SA maak rug styf oor hoender uit Europa
SUID-AFRIKA gee Europa nou klaarblyklik van sy eie handelsmedisyne.
In die verlede het Suid-Afrika binne sowat twee weke nadat Europese lande gesê het hulle is skoon van voëlgriep, weer hoender-invoer van die betrokke lande toegelaat.
Vanjaar het die Regering egter gesê hy wil eers daardie lande besoek om die status te bevestig, het dr. Charlotte Nkuna, bestuursbeampte van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging( SAP V ), op’ n beraad van die F ai r Pla y-teen stortings beweging gesê.
Nkuna en mnr. Marthinus Stander, uitvoerende hoof van Country Bird Holdings (CBH) en voorsitter van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging se braaihoender organisasie, het dié optrede verwelkom.
Nkuna het verwys na die uitbreking van voëlgriep onder volstruise in 2012 en gesê Europese amptenare wou Suid-Afrika eers self besoek voordat hulle toestemming gee dat onverwerkte volstruisprodukte weer daarheen uitgevoer kon word. Hulle het Suid-Afrika eers vyf jaar later besoek.
Van die voorstelle op die beraad was om meer nismarkte in hoender te ontgin en om beter met belanghebbendes en verbruikers te kommunikeer.
MEER SPOED
Stander het FairPlay bedank vir sy hulp tot dusver.
Die staat help om na oplossings te soek en ’n taakspan het in opdrag van die Regering reeds ’n dik verslag met voorstelle opgestel. Stander het gesê ’n mens moenie groot aankondigings verwag nie, maar oplossings sal eerder bietjie-bietjie in werking gestel word.
“Ek glo in die welwillendheid wat daar is, maar ons het meer spoed nodig.”
FairPlay is juis besig om handtekeninge vir ’n versoekskrif te werf waarin die Regering gevra word om op te tree.
Stander het gesê CBH het, op versoek van dr. Rob Davies, Minister van Handel en Nywerheid, asook ’n belofte van staatshulp, afgesien van planne om ’n aanleg in Mahikeng, Noordwes, te sluit.
STORTING
Oudregter Richard Goldstone, beskermheer van die F ai r Pla y-teen stortings beweging, het gesê hy is nie’ n kenner van werkloosheid of die pluimveebedryf nie, maar weet die bedryf skep baie werkgeleenthede in die landbou. Die bedryf is die afgelope ses jaar swaar deur afleggings, sluitings en likwidasies geraak.
Volgens hom is een van die belangrikste oorsake roofstorting deur buitelandse produsente, veral uit Europa.
Storting behels dat ’n buitelandse produsent ’n produk verkoop teen ’n laer prys as wat gewoonlik in sy tuismark gevra word, of teen laer as produksiekoste.
Roofstorting is wanneer die doelwit is om die plaaslike produsent sy deure te laat sluit.
“Die buitelandse roofstorter kan dan sy produkte teen hoër pryse na daardie land uitvoer, sonder om te vrees vir mededinging van boere wat gedwing is om hul besighede te sluit.” Dit is nie onwettig nie, maar word bloot in plaaslike en internasionale wetgewing “veroordeel”.
Die enigste toegelate hulpmiddel vir diegene wat skade ly weens roofstorting (“predatory dumping”) is die instel van invoertariewe, het Goldstone gesê.
Mnr. Anthony Norton, regsgeleerde van Norton’s Inc Attorneys, is optimisties dat Suid-Afrika se wetgewing oor mededinging en beskerming van verbruikers gebruik kan word om vergoeding ten opsigte van gestorte hoender te eis.
Mededingingswetgewing vereis onder meer dat oorheersing bewys moet word, wat gewoonlik moeilik is, maar Norton sê die wet maak ook voorsiening daarvoor dat markkrag bewys kan word.
Verskeie sprekers het vrae gehad oor etikette op ingevoerde hoender – hoe duidelik dit aandui van waar die hoender kom en deur watter prosesse dit gegaan het. Norton het gesê dit bied moontlikhede vir regstappe kragtens wetgewing wat verbruikers beskerm.
‘Ek glo in die welwillendheid wat daar is, maar ons het meer spoed nodig.’