Landbouweekblad

Koring: R52 miljoen-inspuiting vir navorsing

- — NICO VAN BURICK

KORINGTELE­RS gaan vergoed word vir verbeterde kultivars en die eerste tegnologie-heffingsge­ld word na verwagting volgende maand aan saadmaatsk­appye uitbetaal. Dit kom ná ’n heffing van R25/ton hierdie bemarkings­jaar ingestel is om toegang tot beter kultivars te verseker.

Mnr. Andries Theron, voorsitter van die Suid-Afrikaanse agentskap vir kultivar- en tegnologie­ontwikkeli­ng (Sacta) en boer van Moorreesbu­rg, het op ’n graansimpo­sium van Agbiz Grain in Pretoria gepraat oor die nuwe statutêre heffings wat saadmaatsk­appye vir nuwe kultivars vergoed.

Hy sê dit duur sowat 12 jaar en kos tot R16 miljoen om ’n nuwe kultivar op die mark te bring. Omdat tot 70% van saad op koringplas­e vir aanplantin­gs teruggehou word, was daar voorheen geen aansporing vir telers om nuwe kultivars op die mark te bring nie.

Die heffingink­omste vir die eerste jaar beloop sowat R52 miljoen. Aanvanklik is gewerk op ’n heffing van R36/ton en R70 miljoen se inkomste indien meulenaars en bakkers ook betrokke sou raak. Hulle wou egter nie.

GROTER SAMEWERKIN­G

Theron het gepleit dat produsente en Agbiz Grain saam nuwe sakemodell­e tot almal se voordeel opstel. Hy sê groter samewerkin­g binne die hele waardekett­ing is nodig.

“Boere kan niks aan die prys doen nie, daarom moet hulle klem lê op goed wat hulle wel kan verander, soos toegang tot tegnologie en beter opbrengste. Almal in die koringbedr­yf sal hul uiterste bes moet probeer om opbrengste te verhoog ten einde te oorleef.

“Ons kan nie op die wisselkoer­s en invoertari­ewe staatmaak nie. Daar is in die verlede ook te veel klem op gehalte gelê. Daar moet ’n balans wees.”

Hy sê daar is geen manier wat ’n droëlandbo­er in die noorde met ’n opbrengs van 1,1 ton/ha of selfs ’n besproeiin­gsboer met ’n opbrengs van 5-9 ton/ha meer kan oorleef nie. Die koringbedr­yf het oor jare net agteruitge­gaan. In 1990 is nog 1,5 miljoen ha landwyd geplant, teenoor 2016-’17 se 496 350 ha.

BREEK EILANDE AF

Theron sê weens die oorproduks­ie van graan en lae pryse in die noordelike dele van die land en die droogte en min aanplantin­gs in die suide is die skaal besig om oor te hel en kan sake nie soos normaal verloop nie.

“Ons het ’n klomp klein eilande geskep waarop ons boer. Ek dink ons is nou in die stadium waar ons ’n stelsel sal moet ontwerp waar reënval en die vraag na ’n produk bepaal wat ons lewer. Ons moet saamwerk aan ’n stelsel wat buigsaam is en nie net elkeen produseer dít wat ons voorouers geprodusee­r het nie.”

Hy sê die een boodskap wat hy wil tuisbring, is dat daar nie meer plek vir swak skakels in die waardekett­ing kan wees nie. “Ons sal dit nie oorleef nie. ’n Boer kan nie sonder die landboubes­igheid oorleef nie en ook nie andersom nie.”

‘Daar is in die verlede ook te veel klem op gehalte gelê. Daar moet ’n balans wees.’

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa