Landbouweekblad

KONTAK MET PLAASDIERE BESKERM TEEN ASMA

-

Plaaskinde­rs se algemene groter weerstand teen allergieë en asma is nie net danksy die baie meer mikrobes waarmee hulle in die plaaslewe in aanraking kom nie.

’n Suur wat algemeen in die speeksel van plaasdiere voorkom, is ook ’n doeltreffe­nde teenvoeter teen ontsteking van longweefse­l, is in ’n Switserse studie bevind.

Al hoe meer mense ly aan allergieë en asma, veral in nywerheids­lande. ’n Beraamde 30% van alle kinders ly deesdae aan ’n allergie, sê die Universite­it van Zürich in ’n verklaring.

Die uitsonderi­ng is egter plaaskinde­rs, onder wie die siekte teen ’n veel laer koers toeneem as onder kinders wat in dorpe en stede woon.

Tot dusver is aangeneem dat dit bloot danksy die hoër aantal en groter diversitei­t van mikrobes is, soos in minder higiëniese toestande die geval is. Sulke mikrobes bevorder die ontwikkeli­ng van ’n immuunstel­sel.

Die Switsers het egter nou ontdek dat kontak met die nie-mikrobiese suur Neu5Gc ook die ontwikkeli­ng van teenliggaa­mpies in mense aan die gang kan sit. Dié suur kom algemeen in die speeksel van gewerwelde­s – plaasdiere inkluis – voor.

Weens ’n genetiese mutasie kan mense dit egter nie produseer nie. Mense kan dit wel inneem deur kontak met diere of deur kos van diere-oorsprong te eet.

Die navorsers, onder die leiding van die immunoloog dr. Remo Frei, het die konsentras­ie van Neu5Gc-teenliggaa­mpies in serum-monsters van meer as 1 000 kinders gemeet. Die resultate het gewys daar was baie meer teenliggaa­mpies teen Neu5Gc in plaaskinde­rs se bloed, en kinders met meer teenliggaa­mpies het aansienlik minder aan asma gely. — MARLEEN SMITH

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa