Stok-by-paaltjie-wingerd: 70% duurder, maar lonend
Stok-by-paaltjie is ’n duur, arbeidsintensiewe opleistelsel, tog sweer van Suid-Afrika se voorste wynmakers daarby, veral op die regte terrein. Die sakeman Johann Rupert was van die eerstes om stok-by-paaltjie-wingerde op sy plaas Riebeeksrivier te vestig
Soos die bakkie beur deur die Shiraz-wingerde op Riebeeksrivier by Riebeek-Kasteel teen die steil hange van Kasteelberg, kan jy jou maklik verbeel jy’s in die terraswingerde van die Côte Rôtie-distrik in Frankryk se noordelike Rhone-gebied.
Van bo af wink Tafelberg egter blinklyf in die verte, sowat 150 km anderkant die golwende Swartlandse graanlande. Dit is ’n toneel wat bevestig jy’s in Suid-Afrika, waar die vertikale loot posisionering s opleistelsel (VSP) nog die oorgrote meerderheid wingerde ondersteun. Alternatiewe stelsels, soos stokby-paaltjie, begin egter ook vastrapplek kry.
Dis juis hier op Riebeeksrivier, ’n plaas wat die sakeman dr. Johann Rupert vir die uitsoek-terroir aangeskaf het, wat die eerste stok-by-paaltjie-wingerde in Suid-Afrika in 2008 gevestig is. Stok-by-paaltjie, oftewel Échalas, verwys na ’n stelsel waar ’n wingerdstok teen ’n enkele paal opgelei word.
Die paaltjie steun die stok, wat die draadwerk wat VSP of Guyot vereis, oorbodig maak. Dit is baie soortgelyk aan ’n bosstokwingerd, behalwe dat die paal help om alle groei opwaarts te kanaliseer.
Stok-by-paaltjie word algemeen in die Côte Rôtie gevind. Dit is veral geskik vir baie skuins aanplantings of waar sterk winde kan pla – eienskappe van Riebeeksrivier wat die wingerd boukundige me. Ros a Kruger destyds in ag geneem het toe sy dié stelsel aanbeveel het.
Die grootste voordeel daarvan is dat topgehalte terroir en goed gedreineerde grond vir wingerd benut kan word op plekke waar steiltes en kontoere nouer aanplantings onmoontlik maak. Die stok-by-paaltjie-wingerdstokke het ook geen mededinging van aangrensende stokke nie en geniet hul eie mikroklimaat reg rondom die stok (in ’n VSP-stelsel staan wingerdstokke gewoonlik in die voor- of namiddag in die stok langsaan se skaduwee).
Die VSP is ook soos ’n wingerdmuur wat wind stuit, terwyl die wind deur die stok-bypaaltjie kan beweeg – en dis vermoedelik goed vir die gehalte van die druiwe.
Stok-by-paaltjie is nog ’n onbekende gesig in Suid-Afrika – en wynboere deins veral terug voor die koste en arbeidsvereistes daarvan (albei kan tot twee keer meer wees as met VSP). Vir mense soos Rupert en die wynmaker Eben Sadie is dit egter ’n sleutel tot wynsukses.
Mnr. Francois Viljoen, VinPro se hoof van wingerd boukundige dienste, skat net 50 ha tot 60 ha van die bedryf se wingerde is volgens dié metode opgelei. Die Rupert-wingerde is verreweg die meerderheid daarvan.
“Sowat ’n derde van die 25 ha wingerd op Riebeeksrivier is stok-by-paaltjie geplant. Die res is bosstokke en VSP,” sê mnr. Johan Nel, die plaasbestuurder.
Van die oudste bosstok kei n die R i eb e eks rivier vallei–C hen in blanc en Cinsault wat min of meer in 1985 geplant is – word ook op die plaas aangetref.
TOPTERROIR
Die R i eb e eks rivier vallei lê aan die Malmesbury-kant van die Kasteel berg, links van die R46pad, voor jy die Bot h mas kloof pas oorsteek na Riebeek-Kasteel. Die unieke omgewing is onlangs as ’n wynwyk uitgevaardig.
Die plaas se uitsonderlike terroir, met westelike hange met leiklip en skaliegrond, en suidelike hange met kleigrond, het aanvanklik die wynmaker Eben Sadie se aandag getrek. Hy en Rosa het vir Johann daarvan vertel, sê mnr. Gareth Robertson, bemarkingsbestuurder by Anthonij Rupert Wyne.
“Eben wou nie hê dat hierdie ongelooflike terroir vermors word nie. Hy koop steeds druiwe vir sy Pofadder Cinsaut van hier af.”
Die naam Swartland het die afgelope jare soos ’n veldbrand deur die wynbedryf versprei, veral danksy mense soos Eben, Adi Badenhorst en die Mullineux-egpaar, almal wynmakers wat byna internasionale kultusstatus bereik het.
“Die revolusie is nou verby, en dis tyd vir ’n evolusie. Die Swartland strek oor ’n baie groot gebied en dis asof daar ’n metamorfose aan die gang is. Vir die voorlopers gaan dit nie net meer oor ‘Swartland’ nie. Hulle lê werklik klem op die terroir en op kleiner deeltjies binne die groter gebied waar uitmuntende druiwe gelewer kan word, wat lei tot net sulke goeie wyne. Die Riebeeksriviervallei is een so ’n voorbeeld en dis waarom die omgewing sulke groot beleggers lok,” sê Gareth.
Die Mullineuxs het saam met die Indiese miljardêr mnr. Analjit Singh die plaas Roundstone gekoop. Mnr. Marc Kent van Boekenhoutskloof het die plaas Gold Mine ’n entjie verder gekoop. Dit is groot beleggings in ’n tyd waarin die wynbedryf eintlik noustrop trek.
“Ek dink dis die hellings en skaliegrond wat Riebeeksrivier se terroir so uniek maak. Ons het die beste wingerdgrond gaan uitsoek en dis hier teen ’n paar hange,” sê Johan.
“Ons kry beter lugbeweging hier, veral namiddae. Die suidelike hellings is beslis ook ’n bietjie koeler omdat dit minder regstreekse sonlig kry. In die somer is ons gemiddelde dagtemperatuur sowat 36 °C, maar dis drasties laer in die winter, wanneer dit snags by 6-7 °C kan draai en die dagtemperatuur sowat 20 °C is,” sê Johan.
“Ons kry ook beter reën hier teen die berg as 10 km van hier af.”
HANDBOEK-PLAAS
Sedert die plaas by die Anthonij Rupert Wyne-portefeulje gevoeg is, is baie opknappingswerk – aan die geboue én aan die wingerde – gedoen.
Met baie sorgsaamheid en met die hulp van geografiese inligtingstelsels (GIS) het Johan en Rosa aspekte, soos grondtipes en hellings, geïdentifiseer en sowat 35 ha uitgesoek wat na hul mening uitstekend vir wingerd is. Hul kultivar- en opleikeuses is ook volgens dié inligting gemaak.
“Die plaas lyk nou soos die handboek vir aanplantings,” sê Gareth.
Die westelike hange is met Shiraz beplant, waarvan die helfte stok-by-paaltjie opgelei is. Teen die suidelike hange het hulle Viognier, Marsanne (die eerstes in Suid-Afrika), Mourvedré, Durif (Petit Syrah), Rousanne en Shiraz gevestig. “Ons het ook Carignan en Grenache geplant.”
Die wingerde is hoofsaaklik op Richter 110-onderstokke, vir die matige groeikrag, droogtebestand heiden voordele daarvan teen wortelsiektes, gevestig. Johan sê hulle is altyd op die uitkyk vir nuwe klone wat meer aanpasbaar is by hul warmer klimaat en wat hoë temperature en droogtes beter kan weerstaan.
Volgens hom streef hulle ook daarna om te sorg dat die wingerde so oud as moontlik raak. En aangesien hulle nie groot maat produksie najaag nie, sien hy geen rede waarom die stok-by-paaltjie-wingerde nie minstens 40 jaar oud kan raak nie.
“Ons doen ekstra moeite met wingerdhigiëne. As ons die rolblaarvirus by een stokkie opmerk, sal ons dit dadelik uithaal. Ons is ook streng met die bekamping van miere en bestuur werkers sodat hulle nie die virus versprei nie. Snoeiskêre word ook gereeld gesteriliseer.”
MIN TROSSE, MAAR HOË DIGTHEDE
Hoewel hoë digtheid s aanplantings dikwels met stok-by-paaltjie geassosieer word, is dit nie ’n voorvereiste van die stelsel nie. Riebeeksrivier se stok-by-paaltjie-wingerde is wél teen ’n digtheid van 8 333 stokke per hektaar (1,2 mx 1 m) geplant.
“Deur teen hoër digthede te plant kan ons vir elke stok minder druiwe opsit as wat nodig is met ’n VSP- of gewone aanplanting van 3 000 stokke per hektaar om dieselfde opbrengs te kry. Ons probeer dat die stok net een tros per loot grootmaak, wat beteken die druiwe se gehalte is baie beter,” sê Johan.
Die stok-by-paaltjie-wingerde se oeslading word beperk tot 8-10 t/ha, terwyl die bosstokke op die plaas sowat 8 ton druiwe per hektaar lewer en die VSP-wingerde van 1015 t/ha gee.
‘Ons probeer dat die stok net een tros per loot grootmaak, wat beteken die druiwe se gehalte is baie beter.’
Teen hierdie digthede kos plantmateriaal en infrastruktuur, soos pale en besproeiing, ’n hoop geld. Volgens Johan is die kapitaaluitleg maklik 70% duurder as om ’n VSP-wingerd te vestig.
Die lote word deur die seisoen liggies om die paaltjie vasgebind, maar namate oestyd nader kom, word die onderste toutjies losgemaak
sodat die trosse oper kan hang vir beter kleurvorming.
“Aangesien die trosse so laag hang, is dit nie eintlik ’n plukker se vriend nie,” sê Johan.
Die druiwe word vroegoggend – voor dit te warm raak – in klein kissies gepluk en dadelik in ’n koelvragmotor gepak, wat dit teen 14-16 °C na die kelder op L’Ormarins (hul Franschhoekse wynplaas) vervoer.
MAAK SIN IN DIE GLAS
Die wingerd boukundige Jac o Engelbrecht het die wyn (van dieselfde kultivars, terrein, kloon, ouderdom, keldertegnieke en houtregime – al wat verskil was die stok-by-paaltjie teenoor die VSP-opleistelsel) geproe. Daarna het hy op sy blog Visual Viticulture geskryf: “Jou oë gaan oop, jou smaakkliere tintel en jy wil die bankbestuurder bel en stok-by-paaltjie plant! As die koste en arbeidsprobleme van stok-by-paaltjie jou koudgesit het, sal die wyn jou van plan laat verander.”
Johan sê ook die verskille tussen die wyn van die stok-by-paaltjie en VSP-wingerde, wat langs mekaar groei, is opvallend. Die stok-by-paaltjie-wyne is deurgaans elegant, met ’n lekker lang mondgevoel, mooi vruggeure en selfs ’n tikkie speserye. Veral die suidelike hange se wyn het ’n fris, maar afgeronde tannienstruktuur.
Gareth verduidelik die aanvanklike plan was om een wit en een rooi Riebeeksrivier-wyn te maak.
Nadat hulle egter die wyne van onderskeidelik die westelike en suidelike hange geproe het, het hulle besef hulle kan twee beter rooiwyne maak pleks daarvan om die twee hange se wyn te versny.
Die resultaat is die Cape of Good Hope Southern Slopes (wat op die plaaslike mark gerig is) en Cape of Good Hope Western Slopes (hoofsaaklik vir uitvoer). Riebeeksrivier se witwyn, Cape of Good Hope Caroline, is na Rupert se dogter genoem.
Die rooi versnitte verander elke jaar. Mnr. Vernon van der Hoven, die wynmaker, sê hulle volg nie ’n vaste resep nie, maar kies eerder uit die verskeidenheid “boublokkies” wat op die plaas groei. Shiraz bly die grondslag daarvan.
“Ons doen niks anders met die Western of Southern Slopes nie, maar die verskille wat jy in die Shiraz kry, is net helling- en grondverskille,” sê Vernon.
Vir Gareth is die stok-by-paaltjie-wingerde “iets spesiaals”.
“Jy kan dit proe aan die wyn. Selfs al kom dit teen ’n prys, kan jy dit regverdig wanneer jy die wyn proe.”