Plaasveiligheid: Aksieplan vir 24 uur ná aanval
Plaasveiligheid word op veelvoudige vlakke aangepak, en ’n aksieplan vir die 24 uur ná ’n aanval of rooftog — en die hofverrigtinge veel later — word soms afgeskeep.
Die reuse-impak van ’n plaasaanval is duidelik te sien in die aanval se chaotiese naloop. Basiese kennis van noodhulp, die beveiliging van die misdaadtoneel, die misdaadondersoek en die regsproses kan ’n belangrike rol speel in die pad na herstel van só ’n traumatiese gebeurtenis.
Boere moet voorsiening maak vir die volgende scenario’s ná ’n aanval of rooftog, sê genl.maj. Chris van Zyl, assistent-hoofbestuurder van die TLU SA: Skakeling met die SAPD; Noodhulp vir beseerdes; Beveiliging van die misdaadtoneel; Aktivering van die gebiedsbeveiligingsplan, wat onder meer die volg van spore, lugverkenning, voorstaandienste by padaansluitings, kruispaaie en drukpunte (brûe), en die omsien na kinders en bejaardes wat alleen en kwesbaar is, behels; Deeglike verklarings, verkieslik met kundige bystand; Hulpverlening aan naasbestaandes met die uitvoer van roetinetake op die plaaswerf; Trauma-ontlonting.
NOODNOMMERS
Mnr. Nantes Kelder, hoof van die ondersoeken-trauma-eenheid van AfriForum, sê boere moet eerstens sorg dat hulle by die plaaslike plaaswag ingeskakel is. Dit is aangesien die lede van ’n plaaswag in radioverbinding met mekaar is en ná ’n plaasaanval deurslaggewende bystand en ondersteuning kan bied.
“Plase is dikwels ver en afgeleë. Daarom is dit makliker om eers met die plaaswag te skakel, wat op sy beurt met die nooddienste, soos die polisie en ambulansdienste, sal kommunikeer. As daar nie ’n plaaswag is nie, hou jou naaste bure se nommers byderhand, en ook dié van die polisie- en ambulansdiens.”
Chris beaam dit. “Radioverbinding met lede van die plaaswag is die doeltreffendste manier om ’n noodoproep by meer as een mens uit te kry met dien verstande dat die buurman waarskynlik die naaste is en vinnig hulp kan verleen.”
Daarbenewens moet die kontakbesonderhede van die SAPD, ’n plaaslike sekerheidsdiens en die plaaslike dokter, hospitaal of ambulansdiens byderhand wees.
BELANGRIKE NOODHULPBEGINSELS
Me. Hilsje van der Vinne, ’n assessor en opgeleide ambulansnoodassistent van Dynamikos, sê mense moet weet wanneer dit raadsaam is om eerder ’n gewonde mens na die plaaslike hospitaal te neem en wanneer ’n mens iemand op die toneel moet stabiliseer totdat paramedici opdaag.
“Dit hang af van die mens se toestand en waarmee jy hom of haar vervoer. In die geval van iemand wat byvoorbeeld kardiopulmonêre resussitasie (KPR) nodig het, wat ek agterop ’n bakkie kan toepas, sal ek nie op die toneel wag nie tensy die ambulans binne 15 minute daar kan wees. Daarteenoor moet mense met nek- en rugbeserings verkieslik met die ambulans en die regte toerusting vervoer word, anders kan permanente skade, soos verlamming, veroorsaak word.
“In die geval van ernstige bloeding wat
lewensbedreigend is, en ’n ambulans wat nie gou beskikbaar gaan wees nie, sal ek private vervoer gebruik, mits daar plek is vir die pasiënt om te lê en ’n noodhelper langs hom of haar kan sit en skokbehandeling toepas.”
Noodhulpopleiding is ’n goeie belegging omdat die tyd wat dit kos vir ’n ambulans om op te daag, kan wissel – veral in die geval van verafgeleë plase. “Iemand wat nie meer asemhaal nie, het sowat vier tot ses minute voordat breinskade intree, en erge bloedverlies (soos in die geval van slagaarbloeding) kan lewensbedreigend wees. Met noodhulpopleiding word ’n mens geleer om dit te herken en te hanteer.”
Tydens ’n mediese noodgeval is dit uiters belangrik om koelkop te bly, sê Hilse. “Al wat jy vir jouself moet sê, is ‘dit wat gebeur het, kan ek nie verander nie’. Moenie al jou aandag toespits op die gebreekte been of lelike wond nie. Oppas vir tonnelvisie – kyk na die hele pasiënt (helikoptervisie).
“Wat my help as ek KPR moet toepas, is om vir myself te sê: ‘Hy lewe nie meer nie, ek kan hom dus nie doodmaak nie. Wat ek ook al doen – dit hang nie van my af of dit suksesvol gaan wees of nie, maar ten minste kry die brein suurstof.’ Met ’n noodhulpagtergrond kan ’n mens heelwat doen vir iemand wat seergekry het.”
BYSTAND VAN BURE
Bure is die naaste (dog nie altyd die beste nie) bron van hulp en/of ondersteuning. Dit sal raadsaam wees om betyds met hulle te reël vir die volgende, sê Chris: Inligting aan familie en ander naasbestaandes wat moet kennis dra in geval van ’n voorval. Name en kontaknommers moet verskaf word. Roetinetake op die werf (soos die versorging van troeteldiere) en op die res van die plaas wat aandag verg. Die “nasorg” wat bure kan verleen, veral ten opsigte van gedragsverandering wat moontlik op erge trauma by die slagoffer kan dui, verg aandag.
BEVEILIG DIE MISDAADTONEEL
Die beveiliging van die misdaadtoneel is deurslaggewend, sê Chris. “Daar moet die minimum toegang wees om te keer dat iemand met forensiese getuienis inmeng. Moet aan geen voorwerp raak, dit verskuif of verwyder nie.” Hy gee ’n paar rigtingwysers: Nadat beseerdes behandel is, moet hulle so spoedig moontlik van die misdaadtoneel verwyder word met die minimum ontwrigting op die toneel. Beweging in en uit die misdaadtoneel moet verkieslik langs ’n spesifieke roete geskied. Die toneel moet sigbaar afgebaken word en aantekeninge moet gehou word van alle mense wat die toneel betree. Waak daarteen dat mense se nuuskierigheid die oorhand kry. Stel beheerpunte op die tersaaklike toegangsroetes op, weg van die misdaadtoneel. Toegang by die beheerpunte moet streng gereguleer word. Sodra die SAPD opdaag, moet die misdaadtoneel aan die polisie oorhandig word, met ’n naamlys van mense wat toegang tot die toneel gekry het. Die tyd wat dit duur voordat die speurder en vingerafdrukdeskundige die groen lig gee en jy weer kan begin orde skep, wissel.
“Uiteraard het die geweld (en gevolge daarvan) ’n groot invloed op die ondersoek wat op die misdaadtoneel moet plaasvind. Dit word grootliks bepaal deur die forensiese getuienis wat ingesamel moet word, die aantal oortreders en die aantal slagoffers wat betrokke was, asook die ‘verspreiding’ van die slagoffers op die toneel,” sê Chris.
VERKLARINGS
Die slagoffer se verklaring (wat feitelik so korrek en volledig as moontlik opgestel moet word) is baie belangrik, sê Chris.
“Waar nodig, kan die slagoffer se regsverteenwoordiger of ’n plaaslike kundige wat die vertroue van die slagoffer geniet, bydra om seker te maak dat alle relevante feite onder die aandag van die staatsaanklaer gebring word.
“Die ondersoek is in die hande van die aangewese ondersoekbeampte, wat saam met die staatsaanklaer die nodige getuienis moet aanbied wat die beskuldigdes verbind met spesifieke dade, tye en plekke.
“Uiteraard speel die gehalte van verklarings deur slagoffers ’n belangrike rol. Dit help baie dat iemand met toepaslike ervaring en wat vaardig is met die huistaal van die slagoffers, help met die afneem en formulering van die verklarings.”
Veral die korrekte volgorde van gebeure, die identifikasie van beskuldigdes by spesifieke optredes en akkurate omskrywings in die verklaring is belangrik, sê Chris. “Slagoffers moet daarteen waak om nie sodanige verklarings af te lê ‘in ’n emosionele oomblik’ nie en daar is geen druk dat dit onmiddellik ná
die voorval gedoen moet word nie.”
Nantes beaam dit. “Dit is volgens my nie altyd wenslik om net ná die aanval ’n verklaring van ’n slagoffer te neem nie. Indien die slagoffer te getraumatiseer is, kan die polisiebeampte ook ’n verklaring aflê om ’n saak voorlopig aan te meld.”
Sekere inligting moet egter verkieslik so gou moontlik oorgedra word.
“Indien die ondersoekbeampte wil weet wat byvoorbeeld uit die kluis vermis word, is dit tog belangrik om te sê.
“Plaaswagte word gewoonlik vinnig gemobiliseer en as inhegtenisnemings vinnig gemaak word, is dit belangrik om te weet wat gesteel is om te kyk of die verdagtes dit in hul besit het. Dit help ook in die geval waar spoorsnyers op die spoor is en moontlik van die eiendom kan optel as dit langs die pad weggegooi word. Ek sal egter weer eens uitstel vra om ’n verklaring af te lê as die slagoffer te getraumatiseer is.”
DIE HOFSAAK
Mnr. Butch van Blerk, direkteur van Bill Tolken Hendrikse Ingelyf en gereelde bydraer tot die Vra vir Faffa-rubriek, verduidelik hoe ’n tipiese saak verloop. “Normaalweg sal jy ’n saak van huisbraak en aanranding met die opset om ernstig te beseer (indien niemand doodgemaak is nie) by die SAPD aanhangig maak. Die SAPD sal die saak ondersoek en die skuldiges in hegtenis neem en voor die hof bring. Indien die aangeklaagdes skuld ontken, sal jou getuienis ten opsigte van die inbraak, aanranding en die moontlike dood van ’n slagoffer benodig word.
“Indien hulle skuld erken, sal die hof hulle gevangenisstraf oplê en jy sal nie noodwendig die verrigtinge bywoon nie. Jy kan die ondersoekbeampte van die SAPD versoek dat jy ingelig wil word oor die vervolging en dat jy die hofverrigtinge wil bywoon.
“Jy kan ook die staatsaanklaer versoek dat jy getuienis lewer ter verswaring van die beskuldiges se vonnis indien die aanval met wreedaardigheid gepaardgegaan het. Die hof sal dit in ag neem by die oplegging van vonnis en waarskynlik ’n swaarder straf oplê.”
Chris sê dat die volgende faktore gebruik kan word om getuienis ter verswaring van vonnis te lewer: Die feit dat geweldsmisdaad op plase en landbouhoewes sedert 1998 as ’n nasionale prioriteitsmisdaad verklaar is. Die mate van geweld in verhouding met die ooglopende motief, veral as daar tekens van doelbewuste marteling sigbaar is. Die (gevorderde) ouderdom en gevolglike relatiewe weerloosheid van die slagoffers. Die herhaalde voorkoms van geweldsmisdaad in die gebied.
Vorige veroordelings van die beskuldigde. Die nasionaliteit van die beskuldigde (inwoners van buurstate is toenemend betrokke by aanvalle). Slagoffers moet gereeld kontak hou met die ondersoekbeampte, sê Nantes. “Die polisie word ingevolge hul handves oor die hantering van slagoffers verplig om slagoffers op die hoogte te hou van die stand van die ondersoek. Indien slagoffers nie van die begin af die saak wil bywoon nie, is dit raadsaam om iemand af te vaardig om die saak by te woon en ingelig te bly.
“Indien daar nie voldoende terugvoer is nie, kan die stasiebevelvoerder genader word, daarna die bevelvoerder van die breër gebied en dan die provinsiale kommissaris. ’n Aanklaer wat sy sout werd is, sal ’n slagoffer op die hoogte van sake hou tydens die verhoor. Indien nie, is dit die slagoffer se reg om die aanklaer te nader en navraag te doen.”
“As landsburger het jy die volkome reg om betrokke te wees by ’n strafsaak wat jou en jou gesin raak,” sê Butch. “Dis meestal waar mense nie die vrymoedigheid neem en ’n regstreekse versoek tot die ondersoekbeampte en staatsaanklaer rig om ingelig te word nie dat hulle uitgesluit voel.”
HERSTEL
Kontak kan met die plaaslike predikant gemaak word oor ’n beginpunt vir berading, sê Nantes. “AfriForum lewer tans ook ’n ondersteunende rol aan slagoffers, trauma-ontlonting
word gedoen en waar dit versoek word, word ook verklarings van slagoffers geneem. AfriForum se ondersoek-en-trauma-eenheid berei ook slagoffers voor vir die hof en staan hulle in die hof by.
“Van die lede verbonde aan die eenheid is oudpolisielede en, waar nodig, word slagoffers na sielkundiges verwys.”
Volgens Chris moet mense die volgende selfhelpwenke volg om te voorkom dat hul lewe en boerdery ná ’n traumatiese gebeurtenis ly. Behou ’n normale roetine. Gun jouself ekstra tyd vir gewone take. Skryf gedagtes en ervarings neer. Ontwikkel ’n ontspanningstegniek, bv. ’n stokperdjie. Praat met ander mense oor jou ervaring. Praat met God. Moenie pyn en/of vrees wegsteek nie. Moenie ekstra druk op jouself plaas nie. Sê nee. Vermy tydelike verligting (alkohol, medisyne, pynstillers, dwelms). Wees versigtig om oorhaastige besluite te neem. Gebruik jou vriende om te help. Benut traumaberadingsdienste.