Landbouweekblad

KORINGVERB­OUING IN WES-KAAP IS ONVOLHOUBA­AR

- ALWYN DIPPENAAR Riebeek-Wes

Vandag is 31 Julie en die maand se reënval was ver onder die gemiddelde. In ’n telefoonge­sprek vroeg vanoggend met Hennie Visser van Piketberg spreek hy sy kommer uit oor die reën wat vir 6 Augustus voorspel is. Die tekens word al hoe swakker, sê hy.

Ek sê toe vir hom ek kan nie na ’n weervoorsp­elling op my selfoon kyk nie, maar wat ek weet, is dat my pa altyd gesê het as dit nie in die eerste sewe dae van ’n maand reën nie, is dit nie ’n reënmaand nie en kom die reën eers om en by die 25ste van die maand. Ek hoop wat hy gesê het, is nie in Augustus van toepassing nie, anders sal ons probleme te veel wees om in een jaar op te los.

Twee weke gelede ry ek en my vrou ’n draai deur die SuidKaap – Heidelberg om tot by Witsand, waar ons by vriende oornag. Die eerste kanola wat blom, begin ons langs die see by Witsand sien. Kniehoogte en in ’n yl stand teenoor ander jare.

Die volgende môre vat ons die pad Malgas toe, waar ons met die pont oor die rivier gaan en met ’n grondpad waaraan gewerk word, na Swellendam ry. Ons hou by boere langs die pad stil en hoor van boere wat nie meer skape op hul plase het nie. Ons hoor ook mense praat van continuous

cropping in die toekoms. My vrou vramywat continuous cropping beteken, en ek sê vir haar dit beteken eintlik jy saai jaar ná jaar koring totdat jy jou gat sien. My pa het my geleer ’n man wat ál sy skape verkoop, verkoop kort daarna ook sy plaas.

Toe ons by Swellendam op die teerpad klim, sê ek aan my vrou ek hoop nie die storie wat ek al gehoor het dat sekere kooperasie­s in die Suid-Kaap met R150 000 000 se oorlaatsku­ld sit, is waar nie, want op die lande sien ek nêrens die potensiaal wat die rente kan betaal nie.

Wat ek wel sien, is dat daar ook boere is wat hul kanolaland­e met koring oorgeplant het, soos baie van die boere begin Julie in die Swartland gedoen het. Ek is een van hulle. Maar dit daar gelaat. In Landbou Burger van 28 Julie lees ek Richard Krige, Graan SA se verteenwoo­rdiger van die SuidKaap, se artikel “Graan jou wel – Só sorg die graanbedry­f vir meel”. Hy raak liries oor die tegnologie in die bedryf en verduideli­k dan verder hoe navorsing gedoen word om opbrengste te verhoog. Dan lees ek hy bly ook, soos ek, optimistie­s vir goeie reën in Augustus. Hy verwys na komende boeredae, skoue en kongresse, maar van die Agri Megaweek op Bredasdorp praat hy nie ’n woord nie. Ek wonder hoekom nie, of dalk het hy daarvan vergeet . . .

Ek wil Richard gelukwens met sy artikel. Alles wat hy sê, is so waar, maar ongelukkig staan daar mos langs elke waarheid ’n werklikhei­d. En die werklikhei­d waarmee ons hier te doen het, is onvolhouba­re koringverb­ouing in die Wes-Kaap teen ’n nie-winsgewend­e prys. Met die invoertari­ef wat glo vir die volgende drie jaar vas gaan wees, sien ek ’n donker prentjie vir koringverb­ouing in die provinsie.

Ek lees in ’n vorige LBW Johan Willemse skryf as die gewraakte liggingsdi­fferensiaa­l ook van die Safex-koringprys afgetrek word, kan die prys tot R2 900 per ton daal. Ek wonder wat die mense van die Suid-Kaap, wat ’n brief geskryf het met die versoek dat die liggingsdi­fferensiaa­l van krag moet bly, te sê sal hê. Ek het die opskrif van die brief gesien en dit is volgens my nie die papier werd waarop dit geskryf is nie. Ek wonder ook wat my vriende op Eendekuil sal sê oor Willemse se siening oor die liggingsdi­fferensiaa­l.

Een feit staan soos ’n paal bo water: As ek vandag die geld gehad het wat ek in die afgelope vyf jaar aan die liggingsdi­fferensiaa­l afgestaan het, het ek nie ’n invoertari­ef wat deur die staat goedgekeur moet word, nodig gehad nie.

Mag die reën wat nog moet kom, genoeg wees vir die komende somer, anders kan een misoes die einde beteken vir meer as een koringboer, veral vir mense wat glo hulle kan sonder die R560 per ton van die liggingsdi­fferensiaa­l klaarkom.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa