Weiding: Kommer landwyd oor veldtoestande
Uit ’n onlangse landwye opname onder rooivleisprodusente oor hul weidingstoestande blyk dit weinig boere slaap tans rustig.
NOORD-KAAP
1 Calvinia-distrik. Weidingstoestande is benard omdat daar sedert Junie se reën, wat saamgeval het met storms in die Kaap, min of geen reën geval het nie.
Die veld het verkleur en stadig begin bot vanweë die koue en droogte, maar geen noemenswaardige kos gelewer nie.
2 In die oostelike dele van Calvinia, Brandvlei, tot by Williston en die Boesmanland het daar tot dusver vanjaar minder as 50 mm reën geval.
Abattoirs sukkel om lammers uit die distrik te kry en pryse het sowat twee weke gelede by R81/kg vir wollammers gedraai, wat op ’n groot tekort dui.
“Boere het maar die helfte van hul gemiddelde lammeroes gekry. Die lammers word ook aan die voerkrale bemark,” sê mnr. Dirk Krapohl, bedryfshoof van die Noord-Kaapse RPO.
3 Namakwaland. Ruvesel op die veld is 15% en minder in die noordoostelike dele. Veereproduksie staan op 59% en die veldbelading op 50%-60% van die weidingskapasiteit. Boere kry maar ’n opbrengs van 40% op hul weidingskapasiteit. Alle lammers en skape wat bemark word, moet eers deur ’n voerkraal gaan voordat dit reg is vir die verbruiker.
In die sentrale en suidelike dele het minder as 25% van die gemiddelde reënval vanjaar geval, en 40% van die bosse is dood. “Graan wat geplant is, is ’n totale misoes,” sê Krapohl. By 3.1 Victoria-Wes en omgewing wissel die gehalte van die weiding van redelik tot swak, by 3.2 Loxton is dit baie swak, maar by 3.3 Vosburg is dit aanvaarbaar. Toestande versleg egter vinnig in al die gebiede; vroeë lentereën is dringend nodig. 3.4 Petrusville het laas in Februarie goeie reën gehad (200 mm). In April het slegs 8 mm geval. Baie van die gras is nou droog en sonder voedingswaarde. Die koue van die winter het die veld verder verswak en koeie en kalwers begin swaar trek. Lammers moes al op 20 kg gespeen en gevoer word sodat hulle teen 30 kg na die voerkraal kon gaan waar hulle vir slag verder gevoer kan word. Veldtoestande by 3.5 Sutherland is ook swak. ’n Boer in die distrik 4 Richmond sê hy het van 26 Desember verlede jaar tot 15 Februarie vanjaar 300 mm reën gehad, maar niks sedertdien; en saam met ’n koue winter is alle bossies nou pikswart en droog. “Dit voel of ek swakker af is as laas jaar. Die vee se kondisie is mooi, maar sal van nou af hulp moet kry. Die lammers is minder as laas jaar.”
VRYSTAAT
1 Noord-Vrystaat. Die Heilbron-gebied het die meeste weiding in jare, maar die weiding is swak en diere se kondisie stem nie ooreen met die toestande van die veld nie. Veldbrande is ’n groot moontlikheid. ’n Bogemiddelde graanoes is wel afgehaal.
2 Reitz-Petrus Steyn-gebied. Grasveld lyk goed en groenvoer wat geplant is, kom kol-kol op. 3 Ladybrand-Excelsior-gebied. Toestande wissel van normaal tot middelmatig vir dié tyd van die jaar. Die gras se voedingswaarde is laag omdat dit die afgelope seisoen vinnig gegroei en baie saad gemaak het. Boere maak baie staat op mieliereste en groenvoer. 4 Oos-Vrystaat. In die Harrismith-gebied is die weiding normaal. Daar is baie oesreste op lande as gevolg van hoë opbrengste en die boere het almal weer genoeg hooibale gemaak. 5 Suid-Vrystaat. Weidingstoestande in die
Trompsburg-gebied is gemiddeld tot ondergemiddeld omdat dit slegs in Januarie en Februarie gereën het. Die groenvoer is swak vir die September-lamtyd en meer lek sal gegee moet word. Daar word nou op goeie somerreën gehoop, anders sal weer groot probleme ondervind word. Boere oorleef danksy goeie vleis- en wolpryse.
LIMPOPO
1 Thabazimbi. Geen droogtekrisis nie, maar kommer heers oor moontlike brande wat ’n weidingskrisis kan meebring. Dié gebied het in Januarie baie goeie reën gehad.
2 Alldays-Waterpoort-gebied. Die weiding is tans nog voldoende danksy ’n bietjie reën. Vooruitsigte vir die lenteensomerhangafvanhoegoudit begin reën, maar omdat kommersiële boere weens verlede jaar se droogte en gevolglike weidingstekorte reeds hul kuddes uitgedun het, sal boere waarskynlik voer aankoop om hul diere deur te trek tot dit weer begin reën, sê me. Wilma Prinsloo, bedryfsbestuurder van die RPO in Limpopo. By Waterpoort het die boere reeds begin voer. 3 Koedoesrand-gebied. Danksy goeie reën is die weiding goed, maar ander plase het geen weiding nie weens bos wat uitermatig groei. Waar boere wel ontbos het, is daar baie weiding.
GAUTENG EN NOORDWES
Volgens die Gautengse RPO is die veldtoestande “fantasties”, en in Noordwes is weiding ook in die algemeen in ’n goeie toestand.
WES-KAAP
Die 1 Weskus en 2 Sentraal-Karoo ontvang reeds sedert November 2015 voerskenkings weens rampdroogtes.
3 Die Eden-distrik het nou dringend voer nodig, asook produsente in die 4 Knysna- en
5 Riversdal-omgewing nadat wegholbrande duisende hektare weiding vernietig het. Ruvoer is al maande lank nie meer in die Wes-Kaap beskikbaar nie. Tot dusver het Agri Wes-Kaap 5 500 ton veevoer aan boere gelewer, teen ’n koste van R4 miljoen. “Dit is baie duur om voerskenkings uit die noorde na die Wes-Kaap te vervoer. Ons het finansiële bydraes dringend nodig,” sê mnr. Carl Opperman, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap.
MPUMALANGA
Volgens mnr. Hennie Laas van die RPO in Mpumalanga het die provinsie nie regtig droogte ervaar nie. “Die meeste boere benut in hierdie stadium oesreste op die lande. Wanneer die vee die weidings op die lande verlaat, het die produsente genoeg bale om die winter deur te sien,” sê hy.
Daar is egter groot kommer by die opkomende sektor waar daar weens swak weidingbestuur en die gebrek aan goeie voorligting nie voldoende voorsiening gemaak is vir voervloeiprogramme om die winter deur te gaan nie.
Verder is die hoogtepunt van die brandtyd ook nou op hande, wat “ongelooflike risiko’s” skep vir weiding en bale wat kan afbrand voor die begin van die reëntyd.
Wat vir boere gunstig is, is dat vleispryse goed is, veral omdat die aanbod van vee nou laer is.
KWAZULU-NATAL
Die meeste distrikte het voldoende water, weiding en veevoer, maar enkele distrikte wat die afgelope somer nie voldoende reën gehad het nie, ondervind tans water- en voertekorte. Gebiede wat swaar trek is van 1 Estcourt en 2 Dundee tot 3 Pongola ,waarsekere dele se produksie ver ondergemiddeld is.
OOS-KAAP
1 In die Whittlesea- en Ntabathemba-omgewing is weidingstoestande veral baie sleg, en die beeste en skape is baie maer. In dié gebiede word lammers van Mei tot einde Julie gebore en teen vroeg Augustus het van die lammmers reeds van honger gevrek.
2 Tussen die kus en die eskarp (Amatola, Winter- en Sneeuberg) kom veevrektes ook voor en voer word ten duurste aangekoop. Boere kry wel baie skenkings, maar nou is water ook besig om op te droog.
“Van die eskarp noordwaarts is weidingstoestande redelik, maar goeie vroeë lentereën is dringend nodig,” sê dr. Amie Aucamp, bestuurder van die Oos-Kaapse RPO.
3 Die Sarah Baartman-distriksmunisipaliteit is volgens dokumente in Landbouweekblad se besit van plan om die gebied tot ’n rampdroogtegebied te verklaar. Daar is egter reeds ’n aanduiding dat die provinsiale departement van water en sanitasie nie geld vir droogtehulp of onvoorsiene uitgawes het nie.