MIGRASIE DRA BESLIS BY TOT WATERTEKORT
Die redakteursbrief “Oos, wes, tuis bes” (LBW, 28 Julie) het betrekking. Nog voor ek dit gelees het, het ek by twee openbare geleenthede in Julie (die Wes-Kaapse departement van landbou se voorligtingsimposium en Agri Wes-Kaap se kongres) aan van Suid-Afrika se voorste navorsers gevra hoe die migrasie van mense na die Wes-Kaap van oor die hele land waterverbruik in die provinsie raak. Terloops, die navorsers doen baie goeie werk oor klimaatsverandering.
Omdat dit ’n teer politieke kwessie is (soos Chris Burgess ook sê), wou nie een van hulle werklik ’n uitspraak lewer nie, maar het erken dat so ’n ondersoek nog nie werklik gedoen is nie. Ons as voedselprodusente
moet egter ook weet dat migrasie in ’n mate ’n voordeel vir ons inhou, want ál die mense moet eet en hulle gebruik baie van die produkte wat ons plaaslik verbou, veral groente. (Groente het van al die voedselsoorte wat boere lewer, waarskynlik die meeste water per hektaar nodig.)
Die punt is egter dat daar ná al die jare nooit voorsiening gemaak is vir die groeiende permanente bevolking se waterbehoef-
tes nie, die water wat nodig is om vir hulle voedsel te verbou en die water wat nodig gaan wees in die nuwe nywerhede waar hulle sal moet werk.
Die plaaslike politici en stadsvaders, wat nog alyd goeie werk gedoen het, moet net die “somme maak” van hoeveel water per kop benodig word vir huishoudings en nywerhede (nie die huidige afgeskaalde kwotas nie, maar dit wat voor beperkings per kop gebruik is).
Daarvolgens moet ’n progno-
se gemaak word vir die toekomstige behoefte. Vergelyk dit dan met die bestaande damme (dit lyk nie of die nasionale Regering die vermoë het om nuwes te bou of bestaandes se walle hoër te maak nie) se maksimum houvermoë voor die inwerkingstelling van nuwe noodplanne. Die noodplanne moet nooit deel wees van die daaglikse verbruik nie, maar altyd beskikbaar wees en vinnig in werking gestel kan word as daar ’n krisis ontstaan. Terloops, om watertenkwaens te gebruik, moenie deel wees van noodplanne nie, want dan is ons klaar diep in die modder.
Hierna moet hulle maar net die nare werklikheid in die oë kyk en in die openbare media of Staatskoerant uiteensit wat kan gebeur as die bevolking van die Wes-Kaap steeds toeneem en die watervermoë nie vergroot word nie. Die Wes-Kaap kan ook nie langer vir die nasionale Regering wag om waterhouvermoëns te
vergroot nie. Bou eerder nuwe damme met ons eie provinsiale kontrakteurs of vergroot bestaandes, en betaal dan boetes as die Regering so sê. Ons glo daar is ook baie ander goeie voorstelle.
Die Regering sal ook moet besluit of daar nie dalk met aankoms in Suid-Afrika ’n “waterheffing” op buitelandse toeriste by die onderskeie provinsies se internasionale aankomspunte gehef kan word nie. Wat help dit om toeriste vir kort tydperke te lok, maar as hulle weg is, ly die plaaslike bevolking steeds aan waternood? Kan ons hulle nie dalk met hul vertrek ’n vorm laat voltooi om te sê watter waterbesparingsplanne hulle kan aanbeveel vir die plekke wat hulle plaaslik besoek het nie?
Bogenoemde is maar net ’n klein stuiwertjie in die “waterkrisis-armbeurs”.