Landbouweekblad

BOEKEKUIER MET ERNS GRUNDLING

-

Die reisjoerna­lis Erns Grundling het in 2015 sy rugsak gepak, ’n laaste spertyd op die vliegtuig nagekom en toe sy stapstewel­s vasgemaak om die Camino Francés, ’n Spaanse pelgrimsro­ete oor 1 025 km in sowat ses weke af te lê. Erns se boek

Elders – my 1 025 km langs die Camino into the mild-ervaring ,oorwathysy noem, het vroeër vanjaar die lig gesien.

Is die Camino werklik ’n lewensvera­nderende ervaring?

Ek was ná 40 dae en 1 025 km weer so fiks soos laas op hoërskool en het meer as 10 kg afgeskud. Een van die Camino se grootste belonings was dat ek van emosionele bagasie ook ontslae kon raak. Wanneer jy vir lank stap, en dit dikwels op jou eie, kry jy kans om na te dink oor jou hele lewe. Soms is dit moeilik om so met jouself gekonfront­eer te word, maar ek het dit baie helend gevind. Ek het langs die Camino besef dat jy orals waar jy gaan, met jouself reis. Jy kan net sowel vrede maak met hierdie immer aanwesige reisgenoot. Maar ek het óók baie lekker gekuier, gelag en gesing saam met ander pelgrims van oor die wêreld heen.

Jy het sonder jou selfoon, skootreken­aar en kamera gestap. Was die digitale detoks moeilik?

Aanvanklik was dit ’n groot aanpassing, maar ná ’n paar dae het ek begin agterkom dat ’n mens goed kan klaarkom sonder al die digitale afleidings. Dit was geweldig bevrydend om die Camino sonder ’n selfoon aan te pak. Ek kon amper voel hoe my sintuie verskerp het.

Jy glo daarin om in die oomblik te leef. Hoe kry jy dit reg?

Al wat ons in hierdie lewe het, is die huidige oomblik wat die hele tyd besig is om te ontvou. Wanneer ons egter vasgevang raak deur bekommerni­sse oor die verlede en vrese en verwagting­s oor die toekoms, loop ons die gevaar om die kosbare “nou” mis te loop. Ons hardloop dikwels so rond – ook in ons gedagtes – dat ’n hele dag soms verbygaan sonder dat ’n mens stil word, al is dit vir enkele sekondes, en jou asemhaling waarneem. Die Camino, of enige meerdaagse staproete, is eintlik ’n goeie plek om hierdie manier van leef te kweek.

Kan enigiemand die Camino-roete aanpak?

Ek haal nou ’n frase van die skrywer Hennie Aucamp buite konteks aan, maar die Camino is “slegs vir almal”. Jy hoef nie noodwendig deur die een of ander lewenskris­is te gaan nie. Baie mense gaan stap die Camino omdat hulle bloot lief is vir stap of die pragtige natuur van die Spaanse platteland wil geniet. Ek het selfs ’n 76-jarige oupa van Kanada en sy 12-jarige kleinseun raakgeloop wat 820 km saam gestap het. Hoewel die Camino ’n Katolieke geskiedeni­s het, hoef jy ook nie gelowig te wees om te gaan stap nie. Jy kan self besluit hoeveel kilometer of vir hoe lank jy wil gaan stap. Daar is geen regte of verkeerde manier om die Camino aan te pak nie. Daar is net jou manier. Die Camino voorsien, net soos die lewe.

Wat is die beste raad wat jy voornemend­e stappers kan gee?

Moet liefs nie die Camino met stapstewel­s aanpak nie, jy gaan waarskynli­k probleme met blase kry. Dis veel beter om ’n goeie veldloopsk­oen te koop en dit ’n bietjie in te loop voor jy vertrek. Elders – my 1 025 km langs die Camino word deur Queillerie uitgegee en kos sowat R250.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa