INFORMELE MARKTE ‘LAAT DIE EKONOMIE GROEI’
SY raaiskoot is dat die Suid-Afrikaanse ekonomie met 3% tot 4% groei in teenstelling met amptelike syfers van ver onder 2% bloot omdat die invloed van informele markte waarskynlik onderskat word, sê mnr. Ernst Janovsky, landbou-ekonoom.
Janovsky, wat op die jaarvergadering van die SA Graaninligtingsdiens (Sagis) oor die belangrikheid van inligting gepraat het, sê Suid-Afrika het skielik weer begin om energie uit te voer. “Dit is goed vir ons betalingsbalans, wat sowat 6% in die rooi is. As ons daardie geld eerder binne die land kan bestee, beteken dit verdere groei. Ongelukkig sal dit dan bedrywighede, soos ska- liegasontginning in die Karoo, ook beteken.”
Hy sê die informele markte is baie groter as wat mense dink. “Tot 60% van aartappels word op straathoeke verkoop. Miljarde rand gaan deur korrupsie verlore, maar steeds groei die ekonomie. Dit is danksy die invloed van die informele sektor, maar omdat dit op ’n kontantgrondslag werk, kan dit nie bepaal word nie.”
Hy sê as banke gratis transaksies toelaat, sal dit Suid-Afrika ’n groot guns bewys, want dit sal help om die werklike omvang van die ekonomie te bepaal.
Janovsky glo ook die nie-amptelike werkloosheidsyfer van bykans 35% neem nie werkge- leenthede in die informele sektor genoeg in ag nie. “As soveel mense oor jare geen inkomste gehad het nie, moes ons nou al soos vlieë doodgegaan het ondanks die ondersteuning met behulp van maatskaplike toelaes. Die R10 wat ’n vrou met haar groenmielies op ’n straathoek verdien, is ’n werkgeleentheid in die informele mark waaroor ons nie praat nie. Karwagte verdien soms baie meer as mense wat formeel in diens is.
“’n Verpligte minimum loon gaan ’n probleem veroorsaak en meer mense werkloos laat. Hulle sal dan gedwing word om in hierdie informele mark ’n bestaan te probeer voer.”
Oor die vrye mark sê Janovsky die afskaffing van die beheerrade was die beste ding wat nóg in die Suid-Afrikaanse landbou gebeur het. “Vandag pluk ons die vrugte daarvan, maar behoorlike inligtingstelsels is noodsaaklik om dit te laat werk.”
Hy sê hy is tans besig met die insameling van landbou-inligting in Botswana. Weens ’n gebrek aan behoorlike inligting verdien ’n boer daar sowat R16/kg vir ’n speenkalf, terwyl dieselfde kalf in Suid-Afrika tot R40/kg kos. Die boere word verarm omdat daar geen inligtingstelsels is nie.
“In Suid-Afrika het ons instellings wat werk, maar die politiek werk nie. In Botswana is dit andersom. Die politiek werk, maar daar is geen instellings nie. Albei moet werk – anders is daar ’n wanbalans. In Suid-Afrika bestuur ons tans die politiek deur middel van ons howe. Die Grondwet maak dit moontlik.
“Sonder ’n Grondwet soos hierdie sou ons nie kon keer dat Suid-Afrika ontspoor nie. Hier sou lankal ’n Zimbabwe-situasie gewees het,” sê Janovsky.