BIOLOGIESE PRODUKTE VER VAN REGISTRASIE
Dr. Johan Kruger, ’n mikrobioloog van Newcastle in KwaZulu-Natal, het reeds 33 jaar gelede die navorsingsinstituut BacTech gestig met die oog daarop om biologiese antwoorde te kry vir siektes en plae in die landbou.
In die laboratorium op Newcastle isoleer en berei Johan en sy kollegas mikrobes voor wat in Suid-Afrikaanse gronde voorkom en doeltreffend in die landbousektor aangewend word. Die funksies van die mikro-organismes wissel van die vervaardiging van antibiotika tot stikstofbinding.
“BacTech is nie ’n kommersiële produsent van biologiese middels nie, maar ’n navorsings organisasie. Indien produsente kan baat vind by produkte wat uit ons navorsing voortgespruit het, sal ons dit aan hulle verskaf, maar ons vervaardig nie ’n voorraad van elke produk en smous dan soveel as wat ons kan aan boere nie,” verduidelik hy.
Geen van BacTech se produkte is geregistreer teen enige siekte of plaag nie. Daar is twee groot redes waarom Johan nie vreeslik energie aan’ n registrasie proses bestee nie.
“Eerstens is die stelsel waarvolgens produkte geregistreer word, ondoeltreffend en gebrekkig. Hoe is dit moontlik dat ’n produk soos aldikarb (two-step) eerstens wettig verklaar is? Daarna, wanneer dit verbied word omdat dit gevind is om dodelik giftig te wees vir mens en dier, is daar niemand wat verantwoordelikheid aanvaar nie. Dan is die grond en waterweë reeds vergiftig. Ek wil nie met so ’n ondoeltreffende stelsel vereenselwig word nie.
“Tweedens behoort die proses waarvolgens biologiese produkte getoets word, heeltemal anders te wees as die proses waarvolgens chemiese produkte en gifstowwe getoets word. Ek het al baie geraas gemaak daaroor en in ’n stadium het die owerheid my gevra om insette te lewer. Die proses is aan die gang om ’n afsonderlike protokol vir die produk registrasie te ontwikkel, maar daar is min hoop dat dit enigsins doeltreffend gaan wees,” sê Johan.
Prof. Erik Hol m van die gediversifiseerde boerdery-onderneming ZZ2, wat ’n sterk natuurboerdery-aanslag het, het dieselfde frustrasie.
“Die Departement van Landbou hou vol dat die registrasie van biologiese produkte aan dieselfde maatstawwe moet voldoen as waarvolgens chemiese produkte geregistreer word. Dit beteken die bestanddele van die produk moet geïdentifiseer, geïsoleer en gekwantifiseer word. Alles behalwe die kwantifisering, tot op ’n vlak wat die departement se voorskrifte vereis, is moontlik,” sê Erik.
Registrasie en die gevolglike kommersialisering kan dus nie plaasvind nie.
Volgens Johan is daar groot waardering vir biologiese tegnologie in Indië en Rusland. Die wetgewing, regulering en verspreiding van biologiese middels is baie doeltreffend, wat die bedrywe daar betroubaarder maak vir die produsent.
In Rusland spruit hierdie situasie uit ’n gebrek aan toegang tot die chemiese produkte wat in die laaste deel van die vorige eeu aan die Weste beskikbaar was.
Die Sowjetunie moes toe noodgedwonge navorsing doen oor biologiese middels om in sy behoeftes aan plaagdoders en bemesting te voorsien. Vandag pluk Rusland die vrugte daarvan met ’n goed ontwikkelde biologiebedryf.
Johan sê die invloed van die groot landbouchemiese maatskappye oor regulering is kommerwekkend.
“Die eindverbruiker van voedsel gaan uiteindelik egter die produsent dwing om van sy afhanklikheid van chemiese stowwe afstand te doen.”