95 Koning van die duine
Die ongerepte duinesee by Alexandria hoort op enige fietsryer se lysie van droombestemmings – dit verg kophou, vasbyt, fiksheid en ervaring.
So ’n paar jaar gelede was ek bevoorreg om deel te wees van die eerste groep mense wat die binneland van Namibië, deur die duinevelde tot teen die kus, binne sewe dae met ’n vetfiets verken het. Ek het nie ’n soortgelyke ervaring in Suid-Afrika verwag nie, maar die Alexandria-duineveld in die OosKaap het my verkeerd bewys.
Alexandria se skuiwende duineveld is een van die grootstes in sy soort, nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in die wêreld.
Dit dek ’n area van sowat 142 km2 en sommige duine is ’n ongelooflike 150 m hoog en 2,4 km wyd. Party duine is heeltemal kaal, terwyl ander oortrek is met pragtige plantegroei.
Daar is drie maniere om die duineveld binne te ry: van noord na suid in die rigting van Boesmansriviermond, van suid na noord in die rigting van die Sondagsrivier, of van die Woody Cape-natuurreservaat net buite Alexandria af. Die reservaat vorm deel van die Addo-olifantpark.
Dit het my vyf dae gekos om al die roetes te deurkruis. My pas was weliswaar stadig, maar sodra jy die hoë duine betree, is dit belangrik om jou energievlakke te beheer. As jy die duineveld injaag, sal jy binne ’n japtrap hyg na asem en jou bene sal jellie raak. Boonop kan jy jou tussen massiewe duine bevind, sonder enige bakens om jou te help om weer jou pad daar uit te vind.
LEES DIE SAND
Dis nie slim om die duineveld sonder ’n ervare ryer of toergids aan te pak nie. Die toestand van die sand is een van die grootste faktore wat ’n gemaklike rit in ’n oogwink in ’n baie ernstige een kan verander.
Die sand is harder vroeg in die oggend, van sonop tot sowat 10:00, as later in die dag, wanneer dit warmer word en die kuswinde die vog uit die sand blaas en dit sag maak. Die beste tyd van die jaar is winter, laat herfs en vroeg in die lente, want dan kan jy die meeste duine tot bo ry.
Sodra jy tussen die duine begin speel, verloor jy sig van die binnelandse bos en die see. Daar is dus nie bakens waarvolgens jy kan navigeer nie. Die beste is om jou krag te spaar sodat jy die duine stadig kan uitry om ’n uitsigpunt te kry en jou roete te hervat.
PRAKTIESE WENKE
Blaas jou bande af tot op 50 kPa sodat die kontakoppervlakte op die sand groter is en jou gewig meer eweredig versprei word.
Moenie dink jy kan dit doen sonder ’n rugsakkie met ekstra water en twee waterbottels op die fiets nie. Ja, gewig is uiters belangrik, maar dis selfs belangriker om gehidreer te bly in dié toestande. Neem ook ekstra kos saam.
Pak ekstra kettingskakels in, want die duinklimmery plaas druk op jou fietsketting. ’n Gebreekte kettting kan beteken dat jy die hele dag (met of sonder jou fiets) moet stap om die beskawing te vind.
Jy moet fiks wees en goeie fietshanteringsvermoë hê. Daar is steil duinafdraandes wat hoë spoed vereis, maar ook klimwerk wat teen ’n slakkegang geskied (en jy sal soms maar moet afklim en stoot ook). ’n Ryer wat nog sukkel met die op- en afklimslag gaan sukkel, want dit word baie gedoen, veral as die sand sag en warm is.
Moenie die duinesee onderskat nie; gebruik ’n toergids of toermaatskappy as jy dit aanpak.
Om die mees ongerepte en onbekende dele van Suid-Afrika so te ervaar, is ’n geleentheid wat as eens in ’n leeftyd bestempel kan word. Lees bietjie daaroor na en bederf jouself met ’n onvergeetlike toer.
Gideon van Oudtshoorn is ’n bergfietsgeesdriftige, persoonlike fiksheidsinstrukteur en vryskut-motorfietsrubriekskrywer. Hy het vanjaar weer die Absa Cape Epic voltooi. Hy is ook eienaar van GVO Bicycles, wat berg-, pad- en vetfietse invoer en versprei.