Landbouweekblad

Landbou in die Swartland

Hoewel dit in Julie bykans elke week ’n bietjie gereën het, is Swartlands­e boere dit eens dat hulle in Augustus én September minstens ’n outydse twee of drie duim moet kry om graanoeste en weidings deur te haal.

-

Die Swartland kry nie tans genoeg reën om ’n goeie oes en weiding te verseker nie. “Dit reën elke week, maar daar is nie ekstra vog nie,” sê mnr. Hannes Eksteen van die plaas Melkbosfon­tein by Piketberg. Hy het in Julie omtrent weekliks 10-15 mm reën gekry en sê die graan is baie klein.

“Die koring is mooi vir die hoeveelhei­d reën wat ons gekry het, maar is ver van gemiddeld. Ons sal ’n lang seisoen moet hê vir ’n goeie oes.”

Toe Landbouwee­kblad hom in Julie gekontak het, het sy aangeplant­e weiding al sodanig verbeter dat hulle nie meer so baie voer hoef te gee nie.

Hannes boer met Pediskape en Ngunibeest­e en is bekommerd dat die reënweer te vroeg kan ophou en hulle nie genoeg ruvoer sal kan lewer nie. Die Wes-Kaap het ’n groot tekort aan ruvoer.

Hy sê sy vee lyk goed gegewe die toestande, maar hy het dringend nog 50-100 mm reën nodig om die grond diep nat te maak en die damme te vul.

“Ons moet vog diep in die grond hê as dit begin warmer word in Augustus.”

Mnr. Niekie Mouton van die plaas Uitvlugt by Eendekuil sê hulle het vroeg in Julie ’n “verdwaalde donderbui van 30 mm” gehad, maar hulle is ver agter.

“Ek hoop die reën hou enduit. Ons koring is laat, maar het goed opgekom. Ons kanola is nie waffers nie.”

Niekie is ook bekommerd oor die koringprys wat so laag is. Hy meen dit moet R400 per ton hoër wees as hulle wil geld maak. Hulle voer nie meer hul skape nie, maar die weiding is skraps.

Hy sou graag wou hê dit moet in Augustus en September elke maand minstens 50 mm reën.

Daar kan nie vanjaar nog ’n fout kom nie, meen mnr. André Kirsten van Kirsten Boerdery by Darling. Hy sê dit lyk daar op die oog af goed, maar hy is bekommerd dat daar nie water loop nie en die damme leeg is.

“Ons kort iewers 50-70 mm reën dat die water kan loop.”

Die kanola lyk nie goed nie. Sekere kanolakult­ivars vaar beter as ander, maar die koring en hawer groei goed al is die plantjies nog klein.

“Ons het nog ’n lang winter nodig. Ons het nie weiding nie. Ek het skape in van my graankampe ingejaag, want ek is op-gevoer.”

 ?? FOTO: AMELIA GENIS ?? Die Swartland kry vanjaar reën, maar nooit genoeg om die damme vol en die grond deurnat te maak nie.
FOTO: AMELIA GENIS Die Swartland kry vanjaar reën, maar nooit genoeg om die damme vol en die grond deurnat te maak nie.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa