Boerbokke: Wêreld staan tou, Regering sloer
Suid-Afrikaanse vleisbokrasse, nes hul inheemse kleinveefamilie, kan eersdaags volwaardige wêreldklasburgers word as dit van die toenemende vraag na goeie teelmateriaal afhang.
Wêreldwye belangstelling in die Boerbok, Savanna en Kalahari Red is op die Suid-Afrikaanse Boerboktelersvereniging (SABTV) se wêreldskou in Bloemfontein getoon deur besoekers uit Europa, die Midde-Ooste en Australasië.
Nes in die geval van die Dorperskaap moet die Regering egter sy sokkies optrek met die rompslomp om uitvoerprotokolle vas te stel.
Die beoogde uitvoer van sowat 300 000 Dorperooie na Rusland is ’n voorbeeld van moontlike wêreldbekendheid vir plaaslike inheemse rasse. Die Dorpertelersgenootskap is besig om dié reëlings te finaliseer.
Een van die uitvoerbestemmings wat groot belangstelling in die plaaslike vleisbokrasse toon en reeds oor ’n invoerprotokol beskik, is Saoedi-Arabië. Dié land se landbou-onderneming Al-Watania wil ’n kudde van sowat 1 000 Boerbokke in die noordwestelike provinsie Al-Jouf vestig vir die verwerking van organiese vleis.
Prof. Yahya Ahmed Yousef, hoof van Al-Watania se navorsingsentrum, het die SABTV-skou bygewoon. Hy wil teeldiere aanskaf en die gehalte van die skoudiere in Bloemfontein het hom beïndruk. Hy bedryf Al-Watania se veeteelt, asook die biosekerheid van die sowat 140 000 skape en die 7 000 melkbokke.
Mnr. Hennie Booysen, voorsitter van die SABTV, wil Al-Jouf besoek om aanbevelings vir die maatskappy se Boerbokteelprogram te doen.
Volgens Yahya sal hulle teelprogram stapsgewys aangepak word.
“In Saoedi-Arabië word die ramme vir menslike gebruik geslag, terwyl die ooie as teeldiere verkoop word,” sê hy.
SUID-AFRIKA ’N ‘VOORKEURBRON’
Mnr. Kobus Lötter van Doornpoort Genetics op Willowmore is ’n bekende teler met bande in die Verenigde Arabiese Emirate waar hy Boerbokteelmateriaal bevorder. Een van sy gaste by die skou was mnr. Saif Al Kaabi van Fujairah, sy uitvoervennoot na die Emirate.
Dit was Saif se vyfde Suid-Afrikaanse besoek om uitvoerdiere self uit te soek.
Hy is ook een van die 27 lede van Kobus se teelmateriaalgroep. Voor sy deelname aan dié groep het Saif Boerbokke uit Australië ingevoer en het hy aanvanklik net in Persieskape uit Suid-Afrika belang gestel.
“Maar toe hy eers die gehalte van die plaaslike bokke beleef het, het Suid-Afrika sy voorkeurbron geword,” sê Kobus.
Volgens Kobus was die vraag na Boerbokke uit die Emirate via sy vennoot se vee-agentskap aanvanklik flink, maar dit het ná drie jaar betreklik afgeplat.
“Ek verwag dat die opwinding wat die wêreldskou in Bloemfontein meegebring het, weer die belangstelling in Boerbokke in die Emirate sal aanwakker.”
Telers in die Emirate hou hul bokke ingevolge volvoerstelsels op hok. “Gevolglik het die vraag beperk geraak,” sê Kobus.
GEHALTE KRAAI STEEDS KONING
Hy bestempel die vraag na vleisbokke in Saoedi-Arabië egter as baie lewendig.
“Dit wil voorkom asof die klem van belangstelling daarheen verskuif waar diere goedkoper ekstensief aangehou kan word. Ek vermoed dat die beste teelmateriaal hoofsaaklik na telers in die Emirate sal gaan, teenoor dié van goedkoper, kommersiële diere na Saoedi-Arabië.”
Nieu-Seelandse vleisbokke is ver agter wat gehalte betref, sê Kobus. “Die gehalte van die ooie in Australië is baie goed, maar dié telers kort dringend ander teelmateriaal.”
“Die naasbeste Boerbokke ter wêreld is tans in die Emirate te kry, want net nadat ’n uitvoerprotokol in die Midde-Ooste aangegaan is, is topteelmateriaal daarheen uitgevoer,” sê Kobus. “Op my laaste besoek was ek baie tevrede met die gehalte van die ooie en die Arabiere weet hoe om ooie mooi af te rond. Hulle kort nog die kundigheid om hul ramme behoorlik voor te berei.”
Volgens Hennie ondervind sy bedryf ’n groei wat daagliks toetreders lok. “Die groot vraag na vleisbokke beteken teelmateriaal vir die buiteland, asook plaaslik.”
Die formalisering van die bokmark word egter deur die koopkrag van die informele mark bemoeilik.
Weens die deurlopende hoë vraag na slagdiere bly die plaaslike vraag na aanteeldiere goed. Die vernaamste afsetgebied vir bokvleis is lewende diere in KwaZulu-Natal wat deur die verbruikers self vir tradisionele geleenthede geslag word.
Om in dié vraag te voorsien, word vragte van tot 1 000 diere weekliks na KwaZulu-Natal vervoer, hoofsaaklik uit die gebiede waar vleisbokke gekonsentreer is. Dit is dele van die bosagtige Oos- en Noord-Kaap, Namibië en selfs dele van KwaZulu-Natal.
Daar is ook sterk koopkrag in Gauteng, waar telers hul bokke ten spyte van die metropolitaanse aard intensief op kleinhoewes aanhou. Afslaers bied ook gereeld vir dié mark bokveilings in die nabygeleë Parys aan.
UITVOERUITDAGING
Vir Hennie is die grootste probleem tans die vasstelling van ’n omvattende uitvoerprotokol. Indien die rompslomp vinniger
afgehandel word, kan meer gekeurde teelmateriaal van gehalte na Europa en Australië uitgevoer word.
“Ek kry baie navrae uit verskillende lande, soos Mauritius en Indië, maar ons is van regeringsprosesse afhanklik. Hopelik sal dit binne die volgende jaar of twee afgehandel word. Daar sal egter genoeg kommersiële diere van gehalte oorbly om in die plaaslike vraag te voorsien,” sê hy.
Nog ’n proses wat oorweeg word, is die goedkeuring van ’n rolmerk vir die bemarking van bokvleis, soortgelyk aan die handelsmerk vir Karoolam, wat op elke verpakking van bokvleis aangebring kan word.
“Boerbokvleis is in Amerika en selfs plaaslik uiters gesog, deels danksy die lae vetinhoud. Derhalwe moet die verbruiker dit op die winkelrak kan eien.”
Tans verhandel vleisbokke van 22 kg tot 35 kg teen R35/kg lewend. Die prys vir ’n lewende bokkie van 25 kg beloop R875 en teen ’n uitslagpersentasie van 47 is die slagprys daarvan bykans R75/kg. Die verbruiker dok in feestye meer op wanneer die slagprys tot bykans R90/kg styg. Tans is die slagprys van lammers sowat R70/kg te danke aan ’n aanbodtekort.
TOENAME IN OPKOMENDE BOERE
Boerbokvleis word op klein skaal in die handel versprei, deels weens die afwesigheid van ’n bemarkingsinstelling.
Booysen glo egter sodra die handelsmerkbemarking van Boerbokvleis afgehandel is, sal die bedryf aan die kleinhandel se vereistes van onder meer ’n konstante lewering van bepaalde hoeveelhede van hierdie vleis kan voldoen.
Die SABTV se ledetal van 450, wat die afgelope jaar met sowat 4% toegeneem het, verteenwoordig ongeveer 8 000 geregistreerde diere.
Volgens Hennie is die grootste ontwikkeling in die bedryf nou die toetrede van opkomende boere wat ’n bepaalde teelstan- daard vir hul diere nastreef.
“Ons het tot dusver al 33 inskrywings vir ’n junior kursus vir nuwe boere in die Noord-Kaap ontvang. Dit is verblydend dat hulle streef na ’n opgeteelde bok wat baie vleis dra.”
Hy het sy tevredenheid uitgespreek dat jong boere, wat veral uit vleisbokteler-families stam, ook nou sterker tot die bedryf toetree.