Kom ons vier Afrikaans!
As jy Afrikaans praat en lief is vir die taal, moet jy die webwerf Afrikaans.com besoek. Landbouweekblad het met prof. Anne-Marie Beukes, nie-uitvoerende voorsitter van die Afrikaanse Taalraad en een van Afrikaans.com se ambassadeurs, gesels.
Hoewel prof. Anne-Marie Beukes ’n leiersposisie in Afrikaanse taalkringe beklee en by die taaldebat betrokke is, sê sy sy is nie ’n taalstryder nie, maar eerder ’n taalaktivis.
“Ek is nie ’n taalbul – of ’n taalkoei – nie. Ek wil ruimte skep vir Afrikaans, die ruimte opeis wat grondwetlik aan die taal toegeken is, en die gebruik van Afrikaans verder bevorder.”
Afrikaans is immers die derde grootste huistaal en een van die belangrikste lingua franca in Suid-Afrika. Op talle plase en die platteland word Afrikaans of een van die ander inheemse tale baie meer as Engels gebruik.
“As jy tweedetaalsprekers by die huistaalsprekers voeg, skat ons ongeveer 20 miljoen mense praat daagliks Afrikaans.
“Ek het nie ’n radikale handhawerbenadering tot taal nie, maar wil eerder ’n gunstige beeld oor Afrikaans uitstraal. Ek wil ook nie verdoemend wees oor Afrikaans en sê dit gaan binne ’n dekade uitsterf nie. Ons sê egter ons moet ons bekommer oor die vermindering van Afrikaans op skool- en universiteitsvlak en die taal nie net bewaar en beskerm nie, maar ook mense bemagtig om Afrikaans te gebruik.”
AFRIKAANS.COM
Afrikaans.com is ’n webwerf waarop Afrikaans se sjarme, eiesoortigheid en kleurrykheid gevier en verken word saam met en tot voordeel van projekte, organisasies en individue wat lief is vir Afrikaans. Die Dagbreek Trust finansier Afrikaans.com en die Veldtog vir Afrikaans.
Die gees van Afrikaans word mooi op Afrikaans.com saamgevat: “Afrikaans se horisonne is wyd en haar karakter is so eiesoortig soos elke mens wie se wortels op hierdie vasteland geanker is.” Anne-Marie is een van Afrikaans.com se ambassadeurs. “Die ambassadeurs is mense met ’n hart vir Afrikaans. Hulle werk vir Afrikaans, neem verantwoordelikheid op grondvlak en inspireer ander. Hul suksesstories het een ding gemeen: Afrikaans is die held. Elke ambassadeur vir Afrikaans lewer ’n wesenlike bydrae tot Afrikaans en die Afrikaanse leefwêreld.”
Die akteur Armand Aucamp, die skrywer Dana Snyman en die musikant Laurinda Hofmeyr is ambassadeurs.
ONDERRIGTAAL
Anne-Marie is ’n hoogleraar in toegepaste linguistiek aan die Universiteit van Johannesburg (UJ). Sy lei ook vertalers en tolke op.
“Toe die Randse Afrikaanse Universiteit (nou UJ) destyds gestig is, was dit juis om ’n tuiste te skep vir Afrikaanse studente wie se ouers nooit universiteitsopleiding ontvang het nie.
“Ek was een van daardie eer- stegenerasiestudente. Die land is nou weer in só situasie waar daar baie sulke studente is. Baie studente se monde hang oop as hulle daarvan hoor en dat ons dié aanknopingspunt het.”
Die Taalraad snoer die Afrikaanse gemeenskap as ’n eenheid saam. “By die Afrikaanse Taalraad is ons daarop toegespits om bewusmaking te skep oor die rol van Afrikaans in Suid-Afrika, maar ook as ’n medium van onderrig en leer. Dit gaan oor die taallandskap se diversiteit en heterogeniteit.
“Mense stuur maklik hul kinders na Engelse skole en sê dit is sodat hulle Engels kan leer. Dit is ’n drogredenasie. Jy leer nie Engels deur na ’n Engelse skool toe te gaan nie. Jy gaan na ’n Zoeloetalige of Afrikaanse skool waar jy in jou moedertaal onderrig ontvang en Engels as ’n vak neem en só as ’n tweede taal aanleer. Mense begryp dit nie altyd nie. Dit is waar ons rol as bewusmakers inkom oor die waarde daarvan om onderrig te ontvang in die taal wat jy die beste verstaan, jou moedertaal.”
ALMAL PRAAT TESAME
“Afrikaanse mense praat net een van vele tale in Suid-Afrika. Net soos alle mense in die land met mekaar skouers skuur, skuur die tale in Suid-Afrika ook skouers. Daarom moet ’n mens ’n verdraagsame ingesteldheid teenoor ander tale openbaar, Engels ingesluit.
“Ons beskerm Afrikaans in al sy gedaantes en wil die spanning oor taal probeer wegwerk. Natuurlik probeer ons om Standaardafrikaans te bevorder, maar ons bevorder ook die gebruik van daardie pragtige dialekte, soos Kaaps of Namakwalands.”
Geen taal bestaan in ’n vakuum nie, sê Anne-Marie. “Ons wat Afrikaans praat, lewe in ’n meertalige opset. As jy Afrikaans wil bevorder, kan jy nie nét aan Afrikaans dink nie.”