DIE ANDER SÊ
TOE die FairPlay-teenstortingsbeweging sy beraad gereël het waar onder meer maatskaplike steun vir afgelegde pluimveewerkers gekoördineer sou word, is een van die heel eerste uitnodigings tot mnr. Marcus Cornaro, ambassadeur van die Europese Unie (EU), gerig. Die beraad het op 2 Augustus plaasgevind. (Sien ook bl. 19.) Pleks daarvan om die uitnodiging te aanvaar, het die EU-afvaardiging ’n soveelste verklaring uitgereik waarin hy sê hy bly toegewy aan Suid-Afrika se ekonomiese transformasie en werkskepping. Die bul in die glaskas – die EU se volgehoue storting van hoendervleis in die land – is ontduik.
Plaaslike produsente, hoe doeltreffend ook al (en Suid-Afrikaanse produsente is, ironies genoeg, deur EU-navorsing as uiters doeltreffend bevind) kan nie meeding nie en begin afskaal. Van hulle het eindelik geen ander opsie as om hul deure te sluit nie.
Die EU het ontaard in ’n reeksontduiker van die kwessie van die storting van hoendervleis, en sy jongste verklaring is geen uitsondering nie. Hy ontken nie dat storting plaasvind nie. Hy kan nie anders as om toe te gee dat storting in die verlede plaasgevind het nie, want teenstortingsmaatreëls is in 2015 teen Duitsland, Nederland en Brittanje ingestel nadat hulle skuldig bevind is.
Maar ondanks enorme volumes invoer uit die EU, wat verlede jaar ’n hoogtepunt bereik het, sal die EU nie toegee dat met die praktyk volgehou is nie. Hy sê bloot daar is geen bewyse nie.