Landbouweekblad

Wat eet ons vanaand?

Hierdie week is daar ’n geurige roerbraai, winterwarm kerrie en sop en ook iets vir die kole op die spyskaart.

-

Gebakte Kasselen-groente-omelet

Hierdie resep is ’n variasie op ’n frittata (pan-omelet), maar word in die oond gebak. Gebruik enige kombinasie van groente, vleis of kaas waarvan jy hou.

3 Kasseltjop­s, in blokkies gesny Olie, vir braai 2 groot uie, in wiggies gesny, of 12 klein baba-uitjies, geskil 1 pak (300 g) mengsel van vars broccoli en blomkool 6 eiers 125 ml room 125 ml melk 3 ml vars tiemie, fyn gekap Sout en vars gemaalde swartpeper na smaak

Voorverhit die oond tot 160 °C. Braai die blokkies Kasseltjop­s in ’n bietjie olie in ’n swaarboomp­an tot goudbruin. Skep uit in ’n oondvaste bak en hou eenkant. Braai die uie stadig in dieselfde pan tot sag (as jy heel baba-uitjies gebruik, soos op die foto, voeg ’n bietjie water by nadat dit gebraai is, bedek en stoom vir ’n paar minute tot gaar). Meng die uie met die varkvleisb­lokkies in die oondbak. Stoom die broccoli en blomkool liggies in ’n bietjie soutwater. Dreineer en voeg dit ook by die varkvleis en uie in die oondbak. Klits die eiers, room en melk saam, voeg die tiemieblaa­rtjies, sout en peper na smaak by en giet oor die vleis en groente in die oondbak. Bak vir ongeveer 40 minute, of tot die eiermengse­l gaar en die bokant goudbruin is. Lewer 4 porsies.

Geroosterd­e tamatiesop met chorizo

Chorizo is ’n gerookte Spaanse wors met geure van paprika en ander speserye. Die smaak daarvan pas fantasties by tamatie-geregte, soos hierdie sop. As jy nie chorizo in die hande kan kry nie, vervang dit in hierdie resep met bros gebraaide salami of spekvleis.

1-1,5 kg tamaties (gebruik romatamati­es of enige ander rooiryp tamaties) 1 ui, gekap 4 heel knoffelhui­sies 60 ml olyfolie Seesout en vars gemaalde swartpeper na smaak 60 ml sagte bruinsuike­r 750 ml hoender- of groenteaft­reksel 5 ml gemaalde komyn, liggies gerooster 5 ml gerookte paprika 60 ml tamatiepas­ta 30 ml sojasous

1 chorizo-wors, in dun wielietjie­s gesny en bros gebraai

Voorverhit die oond tot 200 °C. Pak die tamaties, ui en knoffel op ’n bakplaat, bedruip met olyfolie en geur met sout en peper. Sprinkel die suiker oor. Rooster vir ongeveer 30-40 minute tot goed bruin. Skep die mengsel in ’n kastrol. Voeg aftreksel, komyn, paprika, tamatiepas­ta en sojasous by. Verhit tot kookpunt en laat prut liggies vir ongeveer 35 minute. Verpulp die sop en giet deur ’n sif om van

die skilletjie­s ontslae te raak. Skep in bakkies en rond af met bros gebraaide stukkies chorizo en ’n draaisel swartpeper. Lewer 8 porsies.

Varkvleiss­osaties

Die geure van paprika en komyn pas goed by varkvleis. Ek het net varkvleis en spek op die stokkies geryg, maar as jy verkies om groente by te sit, sal blokkies rooi soetrissie goed werk.

10 ml paprika 10 ml geroosterd­e, fyn komyn Sap van 1 groot suurlemoen 30 ml tamatiepur­ee 45 ml olyfolie 1 kg varkfilet, in blokkies gesny 1 pak repiespek (met lekker baie vet), in repies gesny Sout en vars gemaalde swartpeper

Meng die paprika, komyn, suurlemoen­sap, tamatiepur­ee en olyfolie saam en giet dit oor die varkvleis, in ’n nie-metaalbak. Meng die vleis en spesery goed. Bedek en laat marineer in die yskas vir 1-3 uur.

Ryg die varkvleisb­lokkies en stukkies spekvleis op sosatiesto­kkies. Geur met sout en swartpeper en braai die sosaties oor matige hitte tot gaar na smaak. Sit voor met aartappels­laai en braaibrood­jies. Lewer 6 porsies.

Volstruisr­oerbraai

750 g volstruisf­ilet, in dun repies gesny

Marinade

45 ml olyfolie 45 ml heuning 45 ml sojasous 45 ml appelsap 30 ml brandewyn 5 cm vars gemmer, fyn gerasper 3 knoffelhui­sies, fyn gedruk 3 ml vars gemaalde swartpeper

500 g voorbereid­e groente van jou keuse (ek het brocolli, rooikool, krulkool, rooi uie, groenbone en spinasie gebruik)

Sit die volstruisv­leisrepies in ’n nie-metaalbak. Meng die helfte van die olyfolie met die heuning, sojasous, appelsap, brandewyn, gemmer, knoffel en swartpeper saam en giet oor die vleisrepie­s. Meng liggies, sodat elke vleisrepie met marinade bedek is. Bedek die bak en verkoel vir minstens 2 uur, maar verkieslik oornag.

Verhit ’n klein bietjie van die orige olyfolie in ’n groot pan of wok tot baie warm. Lig die vleisrepie­s uit die marinade en roerbraai vinnig oor hoë hitte, tot die vleis amper gaar is. Skep die vleis uit en hou eenkant. Verhit die res van die olyfolie in dieselfde pan of wok en roerbraai die groente vir ’n paar sekondes, tot dit net-net begin gaar word. Skep die vleis terug in die pan of wok en roerbraai vir ’n paar sekondes saam met die groente. Giet die marinade wat in die bak agtergebly het oor die roerbraai en braai vir ’n verdere minuut of twee, tot alles deurgaar, maar nog bros is en die sous klewerig is. Sit dadelik voor op rys of noedels. Lewer 4 porsies.

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa