Landbouweekblad

94 Oom Vos van die Noord-Kaap

Ek staan voor die plaashek. Diep weggesteek tussen die doringbome, gebaken met die horings van ’n koedoe en gegrendel met ’n ketting en ’n slot. Oom Vos van die Noord-Kaap se plek.

-

‘Ou seun, die enigste plek waar ’n mens agterraak, is as onse Vader jou op hierdie aarde agterlaat.’

Tussen die sonsonderg­ang en die bosse deur kom ’n man nader geloop. Geklee in ’n kortbroek, bruin knopieshem­p en velskoene. Die grysheid van sy hare is sigbaar van onder sy hoed en verklap sy ouderdom. In die distrik staan hy bekend as Vos. Die storie is dat dit sy bynaam is, genoem na die silwervos. Die jakkals wat jy net in die nag sien. Wat sy regte naam is, is net ’n bespiegeli­ng, en of hy familie en vriende het, weet niemand nie. Oom Fasie vertel hy boer op ’n stukkie grond net buite die dorp, en Dominee het bevestig hy loop nie kerk nie, maar het jare terug ’n Bybel by die kerkkantoo­r kom koop.

Die haarsalon reken hy’s ongetroud en juffrou Susan sê sy het hom nog nooit by die skool gesien nie. Hy het dus nie kinders nie. Gert sê hy is elke Vrydagogge­nd in sy winkel. Dan koop hy die Volksblad, een koekie pers Lux-seep, jelly babies, twee liter Coke, vuurhoutji­es, een pak Fox en een pak rum & maple-tabak. So nou en dan koop hy skoonmaakm­iddels, kerse en sjampoe.

Daarvandaa­n gaan hy koöperasie toe, maak sy 1990’s Isuzu-bakkie vol diesel, koop ’n klompie boerderybe­nodigdhede en betaal kontant. Dan sien die dorp hom eers weer volgende Vrydag.

SELF GEBOU

“Is jy Charles?” vra hy en steek sy regterhand deur die draad. Sy linkerhand hou die jaggeweer vas wat oor sy een skouer hang.

“Ja, ek neem aan Oom is die bekende oom Vos?” vra ek en skud sy hand.

“Nee, dan’s jy by verkeerde plek, want bekend is ek nie.”

Hy grou aan ’n bos sleutels en kry die een wat met ’n oranje toutjie gemerk is. Die slot klink los en skiet oop. “Stop daar voor langs my huis. Dis daar tussen die bosse.”

Hy wys in die rigting van waar hy aangeloop gekom het.

Tussen die doringbome is ’n skuiling wat met rivierriet­e gebou en met ’n bordjie benoem is as “Ruff en tuff”. Binne die rietskuili­ng staan ’n iewers-uit-die-1960’s-woonwa op sementblok­ke. ’n Afdak bied skadu teen die hittige Noord-Kaapse son en in die middel van die skuiling brand ’n vuurtjie in ’n oopgesnyde oliedrom.

“Kry vir jou sitplek,” sê oom Vos en wys na die sitplekke gemaak van ou buitebande wat om die vuur staan.

“Hoe lank bly Oom al hier?” vra ek en gaan sit. “Jare, ou seun. Wil jy iets drink?” “Dit sal lekker wees. Net wat Oom het.” “Van die negentigs af.” Hy klim gebukkend die woonwa binne en kom met ’n 2 liter-Coke te voorskyn. Grou twee glase uit ’n staalkas wat onder die afdak staan. “Interessan­te blyplek,” sê ek. “Met my eie twee hande gebou. Die rietkamp natuurlik. Die karavaantj­ie het ek geërf. Was my oorle ma s’n. Selfs die afdak wat hier staan, het ek met my eie twee hande opgesit.”

“Indrukwekk­end.”

ELKE MENS HET ’N STORIE

Oom Vos staan op en gooi nog hout op die vuur. Die laaste van die son hang tussen die doringbome. “Jy’s die eerste gas wat ek in jare kry.” Oom Vos kyk na die vuur. “Hoekom wil ’n jong man wat my glad nie ken nie, by my kom kuier?”

“Ek doen navorsing vir ’n boek. Ek besoek mense van die platteland en vertel hul stories. Ek sal graag oom Vos se storie wil hoor.”

“Nee seun, ek het nie ’n storie nie,” lag oom Vos.

“Elke mens het ’n storie om te vertel. Vertel my van Oom.” Hy sug. Stilte. “Ek het hierdie grond gekoop met alles wat ek gehad het. My lewe in die Transvaal opgegee. Ek moes daar wegkom. Ek sou mal word. Die gedreun van karre, die gestoot en gestamp van mense. Ek het spasie gesoek. Lewe. Ek het my bakkie en karavaantj­ie gevat en hier tussen die bosse kom parkeer. Dit sou eers net tydelik wees. Daar lê my huisplanne. Ek wou kom huis bou.” Oom Vos staar in die vuur. “Ou seun, daardie eerste oggend toe ek wakker word en die koedoebul staar na my deur die karavaantj­ie se venster, toe’t ek geweet: Huisbou se gat. Ek bly in my karavaantj­ie. Later het ek riete langs die rivier gekap en die skuiling gebou. Sinke by die koöperasie gekoop en dak opgesit.

“Ek plant my eie groente en skiet my eie vleis. In die aande luister ek RSG op my FM-pie en in die oggende lees ek Bybel. Hier loop so 300 stuks skaap en 200 stuks Boerbok. Ek verkoop nou en dan op Kimberley se veiling en soms aan ou stedelingv­riende wat van die Kaap af teruggaan Jo’burg toe. Ek lewe lekker. Ek lewe goed.” “Hoe maak oom met elektrisit­eit?” “My diepvriesi­e werk met gas. Verder maak ek kos op die vuur en steek ’n kers aan vir lig. My FM-pie speel met ’n battery en televisie het ek laas gekyk toe Orkney snork nie nog gewys het.”

“Dink Oom nie ’n mens raak agter as jy nie bybly met tegnologie nie?” waag ek die vraag.

“Ou seun, die enigste plek waar ’n mens agterraak, is as onse Vader jou op hierdie aarde agterlaat. Die mens wat bybly by onse Vader, is ver voor die een wat bybly met tegnologie. Baie mense sien hierdie sonsonderg­ang net op die ‘interweb’, maar kyk nou daar, ou seun, vanaand sien jy hom soos onse Vader hom vir jou gee. Met jou eie oë.”

Charles Mathewson se pennevrugt­e het die afgelope elf jaar in onder meer Huisgenoot, SA Jagter en Prince Albert Friend verskyn.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa