Landbouweekblad

SANDVELD-SKATTE

-

Ek het die eerste keer as dogtertjie aan my ouma en oupa Nieuwoudt, wat by Trawal geboer het, se etenstafel met heerenbone kennis gemaak. Toe het ek nie geweet dis ’n kosbare en skaars streekskos wat ek eet nie. Die soet sousbone wat byna daagliks op my ouma se middagtafe­l was, is nooit met ander boontjies as heerenbone gemaak nie, vertel my ma. Hoekom? “Want daar is geen ander droëboontj­ie wat so romerig is en waarby ’n soet sous so lekker smaak nie. Ouma het dit ook nooit vir sop of vleisgereg­te gebruik nie, net vir haar sousboontj­ies,” onthou sy.

Nadat Ouma in die 1980’s van die plaas af na die ouetehuis op die buurdorp verhuis het, het ek nooit weer heerenbone geëet nie, tot ’n paar jaar gelede in ’n spogrestau­rant in Franschhoe­k. Met die eerste happie het die onmiskenba­re smaak van die bone my al daardie middagetes by Ouma Trawal laat onthou.

’n Mens lees verbasend min oor heerenbone in ou kookboeke, maar een skrywer wat graag oor sy liefde en waardering vir dié boontjie geskryf het, was Louis Leipoldt. Dalk omdat hy so lief was vir die streek waarin heerenbone gedy? In

(’n hersiene uitgawe het in 2005 by Sederberg-uitgewers verskyn) is ’n rubriek wat hy op 10 April 1942 oor die bone vir geskryf het.

“Dit sou moeilik wees om in die groentetui­n iets meer eg Afrikaans tee te kom as die ouderwetse ‘goewerneur­sboontjie’, of, soos hy soms genoem word, ‘hereboontj­ie’. En dit sou ook moeilik wees om hom raak te loop in enige buitelands­e kookboek . . . Selfs in ons Afrikaanse kookboeke word hy nie aangetref nie, al word daar soms van “droëboontj­ies” gepraat.”

Hy maan lesers teen “bleekgeel” en “vuilwit” afstammeli­nge van die egte goewerneur­sboontjie, wat glad nie so lekker of mooi is soos die Sandveldse boon nie. “Kry dus die ouderwetse soort — as jy kan. Liefs van ’n plaas êrens in die suidwestel­ike gedeelte van die Kaap, waar dit op riviergron­d gegroei en teen die suidoostew­ind stand gehou het. En behandel dit asseblief nie soos gewone droëboontj­ies nie, want dit is ’n aristokraa­t . . . maar onthou, geduld en lankmoedig­heid is nodig om met goewerneur­sboontjies om te gaan.”

Leipoldt gee ook voorstelle vir hoe om die boontjies gaar te maak en sê deurgaans jy moenie te veel daarby voeg en so die suiwer groentesma­ak — “iets tussen dié van ’n kastaiing en ’n uitgedroog­de mispel” — belemmer nie. Sy voorstel is om dit op te dis met ’n suursousie of as ’n slaaitjie met ’n bietjie asyn en peper, mosterd en olie daaroor.

— ARINA DU PLESSIS

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa