SPAN SÓ ’N ELEKTRIESE HEINING WAT VEILIG IS VIR SKILPAAIE
Wildlewe-geesdriftiges beskou Suid-Afrika as ’n skilpadparadys. Van die 43 skilpadsoorte ter wêreld huisves Suid-Afrika ’n volle derde, en 11 van die 14 soorte hier is endemies. Een van die skaarsste soorte, die suurpootjie, kom hier voor, asook die heel kleinste soort, die gespikkelde padloper.
Ongelukkig hou die toenemende gewildheid van geëlektrifiseerde plaasheinings ’n ál groter bedreiging vir dié reptiele in. Tienduisende sterf jaarliks, veral groot soorte, soos die bergskilpad, wat ’n dophoogte van 30 cm en gewig van oor die 30 kg kan haal.
Nuwe tegnologie en sonkrag het elektriese heinings die laaste jare al hoe aantrekliker en meer bekostigbaar vir boere gemaak.
Die meeste heinings word met ’n lae lewendige draad – ’n struikeldraad (trip wire) – gespan, net bokant die grond en aan die een kant of albei kante van die heining. Dit keer dat wild onderdeur die heining grawe.
Dié drade is gewoonlik 3 tot 15 cm bokant die grond, neushoogte van die roof- of teikendier. Groter diere spring gewoonlik weg van die draad as hulle die skok voel, maar diere, soos die bedreigde ietermagog, krul in reaksie op weens vrees en pyn. Dit laat hulle meestal rondom die lewendige draad krul, wat ’n reuseskok veroorsaak en hulle laat vrek.
Ander diersoorte wat gereeld weens elektriese heinings vrek, is ystervarke, luislange, likkewane, erdvarke, verkleurmannetjies,
brulpaddas en luiperd skurwepaddas. Die meeste slagoffers is egter skilpaaie.
Hul ingeboude verdedigings aksie i som in hul doppe terug te trek, pleks van weg te beweeg. Hul doppe bly dus in kontak met die kragdraad sodat hulle gedurig verdere skokke ontvang. Skilpaaie urineer ook weens pyn, wat die grond natmaak en die geleiding van krag deur die dier bevorder.
Hulle raak dan eers verlam en vrek later weens orgaanversaking, regstreekse weefselskade weens die hitte van die elektriese stroom, of sonsteek.
Daar is egter ’n oplossing om die skade wat elektriese heinings aan skilpadsoorte en ietermago’s berokken, tot die minimum te beperk. ■ Lig die onderste struikeldraad so hoog as moontlik. Die ideaal is 250 mm. ■ Die struikeldraad se ideale afstand weg van die hoofheining is dan 400-500 mm. ■ Bou ’n fisieke versperring. Die maklikste is om klippe al langs die onderkant van die heining te pak. Dit moet hoog genoeg wees om skilpaaie en ietermago’s weg van die lewendige draad te lei, en kan selfs die funksie van die struikeldraad oorneem. ■ Roofdiere, soos jakkalse, is nagdiere, terwyl skilpaaie in die dag aktief is. Deur die installering van ’n dienssiklus of tydskakelaar wat die stroom deur die dag afskakel, en saans weer aanskakel, kan ’n boer nie net krag spaar nie, maar ook skilpadvrektes verminder. ■ Nog ’n opsie is die span van maas-, diamantof bonnox-draad op die laagste deel van die heining pleks van ’n elektriese draad naby die grond.