Herstel ná droogte verg fyn beplanning
Die nagevolge van die droogte in die binneland is nog nie verby nie. Die mate van weiveldherstel sal afhang van opvolgreën in die komende lente en somermaande, sowel as die regte benadering tot weiveldbestuur. Boere en kenners gee wenke en raad.
Landwye droogtes het die beskikbare weidingsmateriaal in ’n swak toestand gelaat. In die winter is toestande vir ’n verbetering van die weidingsituasie boonop verder ongunstig.
“Veldproduksie is primêr afhanklik van reënval en is nie ’n deurlopende gegewe nie,” sê prof. Hennie Snyman, ’n weidingskenner aan die Universiteit
van die Vrystaat, in sy boek Gids tot die volhoubare produksie van weiding.
Mnr. Kotie van den Berg van die plaas Beeldhouersfontein naby Murraysburg in die Karoo sê dit is baie droog by hulle.
“Die ondergrondse water is swak én die gehalte van die weiding is laag. Heelwat weiding is egter nog beskikbaar, hoofsaaklik omdat ons nie so ’n langdurige droogte soos ander streke gehad het nie.”
Kotie sê met goeie reën en die regte bestuur van die weiveld behoort die veld in die volgende somerreëntyd weer op volle weidingkapasiteit te wees.
Mnr. Kobus Marais, ’n boer net buite Bloemfontein in die Vrystaat, sê die afgelope somer- reëntyd in sy omgewing was gemiddeld.
“Die reën was laat en het vroeg opgehou. Gelukkig was die reën in Januarie en Februarie vanjaar bogemiddeld en dit kon grootliks tot die herstel van die veld bydra.
“In die westelike somerreëngebiede, soos die Kalahari waar my ander plaas is, wissel die toestande van goed tot middelmatig. ’n Goeie reënseisoen is nodig om die veld goed te laat herstel.”
Boere moet seker maak hul veebelading stem ooreen met hul plase se weidingkapasiteit. Hulle moet besef die veld is in die somermaande ná die droogte baie vatbaar vir oorbeweiding. Die rede daarvoor is die omvangryke polafsterwing by die meeste grasse weens die droogte.
Met die hoë temperature en min opvolgreën in Maart vanjaar het die grond vinnig uitgedroog. Die weiplante kon gevolglik nie optimaal groei en herstel nie. Die groot hoeveelheid pionierplante wat tydens die baie reën in Januarie en Februarie in die somerreënstreke ontkiem het, het ook bygedra tot die grond wat vinnig uitdroog.
Só skryf Hennie en sy medeskrywer, dr. Mias van der Westhuizen, van die Vrystaatse departement van landbou en landelike ontwikkeling by Glen op Landbou.com in hul artikel
“Weiveldbestuur ná droogtes en belangrikheid van veldrus”.
Weens die groot klomp reën op een slag het veral witsteekgras (Aristida congesta) opvallend baie voorgekom en baie probleme by die wolskape veroorsaak.
WEIDINGSTELSEL
Weidingkundiges is dit eens dat as ’n veeboer voor of ná die droogte nog nie ’n wetenskaplik gegronde weiveldbestuurstelsel toegepas het nie, is dit nou die tyd om daarmee te begin.
’n Weidingstelsel dien juis as ’n vroegtydige waarskuwingsteken vir die korrekte veebelading. Sonder ’n veldbestuurstelsel wat voldoende rustye vir die beweide plante insluit, is vinnige veldherstel onmoontlik.
Met doeltreffende weiveldbestuur sal die meeste boere goed geposisioneer wees om in die toekoms droogtes die hoof te bied. Wetenskaplik gefundeerde weiveldbestuursbenaderings word heeltemal onderskat om plase se veldtoestand en uiteindelik die weidingkapasiteit te verhoog. Dit kan ook die impak van droogtes, wat eerder die reël as die uitsondering in Suid-Afrika is, versag.
Die teorie van weidingsherstel draai om genoeg reën en voldoende rustydperke, sê Kotie. Maar dit kan die boer se geldelike situasie, wat ná droogte gewoonlik onder druk is, selfs verder benadeel.
“In die praktyk beteken ’n ernstige droogte baie méér as slegs ’n tekort aan reën. ’n Rampdroogte het ’n nadelige uitwerking op die boer se finansiële posisie, laer inkomste en hoër uitgawes, sy gemoedstoestand, die voortsetting van sy beroep én op sy toekoms en dié van sy afhanklikes,” sê Kotie.
Tydens die droogte gaan die weiveld agteruit wat die produksievermoë en gehalte daarvan verlaag. Die grondtoestand word ook benadeel. Veegetalle verminder en die reproduksieprosesse word gewoonlik nadelig getref. Dit is verder vir die boer ook stresvol om te sien hoe swaar sy diere kry.
“Wanneer dit dan wel die dag reën, reën dit nie voer en inkomste nie,” sê hy.
“Die boer se gemoedstoestand kan onmiddellik verbeter, maar die inkomstestroom waarmee hy sy verhoogde finansiële verpligtinge moet nakom, sal waarskynlik eers ná 12 maande of langer verbeter. Dit beteken dat die druk op sy kontantvloei kan toeneem selfs nadat dit gereën het. Dit sal dus vir die boer moeilik wees om sy veegetalle te beperk ten einde die weiveld herstelkans te gee.”
RIGLYNE EN RAAD
Kobus sê dit is belangrik om ’n weidingstelsel te volg wat die risiko’s van droogtes in ag neem.
“Die voortdurende monitering van die weiveld is
noodsaaklik om jou veegetalle en weidingstelsel by die veldtoestand aan te pas. Só kan jy optimale produksie verseker.
“As die veld ná die droogte in ’n baie swak toestand is, is ’n goeie wetenskaplik gegronde weidingsplan nodig om weer die veld se volle potensiaal te bereik. Die goeie vleispryse kan veeboere help om met verloop van tyd veegetalle in balans met veld se potensiaal te laat herstel.”
Kotie meen om weiveld in ’n goeie toestand te hou en te verbeter waar moontlik, moet ’n konserwatiewe veebelading gehandhaaf word.
“Pas ook ’n beweidingstrategie toe. Hou die regte veesoorte en die regte tipe, aangepaste diere aan. Ken jou weiplante en beplan strategies vooruit.”
Hennie en Mias sê boere moet, indien moontlik, probeer om diere vir ten minste drie weke ná goeie reën aan die veld te onttrek om vinniger hergroei te verseker. Hulle besef wel dat dit nie altyd volkome prakties moontlik is nie. As diere in kleiner kampies of krale gevoer is, moet hulle vir nog drie weke in daardie toestande gevoer word.
Kotie stem saam en sê dit sal veldherstel bespoedig.
“’n Weidingstelsel moet gevolg word om kampe afwisselend ’n ruskans te gee,” sê Kotie.
Hulle raai boere aan om kampe waarvan veldtoestand drasties verswak het, spesiaal te behandel.
“Bewei hulle verkieslik net in die winter met ’n lang rustyd totdat die veld herstel het.”
Kotie beveel ook aan dat die kampe wat die minste deur die droogte benadeel is, eerste gebruik moet word.
“Andersins, gebruik die kampe met die laer potensiaal eerste. Dit gee dan die kampe met die hoër potensiaal ’n beter kans op herstel.”
Verdere raad deur Hennie en Mias is om kampe of dele met groot kaal kolle los te maak deur grondbewerking om afloop te beperk en beter vogindringing te verseker. Hierdie losmaakaksie moet nie sommer lukraak oor die hele plaas uitgevoer word nie aangesien die koste daarvan te hoog en ook nie ekologies geregverdig is nie.
Voer die aksie slegs uit waar besonder groot kaal kolle weens die droogte ontwikkel het en waar dit nie weer vinnig vanself sal kan herstel nie.
“Grassaad kan terselfdertyd ingesaai word. Dit moet dan met takke of hooi bedek word om ontkieming en die vestiging van saailinge te verseker.”