Hoe om te oorleef as Duitse melkboer Met kontrakwerk, hernubare energie en toptegnologie ewenaar Heinz-Josef Kappelhoff sy boerdery-inkomste ondanks minder staatshulp en krimpende melkkwotas.
Net soos hul Suid-Afrikaanse eweknieë sukkel melkboere in Duitsland om kop bo water te hou. Moenie ’n fout maak nie: “Dis lekker om ’n boer in Duitsland te wees. Dís hoekom ek boer, maar ek moet ekstra besigheid doen om te oorleef,” sê mnr. Heinz-Josef Kappelhoff, wat reeds vir die afgelope 30 jaar ’n melkboer is.
Daarom kombineer hy sy boerdery met kontrakwerk vir ander boere en het hy sy boerdery gemeganiseer om arbeid te bespaar.
Verder wek hy elektrisiteit met sonpanele op en verkoop dit weer aan die nasionale kragverskaffer.
Sy plaas van 100 ha is naby Spelle in Neder-Sakse in die noordweste van Duitsland, net 4 km van die grens met Nederland af. Sy seun, Matthias, studeer tans landbou aan ’n universiteit en sy dogter, Dorothee, gaan ook eersdaags landbou studeer. Daarna kom albei heeltyds terug plaas toe.
Daar melk hulle 200 koeie en maak osse groot vir vleisproduksie. Die gesin teel hul eie vervangingsverse. Die osse word op stal gevoer totdat hulle twee jaar oud is. Dan word hulle aan plaaslike slagters verkoop.
Die melkkoeie is grootliks Holstein x Simmentalers en lewer gemiddeld 10 000 liter melk per jaar per koei. Die voordeel van hierdie kruising is dat die koeie swaarder is en meer geld inbring wanneer hulle aan die einde van hul produksietydperk geslag word. Dit geld ook die osse wat gevoer en op die ouderdom van twee jaar geslag word.
Volgens Eurostat is die gemiddelde opbrengs per koei in die Europese Unie (EU) bykans 6 900 liter per jaar. Die afskaffing van melkkwotas in 2015 en ’n vermindering in regeringshulp (subsidies) aan boere het daartoe gelei dat die boere van hul swakker koeie ontslae geraak het en kuddes nou méér uit hoogs produktiewe koeie bestaan. Duitsland lewer sowat 20% van al die melk in die EU.
MELKROBOTS BESPAAR ARBEID
Heinz-Josef gebruik vier melkrobots van Lely
Astronaut, wat R1,8 miljoen elk kos, om sy koeie te melk. Die koeie gaan vanself na die robot wanneer hulle die ongemak van ’n vol uier voel. Elke koei het ’n transpondeerder om die nek wat dan met die melkrobot kontak maak om individuele melksessies aan te teken.
’n Kamera bepaal die posisie van die spene en dan koppel die robot vanself ’n kloustuk aan elke speen. Terselfdertyd kry die koei dan die regte hoeveelheid kragvoer wat vooraf vir elke koei op grond van haar produksie uitgewerk word en dan aan die rekenaar voorsien word.
In Duitsland gebruik 35% van die melkboere melkrobots. Daarenteen het Suid-Afrika onlangs sy heel eerste melkrobot gekry, naamlik op die plaas van mnre. Cees en Job Legemaat van Rayton naby Pretoria.
Dorothee skerts: “Die melkrobots werk 24 uur van die dag, kla nooit nie en is op ’n Maandag op hul pos.”
Die melkkoeie is pal op stal, en om die hoë voerkoste te verlaag, plant die Kappelhoffs weiding wat afgesny, gebaal en met plastiek toegedraai word om dit deeglik te bewaar.
Hulle lewer ook kuilvoer op ’n 50-50-grondslag van mielies en gras en meng dit laag vir laag met suikerbeet, wat ’n hoë voedingskrag het. Die kuilvoer word vryelik aan die beeste verskaf.
Die boerdery gebruik nie bulle om die koeie te dek nie, maar slegs kunsmatige inseminasie (KI). Hulle koop topgehalte-bulle en tap hul saad om die koeie mee te bevrug.
Dit is duidelik dat die Kappelhoffs hul beeste goed behandel en aan so min spanning as moontlik blootstel, want hul koeie word vir ruim vyf laktasies gemelk. In sommige ander lande hou die goeie melkkoeie skaars twee tot drie laktasies voor hulle geslag word. Heinz-Josef se koeie word van die ouderdom van twee jaar af gemelk totdat hulle sowat sewe jaar oud is.
INKOMSTE UIT SONKRAG
Soos menige Europese boerdery wek die Kappelhoffs feitlik al hul elektrisiteit op die plaas met behulp van sonpanele op. Die oorskot word gedurende die dag by die nasionale kragnetwerk ingevoer, waarvoor hulle sowat 71 sent per kW kry. Hulle koop elektrisiteit aan teen sowat 12,5 sent per kW. Die Duitse
Die melkrobots werk 24 uur van die dag, kla nooit nie en is op ’n Maandag op hul pos.
Hulle het 500 boereklante, van wie 100 groot boere op gemiddeld 300 ha en die res kleinboere met so min as 2 ha is.
regering waarborg sulke hoë pryse aan die boere vir twintig jaar vandat hulle ’n sonkraginstallasie gebou het.
Daaruit blyk Heinz-Josef se erns oor groen energie, soos son- en windkrag, om sy afhanklikheid van nie-hernubare energiebronne, soos steenkool en kernkrag, te verminder. Duitsland word nie verniet die wêreld se eerste, groot, hernubare energie-ekonomie genoem nie.
Meer as 23 000 windkragopwekkers en 1,4 miljoen sonkragstelsels is reeds in die land gebou. Op 15 Mei verlede jaar het elektrisiteit van wind- en sonkrag 74% van die hele land se elektrisiteit voorsien, naamlik 562 GWh; die meeste tot nog toe.
Volgens die inligtingbron Quartz het hierdie regeringsplan sy ontstaan in 2011 gehad met die doel om meer hernubare bronne vir die verskaffing van elektrisiteit te benut en om lugbesoedeling te verminder.
Duitsland wek steeds die meeste van sy elektrisiteit met steenkool (44%), ander fossielbrandstof (11%) en kernkrag (15%) op. Die mikpunt is om kernkrag teen 2022 heeltemal uit te faseer en die vrystelling van kweekhuisgasse teen 2050 van 80-95% minder as 1990 se vlak te verlaag.
DOEN KONTRAKWERK
Ondanks Heinz-Josef se hoë stalgemiddelde kla hy dat hy nie genoeg geld met die melk verdien nie. “Sedert ek 30 jaar gelede begin boer het, het ’n derde van Duitsland se melkboere ophou melk omdat dit nie vir hulle lonend was nie,” sê hy.
Die prys styg en daal ook te veel, maar die laaste tyd is daar darem ’n redelike konstante styging. Met Landbouweekblad se besoek het hy sowat R4,80 per liter melk gekry.
Een uitweg om te kan voortbestaan, was om sy kudde te vergroot en die melkery te meganiseer omdat arbeid in die EU duur is. Hulle het toe onder meer die melkrobots geïnstalleer wat ’n groot besparing meebring. Hulle hou nou slegs een werker aan. Elke lid van die gesin werk egter baie hard.
Om sy inkomste aan te vul, doen Heinz-Josef kontrakwerk vir ander boere. “Nie almal kan hul eie volle reeks werktuie bekostig nie. Daar is dus ruimte vir kontrakteurs om die werk teen betaling vir hulle te doen. Die koste hang van die soort werk af. Die spitstyd is in die somer, wanneer ons vir sestig dae feitlik sonder ophou werk. Voor en ná hierdie spitstyd is daar ’n bietjie minder werk.”
Daarvoor het Heinz-Josef ’n volle reeks werktuie gekoop wat op ’n plaas nodig is. Dit bestaan onder meer uit hooimaaktoerusting (alles van Krone) en werktuie van verskillende maatskappye vir grondbewerking, voorbereiding van die saadbedding, planters, gewasspuite en oesmasjinerie. Dit sluit onder meer twintig trekkers, nege stropers en ses kuilvoerkerwers in.
Hy het ook twee mobiele hamermeulens wat elk 160 ton mielies of koring per uur kan maal. Die kontrakwerk verdien net soveel inkomste as die melkery en osboerdery saam.
Hulle het 500 boereklante, van wie 100 groot boere op gemiddeld 300 ha en die res kleinboere met so min as 2 ha is. Die naaste plaas waar hy kontrakwerk doen, is 500 m van sy plaas af en die verste is 100 km.
Dit gaan nie aldag maklik nie. Baie boere besluit op kort kennisgewing hulle wil iets gedoen hê en kan dan nie verstaan as die Kappelhoffs sê hulle is besig nie. “Hulle wil dit altyd dadelik gedoen hê,” sê hy laggend.
VERWYDER AFVALSTOWWE
Om van afvalstowwe, soos mis, op melkplase ontslae te raak, is ’n groot probleem in die Europese Unie; trouens, dit is melkboere se grootste uitgawe. Dit word streng deur die betrokke regerings beheer en dopgehou. Dit mag nie sommer net so op ’n hoop gelos word nie.
’n Deel van Heinz-Josef se kontrakwerk is gevolglik om die afval op melkplase te gaan haal. Die soliede materiaal (mis) word dan met ’n Massey Ferguson-werktuig van die vloeibare deel (uriene en water) geskei. Die soliede materiaal word dan met ’n Vredo 20000V-werktuig van Holland, wat R6 miljoen gekos het, in die grond toegedien. Vir die vervoer van afvalstowwe het Heinz-Josef ’n aantal vragmotors met tenks aangeskaf.
Hierdie organiese bemesting vorm ’n belangrike deel van die bemestingsprogram. Boere ontleed hul grond elke drie jaar om tekorte uit te wys sodat hulle aanvullende chemiese misstowwe kan toedien.
Die Kappelhoffs gebruik misskrapers om die mis uit die stalle te verwyder. Die skrapers word vier keer daagliks deur elektriese motore oor die vloer gesleep waar die beeste staan om kuilvoer te vreet. In die rusareas word strooi op die vloer gegooi waarop die koeie kan lê. Dit word vervang sodra dit te vuil is.
Net soos in Suid-Afrika verander die aard van boerdery in Duitsland voortdurend namate dit deur ekonomiese werklikhede gevorm word.