Duisende tonne vrugte word weekliks in Ceres weggebrand.”
Kobus was verlede jaar deel van ’n groep besoekers aan Italië om na netstrukture te kyk voor hulle besluit het watter net hulle wil oprig.
“Ons het besluit om grys nette (pure grey) met ’n 14% UV-blok en 12% skadufaktor te gebruik. Al aanpassing wat ons aan die opleistelsel gemaak het, was om elke 10 m ’n paal op te rig om die struktuur te dra, pleks van elke 20-25 m.” Die nette word vir nagenoeg 14 jaar gewaarborg.
Kobus sê hy het “gegril” toe hy besef die nette sal oop en toe geskuif moet word, maar die Italianers het hom gou laat besef ’n “stywe dak” is nie die antwoord nie.
“’n Stywe dak met ’n plat oppervlak laat die sonlig wegbons en dit verkort die nette se leeftyd. Die nette wat kan oop- en toeskuif, gee ons ook kans om natuurlike toestande vir die bome te skep.”
Die nette word toegetrek wanneer hulle in die boorde met uitdunwerk begin en toegehou “tot die laaste appel in die krat val”. Daarna maak hulle dit weer oop.
“Bye werk nie onder nette nie en dit help dus ook met bestuiwing as die nette oop is.”
Volgens Kobus is dit minder moeite om die nette oop en toe te skuif as wat hy verwag het.
“Jy moet egter platforms en rollers hê. Ons gaan met ’n platform in en die werkers maak die knippies los. Dan gaan ons weer deur die boord om die nette op te rol. Ons kan sowat 0,5 ha per dag doen met vier werkers en ’n trekkerdrywer. Dis ’n nuwe praktyk vir ons en ek glo dus ons gaan dit in die toekoms vinniger kan doen.”
Ankers en ondersteuning van die nette, wat sowat 500 kg op ’n hektaar weeg, is uiters belangrik, sê hy.
“As ons praat van nette, praat ons van kabels en staaldraad. Die belangrikste is die ankers wat die struktuur vashou. Oral waar ons in Italië gekom het, het ons gehoor dis ononderhandelbaar,” sê Kobus. Dit kan tot R180 000/ha kos, maar selfs met die woeste wind wat soms in die Wes-Kaap kan waai, het hy gemoedsrus dat die strukture sal bly staan.
Die kabels is met ’n elektriese skaal getoets sodat dit 3 ton kan dra.
Van die kabels is met PVC-omhulsels bedek om verwering te voorkom. Knippies is ook aangebring om te keer dat die draad vou of knak en verswak.
Die nette is ook met ’n meganisme toegerus wat oopspring bo ’n sekere gewig (200 kg) om die struktuur teen sneeu of storms te beskerm.
— LUCILLE BOTHA