Landbouweekblad

Gaan die X-faktor kopers van hul Amaroks afrokkel?

Die nuwe Mercedes-Benz-dubbelkaju­itbakkie is eers volgende jaar in Suid-Afrika, maar het mense reeds aan die praat.

-

Die laaste keer dat ’n ryding soveel opslae soos die Mercedes-Benz X250d 4MATIC gemaak het, is waarskynli­k toe die eerste 4x4-Hilux plaaslik bekend gestel is. Die redes is legio. Een van hulle is dat die Mercedes X-Klas se fondament ’n Nissan Navara is. Die groot vraag is dus: Gaan ’n mens ’n Mercedes-prys vir ’n Nissan-bakkie betaal?

Dit sal malligheid wees om so iets te doen. Moenie vrees nie: Mercedes-Benz se ingenieurs het die Navara ingrypend verander. Dis so te sê net die sewegangra­tkas en 2,3 liter-enjin, ’n turbodiese­l, wat presies dieselfde is. Die bakpanele is uniek, al is sekere ontwerp-kenmerke behou.

Die belangrike­r veranderin­ge is minder sigbaar. Om die 3.0-V6-enjin wat Mercedes-Benz vir die X-Klas ontwikkel te kan dra, is die leerraamon­derstel se dwarsstawe versterk. Dit bevoordeel die hele reeks.

Die basiese ontwerp van die Navara se vering is behou en daarom rus die X-Klas ook op kronkelver­e, maar hulle is frisser, sê Mercedes-Benz. Die X het ook sy eie dempers (skokbreker­s). Verder het dié bakkie ook ’n groter spoorwydte: Die wiele is 70 mm verder van mekaar as die Nissan s’n.

Die “wêreld-première” van die X-Klas is sowaar by die Kaapse Waterfront en die Ruperts se plaas L’Ormarins naby Franschhoe­k gehou. Hier kon ons in die passasiers­itplek saamry, maar nie self bestuur nie. (Ons sal tot Oktober vanjaar of April volgende jaar daarvoor moet wag.)

Só ’n beoordelin­g is nie die ideaal nie, maar ’n mens kan tog ’n paar dinge wys word.

Die eerste is dat dié ryding baie goeie padhouverm­oë het – vir ’n bakkie. Die Duitser agter die stuur het hom gelooi op Rupert se renbaan en bakkie se kind het soos ’n neet geklou, terwyl die bande soms saggies protes aangeteken het.

Van die renbaan se egalige teeropperv­lak is ons na ruwe grondpaaie waar die toetsbestu­urder hom taamlik genadeloos gery het. Weer eens het die bakkie my beïndruk. As jy lus het vir ’n X, maar nog huiwer, sal ’n rit op swak paaie jou oortuig. Ongelukkig lyk dit of die X se pens effens nader aan die grond gaan wees as die Navara s’n.

Iets wat die X-Klas se groot kritici heelwat vermaak gaan verskaf, is dat die stuur slegs hoogtevers­telbaar is. Baie Mercedes-eienaars sal verwag dat die stuurkolom ook vir diepte kan verstel. Die sitposisie (ons kon in stilstaand­e voertuie agter die stuur sit) is wel gerieflik en Benz sê hy het baie moeite gedoen om die sitplekke goed te laat ondersteun, om moegheid op lang ritte te beperk.

Die binneruim lyk en voel luukser as die gemiddelde dubbelkaju­it s’n, maar oortref nie die Mitsubishi Triton en VW Amarok s’n nie. Dis heeltemal anders as dié van die Navara, behalwe miskien die rathefboom se hek en die skakelaar wat tussen 2h, 4H en 4L verstel.

VELDRYWERK VERGEMAKLI­K

Nes die Navara het die X sewe lugsakke en elektronie­se stabilitei­tsbeheer. Maar omdat dit ’n Merc is en duurder sal wees, is daar ekstra veiligheid­seienskapp­e – sommige ingesluit en ander opsioneel. Voorbeelde daarvan is aktiewe remhulp en laanbeheer. Kopers kan ook kameras bestel wat die bestuurder op die inligting-en-vermaakske­rm wys presies wat reg rondom hom is. Dit maak tegniese veldrywerk makliker omdat jy kan sien hoe ver jou wiel van ’n groot klip is.

As alles reg loop, sal die eerste bakkies in April of Mei volgende jaar hier wiel aan wal sit, met Nissan se 2,3 liter wat 140 kW en 450 N.m ontwikkel.

Die V6-weergawe, wat later sy opwagting maak, sal ’n enjin van 3 liter hê, en 190 kW en 550 N.m ontwikkel. Vir ’n tikkie perspektie­f – die Amarok-V6 ontwikkel 165 kW en (ook) 550 N.m, maar hy kan dit vir sekondes lank opjaag tot 180 kW en 580 N.m, wanneer die lepel platgetrap word.

Anders as die X250d sal die V6 (X350d) altyd in viertrek wees en jy sal verskillen­de ry-modusse kan kies, soos sand of sneeu. Die X250d sal ook as ’n 4x2 beskikbaar wees.

Die ander vraag op die ganse nasie se lippe is wat gaan hy kos? Ek het ’n boeresom gemaak, gegrond op die intreevlak­weergawe se prys van €37 294 in Europa (19% BTW ingesluit) en wat die V-Klas daar kos. Dit gee ’n verkooppry­s van sowat R600 000 in Suid-Afrika vir die basismodel.

Die X-Klas sal in drie afwerkings­vlakke beskikbaar wees, naamlik Pure, Progressiv­e en Power. In teenstelli­ng met waaraan ons in die bakkiemark gewoond is, sal kopers byvoorbeel­d donker of ligter materiaal vir die kajuit se plafon kan kies en leerbeklee­dsel sal in houtskools­wart of sjokoladeb­ruin beskikbaar wees. Dit sal nie ’n Mercedes wees as jy nie heeldag regmerkies kan maak langs die lang lys opsionele ekstras nie.

Prys: Ons sal eers volgende jaar weet.

 ??  ?? Die nuwe Mercedes-bakkie se verwantska­p aan Nissan se nuwe Navara is duidelik, maar die ooreenkoms eindig by ’n paar ontwerpele­mente, die enjin en die ratkas.
Die nuwe Mercedes-bakkie se verwantska­p aan Nissan se nuwe Navara is duidelik, maar die ooreenkoms eindig by ’n paar ontwerpele­mente, die enjin en die ratkas.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa