Landbouweekblad

BUURLANDE HAAL SA STADIG MAAR SEKER IN

- — NICO VAN BURICK

BESLUITE wat Suid-Afrika se beleidmake­rs vandag neem, sal bepaal hoe groot bydrae die land se landbousek­ter sal kan lewer om in die groeiende vraag na kos in die res van Afrika suid van die Sahara te voorsien.

Me. Lulama Ndibongo-Traub van die Buro vir Voedsel- en Landboubel­eid (BFAP) se navorsings­afdeling vir Afrika het in Pretoria op die bekendstel­ling van die jaarlikse BFAP-vooruitsko­uing gesê die waarde van voedselinv­oer in die streek het van 2001 tot 2015 van $7 miljard (R93 miljard) tot $40 miljard (R534 miljard) toegeneem.

Afrika suid van die Sahara se bevolking groei die vinnigste ter wêreld. In 2001 was dit 0,9 miljard, in 2050 sal dit 2,1 miljard wees en teen 2100 sal dit 3,8 miljard wees.

“Suid-Afrika is tans die grootste uitvoerder na ander lande in die streek, maar hy kan nie té gerus wees nie. Daar is ander lande, soos Tanzanië, Uganda, Ethiopië en Swaziland, wat ook toenemend meer uitvoer.”

Sy sê waar Suid-Afrika in 2009 nog 60% van die landboupro­dukte in die streek voorsien het, het die land se markaandee­l in 2015 tot 41% gedaal.

BEGROTING

Ndibongo-Traub sê Suid-Afrika sal net sy geleenthed­e kan benut as daar klem gelê word op beleid wat risiko’s en koste gaan verlaag. “Op die vlak van primêre produksie sowel as landbouver­werking is gunstige beleid noodsaakli­k. Op primêre produksiev­lak moet daar byvoorbeel­d meer geld aan navorsing en voorligtin­g bestee word, maar die teenoorges­telde gebeur. In 2000 is 40,7% van die landboubeg­roting nog daaraan bestee, maar teen 2014 het dit tot 21,2% afgeneem.”

Sy meen ook ’n baie groter deel van die landbou se begroting moet aan infrastruk­tuurontwik­keling, soos besproeiin­gskemas, gaan. In 2000 was dit 7,1% en in 2014 net effens meer, naamlik 10,6%.

Wat voedselver­werking betref, is daar ’n ongunstige neiging. Daar was ’n daling in die werksmag in die nywerheids­ektor as ’n persentasi­e van die totale werksmag. Vervaardig­de goedere as persentasi­e van die totale bruto binnelands­e produk (BBP) het ook afgeneem. Die daling in die werksmag was vanaf 13,3% in 1970 tot 11,9% in 2010. Wat die BBP betref, was die daling vanaf 18% in 1970 tot 17,2% in 2010.

GELEENTHEI­D

Volgens dr. John Purchase, uitvoerend­e hoof van die landbousak­ekamer Agbiz, kan die verwagte skerp bevolkings­toename in Afrika ’n groot bedreiging óf ’n groot geleenthei­d wees.

“Wat ons daaromtren­t gaan doen, is in ons eie hande. Ons moet onsself reg posisionee­r en uitwerk hoe geleenthed­e benut kan word. Die probleme is baie en dikwels ingewikkel­d, maar die oplossings vir ons ontwikkeli­ng sal bepaal word deur ons vermoëns en ambisie.”

‘Die oplossings vir ons ontwikkeli­ng sal bepaal word deur ons vermoëns en ambisie.’

 ??  ?? Dr. John Purchase
Dr. John Purchase

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa