Ma en dogter maak ligte werk vir bruide
Elize Bornman en haar dogter Margaret Olivier bedryf ’n troulokaal op hul plaas aan die voet van die Vredefortkoepel waar bruide hulle oor niks hoef te bekommer nie.
Hoe het jul onderneming ontstaan? Ek het jare lank spyseniering gedoen en gegaan net waarheen ek gevra is om kos te maak. Die laat aande se harde werk en ryery het ons laat besluit om ons eie troulokaal op die plaas te bou. My man, Chris, boer met Brahmanbeeste tussen Viljoenskroon en Vredefort. Phirimane is nou al tien jaar lank aan die gang en ons het al talle funksies en troues aangebied. Phirimane beteken “sononder” in Tswana en die paartjies neem altyd die mooiste troufoto’s teen skemertyd.
Dis nogal ’n groot stap om te doen. Het julle alles van die begin af gebou?
Dit was net die begin van die droom wat ek gehad het. Ons het besluit om net eers die kapel en saal te bou. Die kapel het plek vir sowat 150 gaste en die Symphony-saal vir 200 mense. Ons het die onderneming self
gefinansier en uitgebrei namate dit gegroei het. Later het die Melody-saal, vir kleiner onthale, en verblyfgeriewe bygekom. Ons het nou ook ses selfsorgeenhede en ’n wittebroodsuite vir mense wat hier wil oorbly.
Bruide kan ook ’n spoggerige perdekoets, ’n miniatuurponie wat die ringe dra, en ’n eiesoortige troukoek wat soos ’n rok lyk, by julle huur. Wat maak julle nog uniek?
Ons maak die bruid se taak baie makliker deur alles wat sy nodig het, tot haar beskikking te stel. Ons dek die tafels, doen die blomme en ruim agterna op. Die bruidsuite waar die paartjie kan oorbly, is pragtig en spesiaal.
Benewens troues, watter ander geleenthede bied julle aan? Geen geselligheid is te klein of te groot vir ons nie – ons maak altyd ’n plan. Hier word gereeld verjaardae gevier en korporatiewe en jaareindonthale gehou. Ons probeer regtig hard om ons kliënte tevrede en gelukkig te hou. Ons is ook elke jaar stampvol tydens die Nampo-Oesdag. Ons het ’n landingstrook vir helikopters, wat dit vir gaste vergemaklik.
Jy en jou dogter bedryf dit saam. Wat maak julle so ’n gedugte span?
My dogter Margaret Olivier woon ook op die plaas en ons twee het dadelik aan die werk gespring om tafeldoeke, stoelrokkies, servette en so meer te maak.
Margaret sit hand by met die blomme vir die onthale – soms word daar laataande nog rose by die hek afgelaai wat ons vir die dekor gebruik. Sy behartig ook die besprekings vir die verblyfgeriewe. Ek is hoofsaaklik verantwoordelik vir die spyseniersdienste, maar sy help ook daarmee.
Margaret is boonop ’n opgeleide skoonheidsterapeut en as die bruid tyd het, word sy lekker bederf voor haar groot dag.
Ons vul mekaar baie mooi aan en elkeen weet wat van haar verwag word. Oor naweke word die ander sussies, Elschen en Christine, wat in Johannesburg woon, ook ingespan om by die troulokaal te help.
Ons het ook wonderlike vriendinne wat altyd bereid is om moue op te rol en te help met blomme en spyseniering as dit druk gaan. Dan kuier ons sommer lekker so tussendeur al die werk!
Dit klink of jy oorgenoeg hulp het. Neem jy mense ook in diens?
Ons plaasmense help om die tuine in stand te hou. Ons neem ook mense van Viljoenskroon in diens. In die besige tye verskaf ons werk aan agt mense, wat op ’n gereelde basis vir hulle ’n inkomste bied.
Waar bemark julle die troulokaal?
Op die internet en in plaaslike koerante.
Wat het jy oor jouself geleer sedert jy Phirimane begin het? ’n Mens moet nooit bang wees om te droom en kanse te waag nie. Soms verbaas jy jouself. Jy moet wel eers goeie navorsing doen voor jy wegspring met jou idee.
’n Ander les wat ons geleer het, is dat bruide dikwels jonk is en allerlei idees het, waarvan sommige onuitvoerbaar is. Dan moet jy geduldig wees en alternatiewe voorstel.