Landbouweekblad

KORINGBOER­E HOU ASEM OP

- — NICO VAN BURICK

DIE koringoes in die Wes-Kaap was teen druktyd op ’n naaldpunt omdat aanplantin­gs sowat ses weke laat is ná die laat reën.

Die groot vraag is of die koring nog gaan herstel, sê mnr. Andries Theron, voorsitter van die SuidAfrika­anse agentskap vir kultivar- en tegnologie-ontwikkeli­ng (Sacta) en koringboer.

Hy sê besproeiin­gskoring is al vol in die aar en dit is hoe alle koring nou al moes gelyk het.

“Ons oorleef tans op bietjiesbi­etjies reën en dit is eintlik ’n absolute wonderwerk dat die koring so goed lyk. Êrens moet dit egter die oes benadeel.

“Ek het tot dusver hierdie seisoen 101 mm reën gehad en my koring lyk besonder goed as ’n mens in ag neem ons sou gewoonlik teen hierdie tyd gemiddeld 350 mm reën gehad het.

“Dit lyk pragtig en het nie wit geskroei nie. Dit maak dat baie van die boere nog optimistie­s is.”

Theron, van Moorreesbu­rg, sê met goeie reën van nou tot einde September, sonder buitengewo­ne hitte, is daar nog potensiaal vir ’n redelike oes.

“Die reënval is egter baie gebrekkig en is nou van deurslagge­wende belang. Wat my bekommer, is dat daar hierdie reusefront­e inkom, maar dan kry ’n mens net 3 mm of 5 mm reën.

“Onlangs was ’n groot front vir die Wes-Kaap voorspel, maar dan kry ’n gebied soos Malmesbury, wat ’n goeie reënvalgeb­ied is, net 3 mm tot 8 mm reën.”

Hy hoop op ’n nasionale oes van sowat 1,5 miljoen ton.

“Maar dalk verwag ek ’n wonderwerk as ’n mens in ag neem dat heelwat minder koring geplant is en verlede jaar se oes 1,85 miljoen ton was.”

Hy sê hoe verder weg ’n mens suid beweeg, hoe slegter lyk die situasie.

“Dit is die eerste keer waarvan ek weet dat die Riversdal-boeredag afgestel is omdat daar net niks is om te wys nie. Van Riversdal af en na Mosselbaai se kant toe word die probleme net groter.”

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa