Johan Willemse: Saaiboere moet invoertariewe kry
Die jongste tegnologie help saaiboere om groter opbrengste te behaal, maar sonder invoertariewe gaan dit al hoe moeiliker word om mee te ding teen gesubsidieerde invoer.
Die jongste skatting van die Oesskattingskomitee bevestig ’n rekordmielieoes van 16 miljoen ton en die verwagting is dat dit effe verhoog kan word tot sowat 16,3 miljoen ton teen die einde van die seisoen. In die geval van sojabone het Suid-Afrika ook ’n rekordoes van 1,34 miljoen ton en boere beoog om produksie volgende jaar verder uit te brei.
Die groot oeste is te danke aan goeie reënval, maar dit is ook die resultaat van die nuutste tegnologie wat in graanproduksie gebruik word. As Suid-Afrikaanse kommersiële boere nie die jongste tegnologie van internasionale verskaffers van landbou produksiemiddele gekry het nie, sou sake baie anders daar uitgesien het.
Die nuwe tegnologie het tot gevolg dat graan- en oliesaadoeste vinniger groei as die vraag. Dit het tot gevolg dat internasionale pryse daal, maar in die lande in Noord-Amerika, Suid-Amerika en Oos-Europa met wie Suid-Afrika meeding, word die dalende pryse teengewerk deur voortdurend nuwe tegnologie te benut.
Suid-Afrikaanse kommersiële boere moet meeding met die werklikheid van die internasionale landbou-omgewing. In die geval van graan en oliesaad is daar nie juis beskerming teen invoer nie.
TARIEFFORMULE VIR KORING
Die ironie is duidelik gewys in die koringbedryf waar ooreengekom is op ’n tariefformule om binnelandse produksie te stimuleer, maar vanweë veranderinge in die beleid – en dus die invoer tariefformule–het die prys van koring wat tans op die land staan vanaf planttyd tot oestyd met bykans R800/ton gedaal. Dit is ’n groot knou vir koringboere in die Wes-Kaap waar die produksie-eenhede neig om stadiger te konsolideer.
Gegewe die nuwe tariefformule en die werklikheid van laer pryse op die internasionale mark is konsolidasie in die Wes-Kaapse koringbedryf onvermydelik.
Jy het die jongste tegnologie nodig om so doeltreffend moontlik te produseer en internasionaal
mededingend te bly. Dié tegnologie is nie op kleinboere gemik nie, maar op skaalekonomie om die laagste moontlike produksiekoste per eenheid te verseker. Om die toerusting te bly vervang en by te bly met die jongste tegnologie het jy al hoe meer hektare nodig waaroor die koste versprei kan word.
As ’n kommersiële boer met 500-1 000 ha graan dit kwalik kan bekostig om masjinerie te vervang en koste te verlaag, het ’n kleinboer met 100-200 ha graan feitlik geen kans om die mas op te kom nie.
As die Regering voortgaan met sy idee van grondplafonne moet alle boere aandring op invoerbeskerming teen die al hoe doeltreffender internasionale mededinging wat aangedryf word deur skaalekonomie en internasionale pryse wat laer neig.
Terwyl binnelandse beleidsveranderinge in Suid-Afrika die koste van produksie verhoog, is daar internasionaal toenemend ’n neiging om die voorraad van graan en oliesade op te bou. Dit lei tot laer dollarpryse.
Die groot voorraad en die lae pryse van graan en oliesaad is wêreldwyd ’n groot hupstoot vir die veebedryf. In Amerika, Suid-Amerika en nou Oos-Europa kry die veeboere hul voergraan in die afgelope jare al teen die uitvoerprys.
Dit is net ’n kwessie van tyd voordat die stygende produksie druk op pryse kan plaas. Dit word egter teengewerk deur die styging in die vraag na diereprodukte in die opkomende lande wat die produksie absorbeer.
GRAFIEK 1 toon die verloop van die voorraad mielies, koring en sojabone in die wêreld aan. Die skerp stygende neiging is duidelik waarneembaar.
Hiermee saam moet GRAFIEK 2 gelees word. Namate die wêreldwye voorraad styg, het die dollarpryse gedaal. Dit is veronderstel om verbruik te stimuleer en produksie te ontmoedig.
Wêreldwyd is moderne, kommersiële boerderye in ’n sekere produksie- of rotasiestelsel. Dit is ’n mite om te dink dat boere binne een seisoen op ’n redelike skaal van een gewas na ’n ander kan oorskakel. Eweneens is dit ’n mite om te dink dat ’n moderne, kommersiële boerdery sy produksie doelbewus met 30-40% kan verminder (dus sy omset ook!) en steeds die mas gaan opkom.
Die ander baie belangrike faktor wat in die wêreld verander het, is dat Amerika nie
meer die grootste, oorheersende produsent van graan en oliesaad is nie. Sekere graanproduksie streke in Amerika beleef erge droogte en aansienlike oesskade. Die voorlopige uitwerking daarvan kan in die verwagte daling in die wêreld mielievoorraad gesien word.
Die dinamika is so dat as een produksiestreek in die wêreld ’n swak oes het, lei dit nie tot ’n skerp insinking in voorraad nie en dit jaag dus nie pryse skerp op nie.
Die gevolgtrekking is dat dit onwaarskynlik is dat internasionale graanpryse in die volgende jaar of drie skerp gaan styg vanweë die verbetering in graanproduksie tegnologie en nuwe produksiegebiede.
SA MIELIESURPLUS
Die TABEL gee ’n raming van die jongste verwagtinge rondom die plaaslike mielieoes, waar ek die oes tot 16,3 miljoen ton aangepas het. Die Oesskattingskomitee het op 27 Julie die oes op 16 miljoen ton geraam, maar normaalweg word die oes ná die einde van die seisoen nog effe hoër aangepas.
Die onderste lyn toon die opbou in voorraad en dat die plaaslike produksietyd van 2017-’18 gaan begin met sowat 40% van die nuwe jaar se verbruik.
Die sleutel is natuurlik dat die surplus bo binnelandse verbruik uitgevoer word, maar daar ontstaan ’n bottelnek omdat omtrent alles padlangs na die uitvoerhawens vervoer moet word.
Intussen raak die mark in Suid-Afrika se noordelike buurstate al hoe mededingender. Zambië het ’n netto uitvoerder van mielies, sojabone en sojaprodukte geword en ding nou regstreeks met Suid-Afrika mee. Daar is selfs nou sojaboonmeel en sojabone wat uit Zambië in Suid-Afrika aankom teen laer as die plaaslik heersende pryse. Die produksiekoste neig om laer te wees in Zambië en die opbrengste is daar aansienlik beter as in Suid-Afrika. Zambië benut dieselfde moderne tegnologie, maar het ’n beter klimaat.
Omdat die groot internasionale voorraad van graan en oliesaad, en gevolglik lae pryse, nog ’n jaar of drie gaan voortduur, sal Suid-Afrikaanse graanboere hulle moet staal vir strawwe mededinging. Hulle sal’ n langer termyn strategie moet inneem.
Die keersy is dat die intensiewe veebedryf ’n groot hupstoot kan kry deurdat voergraan teen internasionale pryse (uitvoerpryse) bekom sal kan word. Dit kan voerkrale baie mededingend maak.