Die tyd vir pap beleid is verby
VERANTWOORDELIKE politieke besluite en duidelike, ondubbelsinnige beleid is van deurslaggewende belang om die onsekerhede binne die landbousektor uit die weg te ruim, sê dr. Mmatlou Kalaba, koördineerder vir handel en nywerhede by die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP).
Hy meen grondhervorming is die groot kwessie wanneer dit by beleidsekerheid kom.
“Ons het bruikbare inligting nodig wat ons kan gebruik om oor die grondhervormingskwessie te debatteer. Ons moet weet presies hoeveel grond is geoudit. In ’n onseker omgewing het ons meer vrae as antwoorde, en dit is nie bevorderlik vir debat nie.”
Kalaba sê te veel syfers word “rondgegooi” wanneer besluite geneem word. “Enigeen haal inligting aan wat vanuit hul oogpunt aanvaarbaar is, maar dit kan gevaarlik wees wanneer dit by besluitneming kom.”
Volgens ’n opname, bestaande uit amptelike inligting en eie ramings, lyk dit of Suid-Afrika baie nader aan sy aanvanklike grondhervormingsteiken van 30% grond in swart besit is. Die BFAP bereken meer as 20% (18 miljoen ha uit 82 miljoen ha) landbougrond is reeds oorgedra, of mense het geldelike vergoeding daarvoor ontvang.
“Sukses hang ook nie net af van die hoeveelheid grond wat oorgedra is nie, maar ook van die produksie daarop.”
NUWE OMSTANDIGHEDE
Volgens Kalaba kan Suid-Afrika nie juis peil trek op lesse uit die verlede nie, want die land was nog nooit in ’n bootjie waar ’n resessie saamgeval het met ’n droogte én swak kredietgraderings nie.
“Die land het ’n hoë werkloosheidskoers en ’n ekonomie wat teen minder as ’n helfte van inflasie en minder as ’n kwart van bevolkingsgroei groei. Ons het nie net nuwe beleid en idees nodig om ons uit hierdie gat te trek nie, maar die toepassing daarvan is ook belangrik.”
Dr. John Purchase, uitvoerende hoof van die landbousakekamer Agbiz, sê ook uit ’n politieke oogpunt bevind Suid-Afrika hom nie in ’n goeie posisie nie. Verdeeldheid binne die ANC oor onteiening sonder vergoeding en “radikale ekonomiese transformasie” teenoor meer gematigde benaderings het ’n uiters nadelige invloed op die landbou.
“Mnr. Lesetja Kganyago, president van die Resewebank, het self in die Parlement gewaarsku dat politieke onsekerhede die ekonomie skaad. Ek kan u verseker dat ons ook deurlopend werk om hierdie beleidsbesluite te probeer beïnvloed. Daar word talle gesprekke agter die skerms gevoer en daar is politici wat besef hoeveel skade al die onsekerhede veroorsaak.”