DIEANDERSÊ
VOORSTANDERS van titelaktes redeneer dat banke nie grond sonder titelaktes as sekuriteit vir lenings aanvaar nie, wat armes daarvan weerhou om kapitaal te leen en in hul besighede te belê. Maar prof. Ben Cousins van die instituut vir armoede-, gronden landelike studies (Plaas) sê volgens navorsing is weinig armes bereid om só ’n kans met hul huise te waag omdat klein ondernemings dikwels bankrot speel.
Plaas en die instituut vir sosiaal-ekonomiese regte het saam ’n nuwe boek geskryf, getiteld Untitled. Securing land tenure in urban and rural South Africa. In die boek word die stelling gemaak dat om bloot titelaktes aan alle Suid-Afrikaners toe te ken, nie die blywende probleem van verblyfsekerheid sal oplos nie. Dit is omdat die konvensionele stelsel van eiendomsbesit – aktes, eiendomsbelasting, munisipale dienste en ontwikkelingsprosesse – moontlik al by breekpunt is en dalk selfs vir die opkomende middelklas onvoldoende is.
Die skrywers meen ’n meer redelike manier om verblyfreg na armes uit te brei is om dié konvensionele stelsel aan te pas ten einde die maatreëls wat verblyfreg bepaal, ’n mate van amptelike- en regserkenning buite die formele, amptelike stelsels te gee. Kundiges wat in gemeenskappe sonder titelaktes werk, het reeds meganismes geskep wat sulke regte stapsgewyse kan beveilig, soos spesiale grondgebruiksones, die erkenning van bewoningsregte in informele nedersettings en die gebruik van rekords en getuienis.