Landbouweekblad

Boere trek swaar by Riversdal en Albertinia

- — AMELIA GENIS

“DIT REËN, maar net nie genoeg nie,” klink al soos ’n koor, maar dit is vanjaar die storie van boere in die WesKaap, want dis nie asof dit glad nie reën nie.

Landbouwee­kblad het begin Augustus met mnre. Frikkie Oosthuizen, Helmie Honiball, Danie Oosthuizen en Willie Breyl, wat by Mosselbaai en Albertinia boer, op ’n skaapdag oor landboutoe­stande gesels.

Hulle sê hulle het tot dusver vir die hele jaar net 100 mm reën gekry. Verlede jaar was ook droog, met ’n totaal van 190 mm, maar toe het hulle “gereeld bietjies gekry” en op die ou end goeie oeste behaal. “Die reën kom, maar vanjaar is dit te min.”

Hulle sê daar was al sulke jare, dog die lewenskost­e styg aanhoudend en dit raak nie juis makliker om te oorleef nie. Van hulle sê vanjaar se droogte lyk soos 2009 en 2010, ander sê dit lyk meer na 1996, terwyl nog een sê 1970 was ook so droog. Hulle het toe eers in April 1971 weer goeie reën gekry.

Hulle het nog nie hoop verloor nie. “As dit in September reën, kan die jaar nog mooi eindig,” het een van hulle opgemerk. “Dan sny ons Desember lusern.”

Die boere sê hulle moet hul kuddes in stand hou. “Dis nie so maklik soos verkoop alle diere en koop weer as die droogte verby is nie. Ás jy dan diere in die hande kan kry, moet dit diere wees wat by jou toestande aangepas is.”

Hulle voer al hul vee van verlede jaar af, aanvanklik met voer van hul eie plase, maar die voer was teen Mei op.

Die boere sê hulle hou maar die weervoorsp­ellings op die webwerf www.yr.no dop, want al kan die webwerf dit nie laat reën nie, maak dit jou darem ’n week lank bly.

RUVOER SKAARS

Mnr. Artho Saayman van die plaas Platkop buite Riversdal wat die skaapdag gereël het, sê die droogte is die ergste wat hy nog beleef het. “Ons het nog geen noemenswaa­rdige reën gekry nie. Ons het geen ondervog in die grond of reserwes nie.

“Ruvoer is onbetaalba­ar duur. Ons kry strooi en grondboonr­este uit die Vrystaat, maar die vervoerkos­te maak dit baie duur.”

Hy sê gelukkig is mielies betreklik goedkoop en dit kan help om energievla­kke te handhaaf. “Ons kan dankbaar wees vir die lae mielieprys en rentekoers. Die wol en vleispryse is reg. Ek is daarom bly ek het nie my skaapboerd­ery tot niet gemaak nie.”

Hy gaan nie sy skape minder maak nie, maar sal die jong lammers strenger klas en meer van die speenlamme­rs verkoop. “As ons voor 15 September goed reën kry, kan daar nog ’n oes en kos vir die diere wees. As ons later in die jaar sien daar is nie oespotensi­aal op die graanlande nie, sal ons die vee moet injaag.”

Hy sê al reën dit nog vanjaar, maar hulle kan nie oes nie, gaan hulle volgende jaar sukkel met ruvoer en kragvoerpi­tte.

Hy sê 2010 was ook so ’n moeilike jaar. “Ek het al in droë jare glad nie geplant nie of glad nie die ramme by die ooie gesit nie.”

 ?? FOTO: AMELIA GENIS ?? Die graan is klein en laat tussen Albertinia en Heidelberg en die weiding skraps.
FOTO: AMELIA GENIS Die graan is klein en laat tussen Albertinia en Heidelberg en die weiding skraps.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa