Vroue-afslaer vat wolbeurs vas
’n Werknemer van BKB is die enigste vroue-afslaer in die veselbedryf. Sy is ook die eerste vrou in dié posisie sedert die wolbeurs sy deure in die vroeë 1920’s in Port Elizabeth oopgemaak het.
Me. Jo-Anne Naudé (24) se liefde vir die landbou is in haar gene. Sy is ’n agterkleindogter van die legendariese skaapteler mnr. Fanie Naudé, wat die Geelbek Merino saam met mnr. Abe Pepler ontwikkel het.
Jo-Anne het in die Oos-Kaap grootgeword op die plaas Leopardsvlei tussen Middelburg en Richmond waar haar pa, Eric, boer. Ná skool het sy ’n diploma in landboubestuur aan die Landboukollege Grootfontein verwerf.
Voordat sy verlede Oktober by BKB aangesluit het, het Jo-Anne praktiese ondervinding as ’n veldbeampte opgedoen en die tegniese aspek van die wolbedryf goed leer ken.
Sy het ook vir twee ander maatskappye gewerk en goeie ondervinding opgedoen.
Haar vorige werkgewer het verlede jaar ’n afslaer nodig gekry en Jo-Anne genader om die pos te vul. Dit was haar eerste keer op die rostrum by die wolbeurs. Sy sê dit was ’n senutergende oomblik.
“Anders as op veeveilings neem dit gemiddeld slegs 17 sekondes voordat die hamer val en die lot verkoop word. Dinge gebeur vinnig, maar die afslaers hoef darem nie so vinnig te praat soos op tipiese veeveilings nie.”
Dié jong vrou met haar regop postuur, fynbesnaarde geaardheid en geesdrif beskryf ’n goeie afslaer as iemand met die kenmerke van mnr. Basie Claasen, haar mentor: Ondervinding, statigheid, persoonlikheid op die rostrum en ’n ongeëwenaarde kennis van die bedryf.
Op ’n vraag of BKB doelbewus besluit het om ’n vrou in dié pos aan te stel, sê mnr. Jacobus le Roux, hoof van korporatiewe bemarking en openbare betrekkinge by BKB: “Nee. Haar praktiese ondervinding, tegniese kennis en agtergrond maak van haar ’n uitstekende kandidaat.”
SPANWERK
Jo-Anne sê BKB is vir haar soos ’n groot familie en sy is met ope arms daar verwelkom. Almal help mekaar. Sy het al ingespring en selfs gehelp met verskeping. Dit het meegebring dat sy tot donkernag by die hawe op bale moes rondklouter.
“As jy bang is vir werk, is hierdie omgewing dalk nie die plek vir jou nie.”
Jo-Anne wil graag die kopers se behoeftes verstaan sodat sy ’n goeie diens aan boere kan lewer.
“As jy nie die bedryf ken en verstaan nie, kan jy mos nooit ’n baal oortuigend opveil of ’n hoë prys per kilogram eis nie.”
Die onvoorspelbaarheid van die mark is vir Jo-Anne die moeilikste. Die lekkerste deel is die aanvoelbare energie in die lokaal wanneer rekordpryse behaal word.
“Die wêreld is baie lief vir wol.” Sy glo ’n premie sal altyd vir goeie wol betaal word, maar sy waarsku boere moet waak teen swak gehalte en verlaagde standaarde.
“Bokhaar geniet ’n nismark en die pryse kan wel meer wissel.”
Vanweë dié vesel se unieke eienskappe meen sy egter daar sal altyd daarvoor plek wees. Om met bokhaar te werk, is volgens Jo-Anne ’n mengsel tussen wetenskap en kuns.
Intussen leer mnr. Gerrit van Heerden, senior tegniese beampte vir bokhaar by BKB, haar meer oor die bokhaarbedryf. Sy behartig al geruime tyd bokhaarveilings op die beurs. Weg van die rostrum is sy ook betrokke by BKB se afdeling vir bokhaarhersortering waar sy groot vooruitsigte het.
Jo-Anne is ’n baanbreker vir vroue in die afslaersbedryf. Sy glo by uitstek harde werk en leergierigheid sal ’n mens bo laat uitkom. Haar raad aan ander vroue wat wil uitblink in poste wat tradisioneel deur mans gevul word, is om nooit emosioneel te raak nie.