DAAI SILWER RANDJIE
Die Leeus het toe nie die Superrugby-kompetisie gewen nie, ondanks die voordeel van die hoogte bo seevlak, ’n tuiswedstryd en ’n vol stadion. Kwagga Smit se rooi kaart het die wind lelik uit hul seile gevat, maar die terugvegpoging was een van die indrukwekkendste wat ek nóg gesien het. Met 14 manne op die veld het die Leeus die Crusaders in die tweede helfte behoorlik versmoor. (Hoekom het hulle nie so begin nie?) Soos Nick Mallett ná die wedstryd opgemerk het: “Sometimes there’s honour in defeat.”
Verder is Suid-Afrika se ramspoedige, en, wil dit al hoe meer voorkom, volkome korrupte President, Jacob Zuma, nie uit sy onverdiende amp gestem nie. Ten minste het ’n hele paar ANCLP’s geskiedenis gemaak toe hulle hul gewete gevind en teen die stropery van ons land gestem het. Dit gee ’n mens darem hoop, hoe skraal ook al, dat ons dalk in die toekoms sinvol oor dinge soos grondhervorming sal kan praat.
Dit is dieselfde met die landbou. Die silwer randjie is daar, dit is net moeiliker om raak te sien. Veral as jy blaai deur die toonaangewende verslag wat die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) jaarliks uitreik. Dit is duidelik dat die landbou se supersiklus verby is. Die groot faktore wat landbou-inkomste vir 14 jaar sedert 2000 aangejaag het, is nie meer daar nie. Eers was daar die algemene opbloei in die ekonomie ná die sanksiejare en die uitwerking wat maatskaplike toelaes oornag op die vraag na kos gehad het. Dan was daar die gunstige gevolge van die deregulering van landboumarkte, veral die ontginning van uitvoergeleenthede deur ons vrugte- en wynbedryf. En in 2005 het die supersiklus goed die wind van agter gekry toe Amerika se biobrandstofbeleid amptelik vastrapplek gekry het en ’n enorme nuwe mark vir grane geskep is.
Toe kom die wêreldresessie van 2008. Ons banke het oorleef en die staat was gelukkig besig om miljarde rande aan infrastruktuur te bestee, onder meer aan die Wêreldbeker-sokkertoernooi, maar ons het nie ongeskonde daaruit gekom nie. Ondanks ’n kortstondige ekonomiese oplewing het die chaotiese Zuma-jare aangebreek en stelselmatig die ekonomie weggekalwe tot waar ons vandag sit — in ’n resessie en ’n wêreldmark wat toegegooi is met graan.
Maar daar is hoop. Graanplase se produktiwiteit het oor die jare met rasse skrede verbeter danksy tegnologie en beter produksiepraktyke. Vandag hou boere se nuwe klem op grondgesondheid groot geleenthede in. Vleispryse is genadiglik tans goed, maar daar is nog groot waarde om te ontsluit met presisieboerdery — van voeding tot genetika — en natuurlik die ontginning van uitvoermarkte.
Dan is daar die uitskieterbedrywe, naamlik bloubessies, makadamias en pekanneute. Jy wil sommer avokado’s byvoeg, met groot beoogde aanplantings by George.
Die vrugtebedryf het tans erge waterprobleme, en ondanks ’n goeie lopie hang die wolk van oorproduksie oor die sitrusbedryf.
Ten spyte van die probleme moet die waarde van ons gevestigde uitvoerwaardekettings egter nie onderskat word nie.
Plaaslik is daar nog bitter baie waarde om te ontsluit met landbouprodukte op die informele mark, wat volgens sommige ekonome tot 20% tot die ekonomie bydra. Te min mense weet egter daarvan. Kyk net wat het ZZ2 en McCain al in dié opsig reggekry.
Ons het nou wel nie die Superrugby gewen nie, maar volgende jaar speel die Cheetahs en Kings in Europa. En met verandering kom nuwe geleenthede — ook in die landbou.