SPEEL GOU TEEN OMVALSKADE
Identifiseer mielielande met ’n risiko van omval betyds sodat hulle eerste gestroop en verliese beperk kan word.
Mnr. Nico Barnard, landboukundige by die saadmaatskappy Pannar, sê stamvrot veroorsaak nie altyd omval by mielies nie. As besmette lande vinnig gestroop word, kan dit wel ontduik word.
Baie mieliebasters se stamwande is besonder sterk, sê hy, wat ’n beter staanvermoë aanhelp, al is die stamkern heeltemal deur stamvrot vernietig. As die mielies egter laat gestroop of die plante lank genoeg aan winterreën en/of sterk wind blootgestel word, is omval ’n wesenlike gevaar.
Met gereelde landinspeksies kan ’n probleemland vroegtydig geïdentifiseer en gestroop word om oesverliese te beperk.
Nico sê die vernietiging van die stamkern is ’n simptoom van alle stamvrotte. Dit kan maklik getoets word deur die internode tussen jou duim en wysvinger plat te druk. Die plant kan ook getoets word deur dit aan die kop vas te hou, en vir 15-25 cm in die rigting van die volgende ry te druk. As die plant tussen die kop en die wortels knak, is stamen wortelvrot gewoonlik teenwoordig.
Lande wat aan die einde van die groeityd droogte gely het, of wat met noordelike mielieblaarskroei (witroes) besmet is, is die eerste kandidate vir inspeksie en stroop.
Lande wat vroeg geplant is, of in die groeityd stremming ervaar het, toon gewoonlik tekens van omval. Gesonde plante wat genoeg voeding gekry het, bly gewoonlik staan.
Nico sê die mielieplant moet genoeg koolhidrate met fotosintese produseer om die wortel- en stamkernselle te vul en dit lewend en gesond te hou. Dit moet ook genoeg koolhidrate opberg vir die groot vraag daarna tydens graanvulling.
KOOLHIDRAAT-KANNIBALISERING
“Wanneer mielies enige stremming tydens graanvulling ervaar, word fotosintese verminder of selfs tydelik gestaak. Dit veroorsaak dat die koolhidrate wat vir graanvulling bestem is, baie afneem en nie genoeg is vir graanvulling nie.
“Mielieplante reageer hierop deur opgebergde koolhidrate aan blare, die stamkern en wortels te onttrek en na die ontwikkelende graan te vervoer. Hierdie ‘kannibalisering’ verseker voorsiening van koolhidrate aan die ontwikkelende kop ten koste van die stam, wat vroeë afsterwe van die stamkern en wortels veroorsaak.
“Sulke vroeë afsterwe veroorsaak op sy beurt swambesmetting van die wortels en stamkern. Die eerste simptome daarvan word eers gesien wanneer die plante amper fisiologies ryp is en die onderste blare skielike tekens van agteruitgang toon, soos vergeling gevolg deur afsterwing.”
Enige ander stremmingsfaktore kan ook stam- en wortelvrot veroorsaak. Dit sluit in: Die verlies of vernietiging van blare deur blaarsiektes, soos noordelike mielieblaarskroei, insekteskade, sonbrand of hael; Enige skade aan die wortels deur insekte of chemikalieë; Wanbalanse in voedingselemente, veral te veel stikstof in verhouding tot kalium; Verdigting in die grond wat wortelontwikkeling beperk, en ’n Te hoë plantdigtheid vir die kultivar of grondpotensiaal. Die meeste kultivars toon geen simptome van stam- en wortelvrot tot kort voor fisiologiese volwassenheid nie, sê Nico.
Dit is gewoonlik moeilik om te onderskei tussen die verskillende swamme wat vir ’n besmetting verantwoordelik is omdat daar gewoonlik ’n kompleks van twee of meer swamme teenwoordig is. Daarmee saam kan stronkboorderskade die simptoom vererger. In groeitye met reën in die laatherfs, soos vanjaar, kan die besmetting vererger.