Landbouweekblad

‘Haastige Wouter’ kyk terug

Deur die geskiedeni­s was die bekende De Wet-familie betrokke by die aanlê van kanale en elektrisit­eit vir die plaas Le Chasseur, naby Robertson, wat dit moontlik gemaak het om die vrugte- en wingerdboe­rderye te vestig waarvoor die streek vandag so bekend

-

Hulle het hom altyd Haastige Wouter genoem, want in oom Wouter de Wet (97) se boekies moes alles “sommer gou-gou-gou” gedoen word. Maar op sy oudag is dit asof die lewe hom wil leer om na ’n laer rat oor te skakel. Stadiger te leef. Rustiger te wees.

“Die dae was altyd te kort, maar nou is dit maar lank vir my. Dis maar eentonig, jong, as jy nie kan lees nie,” vertel hy terwyl hy met sy kierie deur sy deftige, maar sonnige, sitkamer op die plaas De Wilgen stap. Sy blou kykers, golwende grys hare en ferm handdruk verklap nie dat hy byna ’n eeu gelede gebore is nie.

“My kop werk nog goed, maar my liggaam is gedaan,” sê hy oor sy sig- en gehoorprob­leme. Hy het darem ’n vergroting­stoestel waarmee hy so ’n uur of wat op ’n slag kan lees voor hy moeg raak, hy maak staat “op die draadloos” om op die hoogte van sake te bly en hy bestuur nog daagliks sy beleggings­portefeulj­e met behulp van die drukstukke wat sy kinders vir hom gee.

Een keer per week kom haal sy seun, ook Wouter, hom om ’n draai deur die plase te gaan ry. Sy dogter, Helena, kom loer daagliks in by hom en sy vrou, Ernestine (94), waar hulle nog alleen in die groot dubbelverd­iepinghuis met die rooi teëldak woon wat oom Wouter self in 1950 gebou het.

Ons gaan gesels in sy studeerkam­er, waar dit nie so warm is nie. Teen ’n muur agter die deur, langs een van die kunstig geweefde tapyte waarvoor hy so lief is, hang ses geraamde portrette van De Wet-mans. Hy beduie met sy kierie na ’n foto van “ons ou voorvader”.

“My oupa se pa. Hy was ook Danie en hy’t van Brandvlei af Retreat toe gekom daar in 1850 rond,” gesels oom Wouter.

DESTYDSE PLAAS NOU ONDER BRANDVLEID­AM

Die De Wets het destyds op die spoggerige plaas Brandvlei, sowat 15 km buite Worcester, geboer. ’n Groot deel van dié plaas is vandag onder die water van die Brandvleid­am en die res van die plaas behoort aan die Brandvlei-gevangenis.

“Die plaas het ’n bietjie te klein geraak vir die spul De Wets, toe het my ou grootjie besluit hy kom nou Robertson toe. Hy koop toe die plaas hier, wat vandag Retreat is.”

’n Lywige dokument oor die De Wet-familie wil dit hê dat hierdie Danie met sy niggie, die fyne Susanna Jordaan, wat eintlik aan sy ouer broer verloof was, weggeloop het. Die plaas wat hulle gekoop het, is oorspronkl­ik Poespasval­lei genoem. Hul seun, oom Wouter se oupa (ook Wouter), het later die plaas herdoop na Retreat.

‘Ek het nooit in skuld geglo nie. Nie ’n pennie skuld nie. Als kontant.’

“Oupa Wouter het altyd ge-brag sy vrou kom van Franschhoe­k, van die plaas Keerweder af, toe noem hy die plaas hier Retreat.”

Die kierie skuif na ’n ander portret. Nóg ’n bekende De Wet, die keer die befaamde Boeregener­aal.

“Dis ou Christiaan de Wet. Hy en my oupa het mekaar ge-neef. Hulle was ewe oud.”

Dié De Wets was egter nie naby familie nie.

BROERS SE WATERWONDE­RS

Oupa Wouter was die jongste van sewe broers en twee dogters.

“Die tweede ene was ou Koos de Wet. Hy was 19 jaar ouer as my oupa. Hy’t natuurlik baie goed geweet hoe Brandvlei se omgewing lyk vir ’n dam en hy was die man wat saam met sy swaer Koos Marais die Brandvleid­am gebou het met die boere se geld. Dit was ook darem baie lank gelede . . . dit moes omtrent in die 1890’s, daar rond, gewees het.”

Danksy kanale uit die destydse dam kon boere tot by Bonnievale landbougew­asse begin besproei. Die De Wets het tot anderkant Ashton grond gekoop.

Twintig jaar later was dit oupa Wouter, Koos se jonger broer, se beurt om vir ’n wateromwen­teling te help sorg, toe hy as stigter van die Le Chasseur-Goree-besproeiin­gsraad die lewensaar na Le Chasseur uitgebrei het.

“Die water hier op die plaas het uit die kanaal gekom in die jaar wat ek gebore is, in Februarie 1920,” vertel oom Wouter oor die totstandko­ming van die Le Chasseur-Goree-besproeiin­gskanaal.

Sy oupa Wouter het Retreat op sy 21ste verjaardag as erfdeel ontvang en dit kort daarna so hittete verkoop, maar sy pa het ’n stokkie daarvoor gesteek. Oupa Wouter, ’n vee-en-volstruisb­oer met ’n lappie wingerd, was glo ’n belese man met ’n netjiese boekhouste­lsel. Die De Wet-dokument beskryf hom as iemand met ’n “beter as jy”-houding en ’n gesiene man in die gemeenskap.

“Hy was ’n provinsial­e raadslid en die ou het taamlik sê gehad,” vertel oom Wouter.

Vyf jaar vóór die kanaal gebou is, het die oukêrel-hulle al geweet waar dit gemaak gaan word en het hy ’n baie groot dam net onder die kanaal gebou. Die dam word tot vandag toe gebruik. Hulle het ook met graaf en pik vir Retreat, 10 myl verder, voorsorg getref.

“Dié deel was net veeboerder­y. Lae reënval, ses tot agt duim ’n jaar, so dis regtig baie droog. Die kanaal was die grootste deurbraak, maar dit was als danksy die versiendhe­id van die twee broers wat 20 jaar uitmekaar uit daarvoor gesorg het.”

ELEKTRISIT­EIT VIR LE CHASSEUR

Oom Wouter se pa, Danie, was ’n “wonderlike, fantasties­e mens, ’n baie goeie veeman, maar ek dink nie hy was so ’n goeie sakeman nie”.

In 1939, met sy terugkeer plaas toe, het oom Wouter, wat ’n diplomakur­sus aan die Universite­it Stellenbos­ch op die Elsenburg-kampus gevolg en saam met die derdejaars wynbou geloop het, sommer gou die geldsake oorgeneem.

“Op die 27ste Oktober, my pa se verjaardag, val ek toe in met ’n helse salaris van £12,10 per maand. Wat my natuurlik gehenner het, is dat my pa uitsluitli­k met sultanas, korente en hanepoot, wat hy gedroë het, geboer het.”

Die afstand dorp toe was te ver om wyndruiwe te verbou, maar sy somme het gewys ’n eie kelder op die plaas sal sinvol wees. Daar was egter nie elektrisit­eit op Le Chasseur nie en oom Wouter het vyf boere, wat dit kon bekostig, oortuig om elkeen £180 by te dra om krag aan te lê.

“Dit was omtrent 14 myl,” vertel hy, wat so 20, 21 was toe hy sy kelder staangemaa­k het met planne wat hy by die KWV gekry het. Die kelder, met ’n vermoë van 500 ton, is kort daarna vergroot. “Toe kon ons 2 000 ton hier pars, so ons het darem nie gesit en slaap nie,” vertel hy met ’n laggie.

GROOT BOERDERY

Mettertyd was hulle ook die eerstes om op groot skaal met perskes en appelkose vir die inmaakbedr­yf te boer. Vandag lewer die familie nog ’n “paar duisend ton perskes en minstens 2 000 ton appelkose”. Oom Wouter het ’n punt daarvan gemaak om grond te koop wat in die omgewing op die mark kom, veral as daar waterregte by was. Vandag besproei hulle op De Wilgen meer as 500 ha se gewasse.

“Toe ek hier gekom het, was dit net 100 ha. In 1947 het ek ewe kordaat al water uit die dam bokant die kanaal gepomp. Vandag is ons grootste boerdery bokant die kanaal. Aanvanklik het ek grondslote gehad en die pompwater was maar duur. Ek het dus elke jaar, ná parstyd, mýle se sementslot­e gemaak om water te spaar.

“Later, om nóg water te spaar, het ek oorhoofse sprinklers oor my perskebome en oor

my wingerde gehad. Ek was daai tyd die grootste oorhoofse besproeier in die WesKaap. Ná my tyd het hulle weer begin met die druppers en dit maak nou dat vir elke morg grond wat jy kon besproei, ons nou amper twee met dieselfde water besproei.”

KONTANT IS KONING

“Ek het nooit in skuld geglo nie. Nie ’n pennie skuld nie. Als kontant. As ek nie kontant daarvoor kan betaal nie, dan wil ek dit nie hê nie. Dis steeds my motto. Ek glo nog altyd daarin. Reg of verkeerd.”

Dit was ’n les wat hy by sy pa geleer het en steeds by sy kinders inprent.

“Een jaar, kort nadat ek die kelder gebou het, het daar 3 000 stellasies hanepootdr­uiwe op die (droog)baan gelê en toe kom daar ’n donderstor­m en spoel die druiwe van die baan af. My pa het besluit hy gaan die bietjie wat hy oorhet, maar aanhou droë. Toe my pa die goed moet bemark – dit was twee trokke wat hy na Clive Corder, bestuurder by die SAD (die Suid-Afrikaanse Droëvrugte­korporasie), toe gestuur het – is hy op die telefoon en hy is half onrustig. Ek sê gee maar vir my die telefoon. Clive sê toe hy kan my pa net ’n oulap en ’n stuiwer per pond rosyntjies betaal. En ek sê vir hom: ‘Stuur die bleddie goed terug, man!’ En hy stuur dit waaragtig terug, en toe knyp ek, nè.

“Ek gaan toe na Ted Barry toe. Hulle het ook ’n droëry gehad by die Barry-handelshui­s – dit was ’n groot affêre op Robertson gewees. Hy sê vir my ek moenie worry nie, hy sal die rosyne by die stasie laat afhaal en deur die graders gooi en my ’n tiekie ’n pond gee vir die goeters.

“Daardie dag het ek vir my pa gesê ek wil nooit weer iets met die SAD te doen hê nie.

“Die jaar daarna het my pa die plaas De Wetshof hier by Agterkliph­oogte (nie dieselfde plaas waar die bekende wynmakery nou geleë is nie) vir my broer, Johann, dis nou Danie de Wetshof se pa, gekoop. My pa het baie daarvoor betaal en hy moes die lusernmied en die mis ook nog ekstra koop en toe skuld hy £1 000.”

Dis die eerste keer wat hy toe skuld het en dit het hom vreeslik “gehenner”.

“Ek sê toe ons sal dit gou-gou opfix. Ek het toe mos my voet in by die Barry’s se handelshui­s en hulle gee vir my tienpondki­ssies, met papier en alles daarin, en ek pak toe vir hom trossies rosyntjies vir 18 pennies per pond.

“’n Deel van ons kontrak met die SAD was dat hy miskien ’n naskot betaal, wat hy omtrent nog nooit gedoen het nie. Toe betaal hy daardie jaar ’n naskot op die hanepoot en kry ek daai bietjie ook!” sê hy en lag baie lekker.

“Ek sê toe vir my pa: Nou’t ons mos die plaas betaal. Die oubaas sê toe vir my: Nou’t ons weer geld!”

Hoewel Danie ’n stigtersli­d van die “Robertson Ko-op” en ook die SAD was, was oom Wouter nooit ’n koöperasie­man nie.

“Ek het nie daarvan gehou dat hulle vir my wil voorsê wat ek moet doen en so aan nie.”

LEWE NÁ AFTREDE

Toe oom Wouter bykans 40 jaar gelede aftree, het hy “allerhande dinge aangevang”. Hy het onder meer “twee jong manne” gehelp om die maatskappy Octa Diamonds by dr. Christo Wiese te koop.

Daarna het hy “met die Jode in die eiendomsbe­sigheid in die Kaap deurmekaar geraak”. Toe hy nou “lekker verveeld raak”, het hy vir hom ’n vee-en-saaiplaas by Heidelberg gekoop. “Toe ek my verdomp weer kom kry, ry ek op ’n plaas rond wat daardie dag opgeveil sou word. Toe koop ek die bleddie plaas!” sê hy en lag.

Die verkoop van die plaas – aan Wiese – was “’n interessan­te besigheid”.

“Dit was die tweede maal wat ek met hom te doen gehad het. Eerste het ek sy kop gewas omdat hy daai twee jong manne (van die diamantond­erneming) nie goed behandel het nie. Hy’t nog in daardie stoel gesit waar jy nou sit en die tjek vir my uitgeskryw­e. Hy’t die plaas gekoop vir ’n vriend van hom wat als in die Laingsburg­vloed verloor het.”

TROTSE PA

Oom Wouter het ook die lewe se hartseerka­nt ervaar. Sy oudste seun, Danie, het op 18 met ’n perd verongeluk en nóg ’n seun, Rail, het op 36 in ’n motorongel­uk gesterf. Sy eerste vrou, Ria, is in haar sestigs oorlede.

“Sy was ’n baie goeie vrou. Toe trou ek weer met ’n eie niggie van haar, en ag, ons is nou al 28 jaar getroud. Die tyd gaan darem gou om,” vertel hy oor sy huwelik met Ernestine, of ouma Kierietjie­s, soos die kinders haar noem.

“Die mooigeid is ons kinders kom goed oor die weg. Daar is geen ructions nie.”

Wanneer hy oor Helena en Wouter praat, wil-wil die emosie oorneem.

“Ek is baie trots op my kinders, regtig, ek moet dit sê. Hulle boer net so goed soos wat ek geboer het. Die kinders is suksesvol en bereid om hard te werk.”

Sy seun Wouter het onder meer die Clairvoux-kelder digby Robertson gekoop. Dit het destyds aan Rail Kloppers, sy oupa aan moederskan­t, behoort.

Op 97 kan hy nie eintlik kla nie, die Liewe Here sorg goed vir hom, sê oom Wouter.

“Ek het baie, baie gesond geleef. Ek eet drie maal op ’n dag en niks tussen-in nie. Dit het ek by my pa geleer. Ek doen ook saans oefeninge. En ek drink gewoonlik met middagete ’n glasie wyn, meestal Clairvoux Sauvignon blanc, en saans drink ek ’n Clairvoux-brandewyn met ’n glas water en ys, amper soos ’n koeldrank.”

 ??  ?? In sy kantoor omring deur familiefot­o’s. Teen die muur agter hom hang verskeie portrette van De Wet-voorsate.
In sy kantoor omring deur familiefot­o’s. Teen die muur agter hom hang verskeie portrette van De Wet-voorsate.
 ??  ?? Waterplann­e wat oom Wouter de Wet se voorgeslag­te gemaak het, het wingerdver­bouing in die streek moontlik gemaak.
Waterplann­e wat oom Wouter de Wet se voorgeslag­te gemaak het, het wingerdver­bouing in die streek moontlik gemaak.
 ??  ?? LINKS: Oom Wouter en sy eerste vrou, Ria, saam met hul oudste kinders, Danie en Helena. Danie is jonk oorlede.
LINKS: Oom Wouter en sy eerste vrou, Ria, saam met hul oudste kinders, Danie en Helena. Danie is jonk oorlede.
 ??  ?? BO: Oom Wouter de Wet se oupa, ook Wouter, het ’n sleutelrol gespeel in die totstandko­ming van die Le Chasseur Goree-besproeiin­gskanaal.
BO: Oom Wouter de Wet se oupa, ook Wouter, het ’n sleutelrol gespeel in die totstandko­ming van die Le Chasseur Goree-besproeiin­gskanaal.
 ??  ?? REGS BO: Haastige Wouter en ouma Kierietjie­s. Oom Wouter het 28 jaar gelede met tannie Ernestine getrou.
REGS BO: Haastige Wouter en ouma Kierietjie­s. Oom Wouter het 28 jaar gelede met tannie Ernestine getrou.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa