Brande, droogte: Bye die sleutel tot herlewing
Bye is noodsaaklik in die landbou en broodnodig vir die verbouing van meer as 70% van alle gewasse. Ná die verwoestende brande in die Suid- en Oos-Kaap in ’n voortslepende droogte is bye ’n belangrike skakel om die gebied weer te laat blom en onder meer t
Pikswart grasstoppels en ’n verpoeierde aarde is al wat oorgebly het van die eens lowergroen kleinhoewe van 14 ha by Thornhill in die Oos-Kaap. Die 50-jarige mnr. Malcolm Botes en sy vrou, Deborah, boer op hierdie stukkie aarde heeltyds met Kaapse heuningbye. Of, altans, hulle het.
Die verwoestende brande van 7 Junie wat rondom Knysna gewoed het, het tragiese gevolge vir hierdie klein boerderygemeenskap tussen Port Elizabeth en
Jeffreysbaai gehad.
Malcolm vertel hoe hy die oggend nog brande help bestry het by die private skool Woodridge, salig onbewus van die dreigende gevaar op sy eie plaas. Hy beduie na ’n koppie voor hul huis, net aan die ander kant van die R102 waar die Bergrivierbrand oorgekom het. Sy bure, mnr. Walter en me. Myrna van der Riet, het omgekom toe hulle in hul huis vasgekeer is. Deborah kon betyds hul donkies en perde ontruim. Sy en Malcolm het self ’n bloekomboom met ’n haarbreedte gemis toe dit oor die pad geval het terwyl hulle van die brandende plaas moes vlug.
Daar is egter meer as een tragedie hier betrokke. Die bye is dood en die oorlewende swerms is swak. As byeboere, soos Malcolm, nie die proses aanhelp nie, kan dit tot 15 jaar duur voordat die bygetalle herstel.
SPOOR VAN VERWOESTING
Op Malcolm se hoewe staan verbrande korwe in as, ander is uitgebrand met die drade, gesmelte was en verskroeide heuning al oorblyfsels van die eens gesonde korwe. Hier en daar is tekens van lewe te sien in ’n kas. Klein bytjies veg verwoed tussen duisende dooie bye om hul vlerke te probeer skoon kry van die aangebrande heuning. Volgens Malcolm is dit ook net ’n kwessie van tyd voor hulle ook vrek.
As gevolg van die voortslepende droogte het Malcolm 1,4 ton sonneblomheuning uit die Vrystaat aangekoop om die bye deur die droogte te voer. Al dié heuning het ook uitgebrand.
In die puin lê al die toerusting van die heuning-uitwaaikamer, die bottelering-en-verpakkingskamer en die houtwerkwinkel met sy inhoud waarmee hy sy eie rame vervaardig en sy kaste reggemaak het.
Die skuur met 7 m³ hout vir die byekorwe het ook in die slag gebly, asook 410 uitgeboude superkaste wat vir die winter opgeberg was, en 2 000 voltooide superrame met volle basiswasvelle en 100 nuwe superkaste.
In die streek is sowat 700 byekorwe verwoes, waarvan 200 korwe op Malcolm se hoewe en in die onmiddellike omgewing was. Daarbenewens het sowat 20 000 ha fynbos wat die bye deur die wintermaande moes dra, gebrand.
PLANNE OM TE HERBOU
Volgens Malcolm word met slegs 10% van die bye in Suid-Afrika geboer – anders as in lande, soos Amerika, waar met 90% van die byebevolking geboer word. ’n Mens kan jou nie indink hoeveel wilde swerms ook in hierdie brande doodgebrand het.
Bye vlieg nie in brandgevaar weg van hul swerm nie. Hulle trek saam en beskerm die korf teen die aanslag van rook en vuur, en hul vlerke werk soos waaiers om die korf en koningin te red. Die Kaapse heuningby (Apis
mellifera capensis) kom slegs in gebiede voor met fynbos as hul hoofstapelvoedsel. Die Karoo vorm die natuurlike skeidslyn vir hulle en die Afrika-by (Apis
mellifera scutellata), wat volopper in die noorde is.
Die wonder van die Kaapse heuningbye is dat hulle kan hergroepeer onder ’n nuwe koningin. Malcolm verduidelik dat as hy die oorlewende swerms sterk genoeg kan kry, kan hy die swerms verdeel en hulle sal ’n
nuwe koningin lewer. Hy kan dus vinnig nuwe swerms aanteel en die bevolking aanhelp.
Daar is egter nie meer kos by Thornhill nie. Die droogte het nou ook probleemdiere, soos ratels en bobbejane, na die oorblywende byekaste toe gelok. Die skade raak daagliks erger en hy het niks om die kaste te versorg of te herstel nie.
Met trane in sy oë staar hy die verte in en prewel: “As dit net kan reën . . .”
WELDOENERS SE REDDINGSPOGING
Intussen het mense soos me. Jackie Hume met ’n byereddingspoging, “Save the Thornhill bees”, vorendag gekom. Jackie, wat welwillendheidswerk gedurende die brande gedoen het, het vrou-alleen ’n veldtog begin om suiker in te samel. Meer as 4 ton suiker is deur ondernemings, soos Shoprite en Cadbury, asook plaaslike weldoeners geskenk.
Dit is egter ’n tydelike oplossing en ook nie goed vir die bye nie. “Dit is soos om elke dag McDonald’s te eet, maar dit hou hulle nou aan die lewe. Bye benodig proteïene uit stuifmeel en koolhidrate uit nektar om gebalanseerd heuning en was te produseer,” sê Jackie.
Jackie se kennis van bye het oornag verbreed en sy rammel feite af soos ’n volbloedbyeboer. Sy woon in Port Elizabeth en het Malcolm en Deborah toevallig ontmoet terwyl sy ná die brande voer vir Deborah se perde en donkies aangery het.
Alles wat Malcolm van bye weet, het hy geleer by sy 81-jarige pa, Hendrik, wat nog heeltyds in die omgewing van Jeffreysbaai, Thornhill en die Gamtoosvallei met bye boer.
Met Jackie se hulp beraam hulle planne om Malcolm en sy pa se kennis te benut en inligtingsdae te hou. Hulle besef nou meer as ooit dit is nie net belangrik om die bye te beskerm nie, maar ook om seker te maak dat hierdie kennis nooit verlore gaan nie.
Voor die brande was Malcolm al geruime tyd betrokke by projekte om praatjies oor bye by skole en in gemeenskappe te hou. Hulle kyk nou ook na maniere om die gemeenskap betrokke te kry met die vervaardiging van byekorwe en om die vroue van die omgewing te nader om byebeskermingskleredrag te vervaardig.
Die Botes-gesin hoop ’n nuwe besigheid kan hieruit spruit wat vir almal voordelig kan wees.
In normale toestande sou Malcolm sy bye na kanolavelde toe aanry, maar hoe gemaak? Die kanola blom eers oor ’n maand en dit is nog sowat twee maande voordat die lemoenbome by Patensie gaan bot. Boonop is vervoerkoste net ’n onhaalbare uitgawe van ’n uitgewiste besigheid.
Sy versekering het wel ’n bietjie uitbetaal, maar dit is nie nagenoeg genoeg om die onderneming te hervestig nie.
Hulle beraam wel planne en die hoop in hierdie paartjie se oë is beslis nie uitgebrand nie. Malcolm gaan alles doen wat hy kan. “Ek kan oppak en weer gaan werk soek. Ek sal weer regkom.”
Die bye waarmee Malcolm boer, lewer suiwer heuning. “Dit kan hoegenaamd nie vergelyk word met die ingevoerde soort op winkelrakke wat weens invoerwette deur ’n bestralingsproses moet gaan nie.”
Hy verskaf regstreeks aan die publiek, op ’n mark in Port Elizabeth en ook aan ’n koöperasie op Humansdorp. “Dit is ’n klein besigheid en dek gelukkig al ons uitgawes.”
WAT KAN PUBLIEK DOEN?
Oor wat die publiek kan doen om byebevolkings te beskerm, was sy antwoord ironies en nie wat ’n mens te wagte sal wees uit hierdie puin van wanhoop nie. “Bye is lewensgevaarlik en ek sal niemand aanmoedig om byeneste om hul huise aan te hou nie. Beskerm net die byeboer.”
Mense, soos Malcolm en sy familie en Jackie, probeer alles denkbaar om die oorblywende bye te red. Wie gaan egter die byeboere red? Sonder hulle het die bye nie ’n kans op oorlewing nie.