Ou ‘vriend’ wys nou ware kleure
Natalgras se status as pionierplant is betreklik onlangs tot onkruid verlaag. Dit gaan ’n toegewyde poging verg om dié onderskatte onkruid te beveg, veral in Wes-Kaapse wingerd.
Een van Suid-Afrika se fraaiste plantsoorte, Natalgras of Natal-rooipluim (Natal red top) met die wetenskaplike naam Melinis repens, het die afgelope paar jaar onkruidstatus in veral die Wes-Kaap aangeneem. Verspreiding van hierdie plant van padskouers en ander versteurde gebiede na veral meerjarige gewasse is deesdae besonder opvallend, onder meer in wingerd.
Natalgras is ’n kortlewende, meerjarige polgras. Dit groei tot 1 m hoog en het smal blare van 50-300 mm lank en 3-6 mm breed. Die bloeiwyse se kleur vervaag van helderpienk-pers tot silwerwit. Rangskikking van die bloeiwyse is oop en spreidend. Die aartjies is 2,5-6 mm lank en digbehaard met lang hare. Elke aartjie het twee blommetjies waarvan die kelkkaffies harig is, met die boonste kelkkaffie baie langer as die onderste een.
Blomtyd is van lente tot herfs. Saadproduksie is hoog en sade word deur wind en diere versprei. Saadontkieming vind oor ’n wye temperatuurregime plaas.
WÊRELDSTATUS AS ONKRUID
Melinis repens is die nuutste wetenskaplike naam vir hierdie grassoort, wat enkele jare gelede nog as Rhynchelytrum repens bekend gestaan het. Hoewel inheems in Suid-Afrika, word dit as ’n erg skadelike uitheemse indringerplant in verskeie subtropiese en tropiese gebiede van die wêreld beskou.
In Australië is daar byvoorbeeld ’n sterk klem op die bekamping van Natalgras, asook in Amerika en Brasilië, waar dit as skadelike indringer in gewasproduksie-, bosbou- en natuurlike stelsels bewys is.
Suid-Afrika is nie die enigste bron van hierdie wêreldreisiger nie; as oorsprong word ook dele van die Mediterreense streek, Noord-Afrika en Indië vermeld.
Redes vir die wye verspreiding daarvan in die wêreld word toegeskryf aan die nut wat mense daarvoor gevind het as weiding, versiering en vir die bekamping van erosie.
Die mens en sy tegnologie is loshande die doeltreffendste manier waarop onkruid oor die aardbol versprei word.
Hoë saadproduksie en maklike saadverspreiding deur wind en diere verklaar weer hoe onkruidverspreiding oor korter afstande (veld na land tot land, plaas tot plaas, distrik tot distrik) plaasvind.
Die naverwante gras Melinis nerviglumis word as kwekeryplant aanbeveel en bemark. Die natuurlike herkoms daarvan sluit weer eens Suid-Afrika in (Afrika suid van die Sahara en Madagaskar). Hoewel M. nerviglumis natuurlike veld verkies, en nie versteurde gebiede nie, behoort daar onderskei te kan word tussen M. nerviglumis en M. repens, want die verspreiding van albei soorte oorvleuel in ’n groot mate in al die provinsies.
M. nerviglumis is, in teenstelling met M. repens, ’n sterk meerjarige plant. Die plant se blare is gerol, blaarskedes oorvleuel en die bloeiwyse is digter as dié van laasgenoemde.
SKADELIKE EIENSKAPPE
In Suid-Afrika is daar ’n lae tot swak vlak van kennis wat betref die nadele verbonde aan swaar besmettings van Natalgras, juis omdat dit hier inheems is en minstens tot baie onlangs nog nie as ’n bedreiging in gewasproduksie beskou is nie. Van nature is Natalgras ’n pionierplant wat verkies om op versteurde grond te groei.
Gewasproduksiestelsels is die ideale habitat vir pionierplante wat geskape is om versteurde gebiede te beset en te stabiliseer in die proses van natuurlike plantopvolging; dit verklaar waarom die onkruidspektrum van die meeste gewasproduksiestelsels deur pioniersoorte oorheers word. Aangesien pionierplante van nature aangespoor word om hul lewensiklus in een jaar te voltooi, ding
hulle sterk mee om water, lig en voedingselemente, wat gevolglik die bekamping van hierdie “onkruide” noodsaak.
Dieselfde eienskappe wat van Natalgras ’n sterk mededinger met ander onkruide maak, verklaar die skadelikheid daarvan in gewasproduksiestelsels. Dit kan oorhoofs toegediende water onderskep (soos reënval en besproeiing) en dit reageer op bemesting.
Dit beteken dit ding mee met die gewas, ten minste wat water en voeding betref. Mededinging met die boerderygewas om lig sal nie ’n faktor by meerjarige gewasse wees nie. Dit kan egter plaasvind by eenjarige gewasse waar die onkruid saam met die gewas opkom en ontwikkel.
In Kalifornië is die sterk mededingende eienskappe van Natalgras ingespan om die ongewenste grassoort Cenchrus incertus ( sandbur , spiny burr weed of innocent weed) uit sitrusboorde te verdring. Laasgenoemde is veral ongewens omdat die stekelrige blomdele die vel en klere van plaaswerkers binnedring. (C. incertus is ook ’n onkruidprobleem in die Wes-Kaap wat ál groter word– sien “Roei die klits uit”, LBW, 27 Maart 2015.)
Die prys wat vir so ’n oënskynlik voordelige “uitruiling van plae” betaal word, is dat daar steeds met ’n formidabele onkruidsoort rekening gehou moet word. Hierdie werklikheid met ekonomiese implikasies moet in gedagte gehou word indien iemand in die toekoms beplan om ’n ernstige onkruid, soos
Lolium (raaigras), met Natalgras te probeer oorheers of te verplaas ter wille daarvan om van eersgenoemde ontslae te raak. Oor die voor- en nadele van só ’n praktyk behoort voor die toepassing daarvan eers deeglik met navorsing duidelikheid gekry te word.
BEHEER VAN NATALGRAS
Melinis repens, en die sinoniemnaam Rhynchelytrum repens, word op die etikette van sekere onkruiddoderprodukte as beheerbaar gelys. Daar is met ander woord onkruiddoders vir die bekamping van hierdie gras in Suid-Afrika geregistreer. Die aktiewe bestanddele (onkruiddoders) in hierdie produkte is tembotrioon, imasapir, glifosaat en glufosinaat-ammonium. By meerjarige gewasse sal slegs laasgenoemde twee onkruiddoders met veiligheid teen die gewas gebruik kan word. In Australië word die onkruiddoders fluasifop-P en glifosaat vir die bestryding van Natalgras aanbeveel.
In Australië is ’n bestuursprogram vir Natalgras uitgewerk (sien die TABEL ).
Die jaarplan van die program sal moontlik ook in die Wes-Kaap van toepassing kan wees, maar dit behoort met plaaslike kennis en ervaring bevestig te word.
Aangesien saad die enigste manier is waarop hierdie plant kan voorplant, sal enige praktyk wat saadproduksie beperk en selfs voorkom, baie doeltreffend wees om besmettings in toom te hou op vlakke wat nie vir die gewas skadelik is nie.
Dr. Charlie Reinhardt is projekleier van die Suid-Afrikaanse inisiatief vir onkruiddoderweerstand (die SAHRI-program) aan die Universiteit van Pretoria. Hy is ook dekaan van die Villa Academy, buitengewone professor in onkruidwetenskap aan die Universiteit van Pretoria, en buitengewone professor in die departement agronomie, Universiteit Stellenbosch. Navrae: E-pos: dr.charlie.
reinhardt@gmail.com; web: www.up.ac.za/ sahri ; tel. 011 396 2233.
BRONNE: Brown & Bettink, 2016. Western Australian Herbarium,DepartmentofParksandWildlife. Possley & Maschinski, 2006. Natural Areas Journal 26(4):391395. CABI se Invasive Species Compendium, 2017. Van Oudtshoorn, 2004, Gids tot grasse van Suid-Afrika, Briza Publikasies.