GEE SAAILINGE ’N KANS
Wat herstel betref, is die natuur eintlik wonderlik, sê prof. Hennie Snyman, ’n weidingskenner van die Universiteit van die Vrystaat.
Saailinge wat normaalweg nie oorleef nie, kan ná ’n droogte se eerste reënval kans kry om die plantegroeidigtheid aan te vul. Omdat plantbedekking ná ’n droogte drasties afgeneem het, sal saailinge genoeg water kan kry vir oorlewing en vestiging met minder mededinging van ouer plante.
Die oop ruimtes tussen die yl bedekte plantegroei wat nie vinnig deur saailinge gevul word nie, moet tydelik deur die vergroting van bestaande polle gevul word. Hierdie polle moet nie te gereeld en te straf bewei word nie. Té strawwe beweiding ná ’n droogte kan die weiplant se wortels verder laat afsterf. Dit sal die impak wat die droogte daarop gehad het, vererger.
Die hergroei van weiveld ná droogtes is stadiger as normaalweg. Dit het duidelik geblyk in dele wat in Januarie goeie reën ontvang het. Dit is algemeen bekend dat ongeveer 80% van die wortels van klimaksgrasse in die boonste 200 mm grond voorkom. Dié wortels is hoofsaaklik vir plantproduksie verantwoordelik.
Die ander 20% van die wortels wat die grondprofiel dieper indring, moenie minder belangrik geag word nie omdat hulle vir oorlewing van die plant tydens droogtes verantwoordelik is.
Dit is juis laasgenoemde wortels, wat normaalweg droogtes kan oorleef, wat ook weens die intense droogte gedeeltelik afgesterf het. As gevolg van dié neiging is voldoende rus en konserwatiewe veebeladings in die komende jaar of twee nog belangriker.
WEIDINGKAPASITEIT
Hennie sê die aangeplante weidings moet ná die droogte opgepas word.
“Boere kan onder meer eenjarige voersorghums in die lente ná ryp aanplant om voer te lewer en druk van die weiveld af te verlig. Smutsvingergras en ander meerjarige grasse het ook weens die droogte gedeeltelik afgesterf en moet ruskans kry om volkome te herstel.”
Tydens ’n normale tot bonormale reënvaljaar dra aangeplante weidings aansienlik tot die verhoging van die weidingkapasiteit van die plaas by. Ongelukkig is aangeplante droëlandweidings gevoeliger vir rampdroogtetoestande as natuurlike veld.
“Met so ’n rampdroogte is die produksie van die weiveld af dus gewoonlik hoër as vanaf aangeplante droëlandweidings.”
Die meeste veeboere se voerbank van hooi en kuilvoer is weens die droogte totaal uitgeput en moet so gou moontlik weer opgebou word.