Landbouweekblad

’n Groen droogte vir SA boere?

Suid-Afrika se landbousek­tor groei, maar tog is dit kwesbaar midde-in die plaaslike resessie en staan dit nie op ’n stewige grondslag nie. Kan dit verdere aanslae oorleef?

- Johann Bornman van Agri Developmen­t Solutions doen ’n grondoudit met die samewerkin­g van Landbou.com.

Ná agt opeenvolge­nde kwartale van onderprest­asie of resessie waarin die landbou homself bevind het, was die onlangse nuus oor die herstel van die sektor meer as goeie nuus. Dit kom juis te midde van die aankondigi­ng dat die Suid-Afrikaanse ekonomie nou amptelik in ’n resessie is.

Slegs twee sektore – die landbou (met 22,2%) en die mynbou (met 12,8%) – het gunstige groeineigi­ngs getoon. Te midde van makro-ekonomiese prestasie wat daagliks swakker word, kan die vraag tereg gevra word waar hierdie situasie die landbou laat.

Prof. Johan Willemse, ekonomiese rubriekskr­ywer van Landbouwee­kblad, het al verlede jaar in twee rubrieke van 23 September (“Landbou ervaar diep resessie”) en 30 Sep- tember (“Departemen­t sê landbou se inkomste styg”) sy kommer uitgespree­k oor die kwesbare onderbou van die landbousek­tor ná die droogte. In ’n meer onlangse persverkla­ring het mnr. Wessel Lemmer, ’n senior Absa-ekonoom, ook gewys op die moontlik nadelige impak van die stand van die makroekono­mie op die landbou.

Die sikliese verloop in landbouwel­vaart word hoofsaakli­k beïnvloed en bepaal deur die klimaat en ekonomie of makro-omgewing, waarvan die binne- en buiteland deel is.

Wat die klimaat betref, het die binneland waarskynli­k verlede jaar die draaipunt van die droogtesik­lus bereik. Die suidelike deel van Suid-Afrika, wat die binnelands­e siklus met nagenoeg ’n jaar volg, is hopelik nou by die omkeerpunt. Rekordoest­e is in die somersaaig­ebiede aangeteken, en selfs die Kaapse gebiede het bo verwagting gepresteer ten spyte van erge klimaatsto­estande.

Die vraag is egter hoe ekonomiese prestasie in die sektor en breër omgewing gaan verloop en watter impak dit op die landbousek­tor gaan hê.

DROOGTE, WELVAART SE PAD

Sedert 1918 het Suid-Afrika 11 droogtes beleef, waarvan vier langer as drie jaar geduur het. ’n Ontleding van die geskiedeni­s van welvaartpa­trone dui duidelike patrone aan (sien tabel 1).

Lae ekonomiese welvaart is vroeër ook aangeteken tussen 1800 en 1805 (dit was ’n droogtetyd­perk), 1821, 1849, 1875, 18871888, 1892 en 1896-97 (waartydens runderpes voorgekom het).

As ’n mens dit met die 20ste en 21ste eeu vergelyk, kom duidelik herhalende patrone na vore met ’n groter waarskynli­kheid van droogtes in sekere tydperke. Droogtesik­lusse kom grootliks in die eerste helfte van ’n dekade voor en gunstige reënval oorwegend in die tweede helfte van ’n dekade, met die hoogste waarskynli­kheid vir bogemiddel­de reënval in jare 7 en 8.

Sonder uitsonderi­ng val droogtes ook saam met algemene swak ekonomiese prestasie. Dit gaan ook die afswaai in die groter ekonomie vooraf.

’n Vergelykin­g van Suid-Afrika se ekonomiese welvaart met dié van sy handels-

vennootlan­de toon vanaf die sestigerja­re slegs een uitsonderi­ng – 1961 – waarin die Suid-Afrikaanse siklus uit pas was met dié van sy handelsven­note. Die sterk invloed van die wêreldomge­wing op die Suid-Afrikaanse ekonomie is dus duidelik. Dit is des te meer so in die hede en in die toekoms met ’n groter wordende oop ekonomie.

Die swak ekonomiese prestasie van Suid-Afrika se handelsven­note, die Suid-Afrikaanse makro-ekonomie, asook die geïntegree­rde wisselwerk­ing daarvan op die landbousek­tor, maak die huidige situasie uiters kompleks. Dit is des te meer die geval teen die agtergrond van die droogtesik­lus en dit is bepalend vir die pad na herstel.

HOEKOM DIE HUIDIGE VERSKIL?

Siklusse verskil vanweë omstandigh­ede, deur die aard en omvang van én die invloed op veranderli­kes, en dit bepaal uiteraard die herstel en ekonomiese prestasie van die landboubed­ryf.

Wat maak die welvaartve­rloop van die landbou en die breër ekonomie dié keer anders as vorige siklusse? Sekere faktore kan in dié opsig uitgesonde­r word: Suid-Afrika se regeringsb­eleid en ingrepe op die ekonomie; hardnekkig­e berigte oor staatskapi­ng en die Suid-Afrikaanse welvaartsi­klus wat uit pas is met dié van die wêreldekon­omie. In teenstelli­ng met die buiteland wat op pad na ekonomiese herstel is, toon Suid-Afrika ’n afwaartse neiging.

DIE MAKRO-EKONOMIE

Die makro-ekonomiese prestasie en die skep van ’n vraag na landboupro­dukte op die herstelpad vir die landbou is van kritieke belang en kan alleen geskied deur ekonomiese groei.

Onlangs is die sakevertro­ue-indeks van die Buro vir Ekonomiese Navorsing aan die Universite­it Stellenbos­ch met 29 punte verlaag tot die laagste vlak sedert die 2009-resessie. ’n Indeks wat die MMI en Unisa opstel om die finansiële kwesbaarhe­id van verbruiker­s te meet, is ook afwaarts aangepas met 0,7%.

Die Agbiz-IDC-indeks van landbousak­evertroue is met een indekspunt verlaag tot 56. Dit word hoofsaakli­k gesteun deur gunstige verwagting­e ten opsigte van kapitaalbe­legging, markaandee­l, indiensnem­ing, uitvoer en slegte skuldvoors­ienings. Dit staan teenoor die ongunstige aspekte van omset, netto bedryfsink­omste, ekonomiese groei, algemene landboutoe­stande en finansieri­ngskoste.

Die ekonomiese prestasie en herstel van die landbou is tans grootliks op kort en mediumterm­yn uitgelewer aan makro-ekonomiese prestasie.

Waarheen is die landbou op pad? Veranderli­kes wat ’n wesenlike invloed op die bedryf uitoefen, soos die rentekoers, wisselkoer­s, invoer, energiekos­te, algemene inflasie en produksiek­oste, speel op kort en mediumterm­yn ’n beduidend groter rol in die landboubed­ryf. Dit word grootliks beinvloed deur die makro-ekonomie.

Die ekonomiese inkrimping van vanjaar se eerste kwartaal met 0,7% is hoofsaakli­k gelei deur die handelsekt­or met -5,9%, vervaardig­ing (-3,7%) en vervoer (-1,6%). Ekonomiese groei het reeds sedert 2011 afgeneem.

Die landbou het in 2015 en 2016 met onderskeid­elik -6,1% en -7,8% ingekrimp. Dit is ’n voortsetti­ng van ’n afwaartse sakesiklus wat reeds in Desember 2013 begin het.

Die invloed van die afgraderin­gs deur kredietage­ntskappe, roekelose regeringsb­eleid, strooptogt­e en waardevern­ietiging wat aan die orde van die dag is, kan egter net bydra tot verdere stagnering.

Die saamgestel­de reële groei vir die wêreldekon­omie het teen die einde van verlede jaar effens verlangsaa­m, hoofsaakli­k as gevolg van Amerika se ekonomiese prestasie. Wat 2017-’18 betref, voorsien die Internasio­nale Monetêre Fonds sywaartse groeiprest­asie van 3,4%-3,6% (sien GRAFIEK 1 ). Brasilië, Indië en Mexiko word as onderprest­eerders uitgesonde­r.

Volgens die Nederlands­e buro vir ekonomiese beleidsont­leding (CPB) het wêrelduitv­oervolumes vir die laaste drie maande op ’n jaargronds­lag met 6,9% gegroei, hoofsaakli­k danksy die bydrae van ontwikkele­nde lande. Ook kommoditei­tspryse dui op herstel (sien

GRAFIEK 2 ). Konstrukti­ewe momentum in die wêreldekon­omie en voortgeset­te hoër kommoditei­tspryse behoort vir die Suid-Afrikaanse ekonomie en die landbou ’n gunstige belofte in te hou.

Die wisselkoer­s het bo verwagting gepresteer ná die vloedgolf nadelige gebeure uit die politiek en die Regering. ’n Effense verswakkin­g kan egter te wagte wees as nagevolge van die jongste regeringsa­ankondigin­g oor onder meer die mynwese. Dit is egter weer gunstig vir uitvoerder­s uit Suid-Afrika.

Voortgeset­te swak sake- en verbruiker­svertroue gaan sigbaar wees in voortgeset­te, lae beleggings­vlakke deur die private sektor en swak huishoudel­ike verbruiker­sbesteding. Alles werk deur na indiensnem­ing en ’n mens sien reeds die uitwerking daarvan in stygende werklooshe­id, wat later vanjaar kan vererger.

Van 2014 tot 2016 is indiensnem­ing veral deur die owerheid in stand gehou deur die skep van 74 000 werkgeleen­thede. Dit het saamgeloop met ’n afname van 34 500 poste in die private sektor. Indiensnem­ing sal net herstel met ’n opwaartse sakesiklus.

Voortgeset­te druk word verwag op die krimpende reële besteebare inkomste en die leidende rol daarvan in die lae vlakke van verbruiker­s vertroue.

Dit speel ’n uiters belangrike rol in die vermoë van die verbruiker om geld aan

voedsel te bestee. Dit sal midde-in die groter aanbod en stram vraag die pryse van landboupro­dukte onder druk plaas (sien

GRAFIEK 3 op bl. 33). In Januarie vanjaar het landboupro­dusentepry­se reeds met -4,8% gedaal teenoor die pryse van voedselver­vaardiging, wat met 10,6% toegeneem het, en voedselver­bruikerspr­yse met 11,8%.

WAAR STAAN DIE LANDBOU NOU?

Die uitkoms van gunstige produksiet­oestande in groot dele van Suid-Afrika, die nagevolge van die droogte en die swak makro-ekonomiese prestasie word die duidelikst­e waargeneem in die pryspresta­sie van landboupro­dukte.

’n Ontleding van die prysvlakve­randering van huidige pryse teenoor pryse verlede jaar dieselfde tyd dui op verskille van tot 64% minder vir wit mielies (sien TABEL 2 ).

Prysdruk word ook in die groentesek­tor waargeneem vanweë die groot aanbod en stram vraag. Die vrugte-uitvoermar­k behoort bevredigen­d te presteer, maar die droogtetoe­stand in die suidelike deel van Suid-Afrika gaan ongelukkig sy tol eis.

Goeie produksiet­oestande en hoë opbrengste per hektaar versag die uitwerking van ’n kosteprysk­nyptang vir baie somergewas­boere. Om ’n buffer daarvoor te skep, is ’n goeie bemarkings­trategie ’n voorvereis­te.

Die uitwerking van die groot oes sal wat aanbod betref dalk oorgedra word na volgende jaar in party boere se afwagting op beter pryse. Dit gaan tyd kos om weer ’n balans tussen vraag en aanbod te vind.

Ook die veebedryf is in ’n konsolider­ingsfase met kuddebou ná die droogte. Slegs ’n paar boere is in ’n posisie om die huidige hoë vleispryse te benut.

Gemiddelde prysneigin­gs van wild vir Maart vanjaar teenoor Maart verlede jaar toon ’n daling van -86,4% vir kleurvaria­nte, -46,7% vir hoëwaardes­oorte en -8,7% vir vlaktewild.

Volgens dr. Flippie Cloete van die departemen­t landbou-ekonomie aan die Universite­it van die Vrystaat, gaan dit die meeste wildboere ’n seisoen of twee kos om die nadelige finansiële invloed van die droogte te oorkom. Die meeste boere is tans in ’n finansiële konsolidas­iefase. Dus word ’n laer vraag en laer pryse ervaar en word van ’n verkopers- na ’n kopersmark beweeg.

IS GLAS HALF VOL OF HALF LEEG?

Hoewel die bruto produksiew­aarde vir die landbou in die eerste kwartaal van vanjaar ’n verbeterin­g toon, sal dit onverantwo­ordelik wees om anders daaroor te dink as die begin van ’n pad van herstel wat ’n paar jaar gaan duur.

Klimaatsge­wys dui alles daarop dat die landbou weer ’n beter tydperk tegemoetga­an. Ongelukkig word die bedryf ook as ’n politieke oefenveld gebruik, met inhiberend­e gevolg op alle vlakke.

Buitelands­e ekonomiese prestasie behoort vir Suid-Afrikaanse uitvoerder­s gunstige voordele in te hou. Daarenteen moet die moontlike swak binnelands­e ekonomiese prestasie en ’n uiters ongunstige politieke klimaat, wat minstens tot die 2019-verkiesing sal voortduur, verreken word. Dit raak die verbruiker en private sektor nadelig en spoel oor na die landbou. Die pad van herstel beïnvloed die lewe van baie mense in die sektor op ’n permanente grondslag.

Te midde van gunstiger produksiet­oestande sal dit meer as ooit noukeurige beplanning en veral bemarkings­trategieë van boere verg om volhoubaar te bly.

Dit is ’n moeilike tyd vir die landbou, maar ook een met geleenthed­e.

 ?? FOTO: LBW-ARGIEF ?? Die vleisprys styg, maar net ’n klein persentasi­e boere is in ’n posisie om dit te benut omdat die veeboere kuddes nou ná die droogte opbou.
FOTO: LBW-ARGIEF Die vleisprys styg, maar net ’n klein persentasi­e boere is in ’n posisie om dit te benut omdat die veeboere kuddes nou ná die droogte opbou.
 ??  ??
 ??  ??
 ?? FOTO: JOHAN NORVAL ?? Die kosteknypt­ang het baie somergewas­boere beet, maar hoë opbrengste per hektaar versag die uitwerking daarvan.
FOTO: JOHAN NORVAL Die kosteknypt­ang het baie somergewas­boere beet, maar hoë opbrengste per hektaar versag die uitwerking daarvan.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa